BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

GRENSE VAN DIE EWIGHEID

- die dood is beslis nie die einde van als nie!

[Hierdie is volgens my beskeie opinie 'n merkwaardig egte  en nugtere ervaring van die grense van die ewigheid. Lees self en besluit self oor die egtheid daarvan. Daar is 'n reuse verskil tussen ds. de Kock se egte eerlike belewenis en die baie "nadoodse ervarings" wat deesdae ter wille van sensasie en geldelike gewin opgedis word. Natuurlik is niemand se ervarings die maatstaf vir ons geloof nie en moet als aan die Skrif alleen getoets word. Wat wel duidelik is, en wat die Woord leer : God lewe, Hy ken ons gedagtes, gebed maak 'n verskil, daar is inderdaad 'n hemel en 'n hel!! - TJ de Koning]

VOORWOORD

Deur Ds. M.J. de Kock, B.A., H.O.D., B.Ed., V.D.M., interm Orrel diploma.

Dit is vir my ‘n besonder groot voorreg om hierdie voorwoord tot hierdie uitgawe te kan skrywe.  Hier in die begin wens ek u reeds mee te deel dat as die Here my vader nie weer gesond gemaak het nie, ek nie hierdie woorde aan u sou kon rig nie, want ek is die eerste seun wat ook sy naam dra wat na die herstel van sy siekte gebore is.  In der waarheid het die Here Sy verbond bewaarheid deur hom genesing te  skenk.   Die bitter waters van Mara het soet water geword, toe die Here gesê het aan Sy volk:  “Ek is die HERE wat jou gesond maak.” (Ef. 15:26)

Deur die gelowige gebede van my moeder en ander kinders van die Here het GOD my dierbare vader weer uit die dood teruggeroep en hierdie bovermelde woorde van die Here is weereens bevestig.  Moses het die stuk hout op die bitter water gegooi en dit het soet geword.  Die kinders van die Here het hom sy gesondheid teruggegee.  Wat ‘n wonderlike God dien ons nie?  Hy is inderdaad die GOD van wonderwerke.  Eks. 34:10:  “Kyk Ek sluit ‘n verbond voor jou hele volk sal Ek wonders doen soos daar op die hele aarde en onder al die nasies nie geskape is nie....”.

My innigste bede is dat hierdie ondervindinge van my vader vele tot besinning sal roep om te besef dat die Woord van GOD die waarheid is en dat geeneen van ons die reg het om by die Woord van GOD weg te neem of by te voeg nie.  Ek haal aan Deut. 4:2:  “Julle mag by die woord wat Ek julle beveel niks byvoeg nie, en julle mag daar niks van weglaat nie.”  Aanvullend hierby vind ons die derde laaste teksvers in die Skrif Open. 22:19: “En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie professie wegneem, dan sal GOD sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is.”


 HOOFSTUK 1

DIE TWEELEDIGE NATUUR VAN DIE MENS.

Gedurende die jaar 1919 het ek en my gesin te Port Elizabeth gaan vakansie hou, om liggaamskragte na ‘n aanval van griep te herwin.  Terwyl ons te Port Elizabeth uitgerus het, het ek die slagoffer van maagkoors geword.  Geneeshere het my ondersoek en ook gevind en verklaar dat ek maltakoors onder lede gehad het.  Die bevinding van die geneeshere nadat hulle my bloed in die Provinsiale hospitaal te Port Elizabeth ondersoek het, was soos volg:  Maltakoors positief en tifuskoors negatief.  Die een geneesheer het verklaar dat ek drie dae in die hospitaal sou bly.  My verblyf in die hospitaal het egter nie drie dae geduur nie, maar wel drie maande.  Op die 10de November 1919 is ek tot die hospitaal toegelaat en op die 11de Februarie 1920 is ek weer daaruit ontslaan – swak, maar weer op pad na gesondheid.  Dit het egter geduur tot Oktober 1920 voordat ek weer my werksaamhede in my gemeente te Fouriesburg kon hervat.

In die hospitaal was ek eers saam met vyf ander persone in ‘n semi privaatkamer geplaas.  Ek kan onthou dat ek Maandag daar ingekom het en gedurende dieselfde week, op  Donderdag het ek  gevoel dat die dood aan die nader was.  Ek het my eggenote geroep om voor my bed te kom sit en haar toe meegedeel dat ek gevoel het dat ek moes heengaan.  Ek het haar die laaste raadgewings omtrent die opvoeding van my twee kinders, Joey en Servaas, gegee.
Daardie selfde nag was ek rasend van maltakoors, wat ek in die ergste graad opgedoen het.  Alhoewel my brein verward was, kan ek veel van hierdie tydperk onthou.  Ek het gesien en ervaar dat my bed in ‘n vertikale posisie was.  Die Bantoe wat die vloere gevryf het, het my sy voete na bo, en sy kop na onder geloop.  Ek het onder die waan verkeer dat ek as gevangene opgesluit was en dat my gemeente na my gesoek het.  Ek wou uit my bed spring, maar kan nog goed onthou dat ek moes teruggehou word deur die verpleegsters en ‘n paar van die mans.  Ek kan ook nog in my herinnering terugroep hoedat ek een van die pasiënte ‘n geweldige vuisslag toegedien het.  Ek het ook gedink dat alles aan my behoort en dat die ander pasiënte daarop uit was om dit vir my ongerieflik te maak.

In die verwarde toestand van my brein het ek ‘n toespraak oor “thought” in Engels gelewer.  Ek kan nie onthou wat ek gesê het nie, maar my eggenote het my meegedeel dat dit wonderlik was om te verneem, wat ek oor hierdie onderwerp te sê gehad het.  Dit was asof ek die werking van die gedagte duidelik kon sien en ek het dit beskryf as “shock”, “impetus forward” en “full realization”.  Ek noem hierdie gebeurtenisse om te bewys dat daar ‘n tyd in my krankheid was, waarin ek soos alle koorsagtiges was.  Ek het geyl en ervarings deurgegaan wat ek wil vergeet.  Hierdie toestand is bekend by diegene wat soortgelyke ervarings deurgemaak het.

Daar het egter ‘n einde aan hierdie geweldige koorsagtige toestand gekom.  Wat die liggaamlike oorsake was wat daartoe gelei het, weet ek nie, maar dit was asof daar bloeddrade voor my oë gekom het, moontlik as gevolg van bloedstorting op die harsings.

Dit het my voorgekom, asof ek in die diepte weggesink het, eenmaal selfs ook in die diepte van die see, om deur ‘n sterk stroom weggevoer te word.  As gevolg van hierdie hewige koorsagtige toestand het my liggaamskragte so agteruitgegaan dat dit in ‘n dodelike swakheid ontwikkel het. 

My liggaam het feitlik so tot niet gegaan, dat selfs my bene feitlik aan die ontbinding oorgelaat was.   Geeneen van die geneeshere wat my ondersoek het, het enigsins enige hoop op my herstel gehad nie.  My eie broer, wat geneesheer te Rosettenville, Johannesburg was, het beweer dat dit beter sou wees dat ek sterf, want my orige bestaan op aarde sou maar sukkelend en treurig verloop.  Dit kon moontlik gebeur dat ek nooit weer op ‘n normale wyse sou kon dink of werk nie.

Hierdie toedrag van omstandighede deel ek graag aan u mee, sodat u kan waarneem dat daar ‘n onderskeid is tussen die verwarde koorsagtige toestand waarin ek verkeer het en die later ondervinding wat ek opgedoen het, toe ek op die grense van die ewigheid verkeer het.  Hier het ek tussen lewe en dood gehunker.  My laaste lewensdraad moes nog net geknip word.  Namate my liggaamskragte afgeneem het, het die werklike geestelike mens op die voorgrond getree.  Daar het ‘n skeiding tussen my gees en liggaam plaasgevind.  Soos die Woord van GOD dit verduidelik in 1 Kor.15:44 word ‘n geestelike liggaam opgewek, nadat die natuurlike liggaam gesaai is.  Dit was asof my gees homself uit my liggaam probeer verwyder het, maar tog het dit nie heeltemal van my liggaam geskei nie.

Dit het vir my baie duidelik geword dat ek as mens eintlik tweeledig is, naamlik, die natuurlike mens wat die aardse liggaam is en die geestelike mens wat nie die aardse liggaam is nie.  Terwyl my liggaam in puin gesink het, het my geestelike persoonlikheid meer en meer vry geword van die bande van tyd en ruimte.


HOOFSTUK 2

DIE GEESTELIKE PERSOONLIKHEID

Terwyl ek hulpeloos en uitgeput op my bed in die hospitaal gelê het en my geestelike persoonlikheid besig was om my swak liggaam te verlaat, het ek tot my verbasing in aanraking met die geestelike persoonlikhede van ander mense, wat nog lewend op die aarde was, gekom.  Ek het nie alleen gehoor wat die geneeshere en verpleegsters van my gesê het nie, maar ek kon ook hulle gedagtes waarneem.  My gees was so helder en byna verlos van die liggaam dat ek duidelik kon hoor wat my gemeentelede van my gesê het.  Toe daar ‘n gemeente vergadering gehou was het ek verneem dat die vergadering gehou was om planne te beraam om my tydens my ernstige ongesteldheid te hulp te kom.  Duidelik het bekende stemme van diegene wat daar gepraat het tot my geestelike gemoed  deurgedring.  Toe ek weer besig was om te herstel, het ek hierdie gewaarwordinge aan my eggenote meegedeel en sy was stom van verbasing om te verneem dat ek daarvan weet, dat op die vergadering besluit is om twee lede van die gemeente af te vaardig om my te kom sien en ondersoek in te stel na my en my huisgesin se omstandighede.  Die geestelike oor van my geestelike persoonlikheid is dus tot meer in staat as my vleeslike oor.

Ek het ook gesien en gehoor hoedat die landdros te Fouriesburg met sy klerk oor ‘n fout praat, wat ek met die invul van my belastingopgawe gemaak het.  Selfs die bedrag wat hy aangewys en oor met sy klerk gepraat het, kon ek duidelik verneem.  Toe ek beter geword het en my eggenote daarna gevra het, kon sy nie verstaan hoe ek daarvan geweet het nie.  Sy het my toe meegedeel dat daar ‘n brief van die landdros van Fouriesburg in verband met die aangeleentheid gekom het, waarin gevra word dat die fout reggemaak moet word.

Tydens my  afwesigheid van die gemeente te Fouriesburg, het die kerkraad die dienste van ‘n tydelike geestelike werker bekom.  Ek het hom gesien praat met ‘n paar van die kerkraadslede.  Ek het gehoor hoe hy hulle vra waar die vorms vir lidmaatsertifikate was.   Een van die kerkraadslede het gesê dat dit in die muurkas van die pastorie opgesluit was en aangesien hulle nie die sleutel in die hande kon kry nie, het hy daarop aangedring dat die muurkas oopgeskop moet word.   Hierna het hierdie geestelike werker die kerkraadslid ernstig berispe en gewaarsku dat hy nie so onverskillig moet wees nie.  ‘n Kort tydjie na my herstel het ek hierdie geestelike werker ontmoet en hom meegedeel wat ek tydens my ongesteldheid gewaar het.  Hierdie man was oorstelp van opgewondenheid en verbasing toe ek hom hierdie voorval in die fynste besonderhede meegedeel het, want hy het dit ten volle bevestig dat alles netso plaasgevind het, soos ek dit gesien en gehoor het.

Toe my oudste suster Hettie die tyding van my ellendige toestand ontvang het, was sy baie oor my privaatsake begaan, omdat sy en ek baie innig aanmekaar verbind is.  Ek het haar gesien hoe sy na my studeerkamer gaan om al my private rekenings na te gaan want sy en my moeder het destyds naby die pastorie gewoon.  Ek het gesien hoe sy die voldane rekenings ondersoek en dit in ‘n netjiese tydsvolgorde plaas.  Selfs die bedrae van die verskillende rekenings was vir my duidelike waarneembaar.  Hieroor het ek met niemand gepraat nie.  Toe ek egter weer tuis was, het ek na my studeerkamer gegaan en alles daar gevind soos ek dit in my gees in die hospitaal ervaar het.  My suster het dit aan my bevestig dat sy onder omstandighede tot hierdie optrede genoodsaak was.

Toe my gees besig was om my liggaam te verlaat hier op die rand van die ewigheid, het twee moeders van my gemeente die tyd met die ewigheid verwissel.  Ek kon sien hoedat die dood nader terwyl hulle op hulle sterfbeddens lê.  Duidelik sigbaar was die kinders en familiebetrekkings wat geween het rondom die sterfbeddens van hierdie twee moeders, toe hulle die laaste asem uitgeblaas het.  Netsoos die vorige gevalle het ek hierdie kennis wat die Here aan my gegee het, aan my eggenote in die proses van my herstel meegedeel.

Al hierdie mededelinge was vir my eggenote feitlik ongelooflik, maar sy moes dit maar net eenvoudig aanvaar, omdat nadat my gees weer ten volle na my liggaam teruggekeer het, ek vir ‘n tyd land geen verbinding met die buitewêreld gehad het nie.  Selfs in die hospitaal was ek ook onbekwaam om enige gedagtes met iemand te wissel.

Berigte wat omtrent my siekte in kerk en dagblaaie verskyn het, kon ek duidelik sien.  Alles het voor my geestesoog ontrol.  Die klanke van die wêreld kon my liggaamlike oor nie meer hoor nie.  Met die geestelike oor kon ek beter hoor as wat ek met die liggaamlike oor ooit kon doen.  Ek het gesien en gehoor hoe Ds. Louw een van ons welbekende evangeliedienaars bid.  Hy het soos volg die naam van die Here aangeroep:  “Ag hoe soet en salig is dit ‘n weinig te ruste in de schaduw van U teenwoordigheid Heer.”  Die vraag het by my ontstaan of hierdie leraar dan ook oorlede is, want op die tydstip was ek onder die indruk dat ek self oorlede was.  Ek het egter die volgende antwoord van die Here ontvang:  “Nee hy is nie dood nie, maar sy gees leef by die Here.”  Hierdie ontmoeting was nie vir my verklaarbaar nie.  Later toe ek veel beter was en normaalweg kort gedeeltes kon lees, het iemand vir my Die Kerkbode gegee.

 Een van die eerste berigte wat ek gesien het, was oor die heengaan van die eggenote van Ds. Louw.  Dit het toe vir my duidelik geword waarom ons in die gees ontmoet het.  My gees was reeds in so ‘n mate vry van my liggaam dat ek in my gees in staat was om die woorde en gedagtes van sy gebed waar te neem al was ons ver van mekaar verwyder.

Die gedagte en gesprekke van ander mense, hoever hulle ook al van my verwyder was, kon ek duidelik hoor en ek kon selfs weet wat hulle gesindheid teenoor my is, soos Kol. 2:1 dit uitdruk “Want al is ek ook na die vlees afwesig, is ek by julle in die gees.”  Namate my liggaamskragte afgeneem het en my siel besig was om my liggaam te verlaat, het ek kennis gemaak met ‘n ander geestestoestand naamlik die toestand van introspeksie.


HOOFSTUK 3

DIE  TOESTAND VAN INSTROSPEKSIE

Heeltemal vreemde gewaarwordinge het my nou te beurt geval.  Dit het my voorgekom asof ek in ‘n spierwit kamer opgesluit was – alles was so wit soos sneeu.  Hierdie ondervindinge was so wonderlik, dat ek dit nie in woorde kan beskrywe nie.  Wat baie merkwaardig was, is dat ek nie my selfbewussyn verloor het nie en nog altyd geweet het wie ek was.  Nou het ek gesien wat die oorspronklike reinheid van die siel, soos dit voor die sondeval was, is.  Hoe lank hierdie toestand aangehou het, weet ek nie, maar dit het by my gebly en is nog so duidelik soos die tyd toe ek dit ervaar het.  My liggaamlike sintuie was na buite gesluit, terwyl my geestelike sintuie na binne oopgemaak was, met ander woorde ek was in staat om deur my gees ondersoek in te stel by wyse van introspeksie.

Die Here het my ‘n geestelike gesig van die brein van die mense gegee.  Ek het nie net alleen gesien hoedat die brein werk nie, maar ook hoedat indrukke bewaar word.  By elke indruk van buite het dit gelyk asof daar ‘n fyn stof afgeskei word.  Alles wat die mens ervaar word deur die brein bewaar en niks gaan ooit verlore in die brein van die mens nie.  Op ‘n wonderlike wyse is my gedagtes weer voor my gees geroep vanaf die beginjare van my lewe tot en met die tyd van hierdie ondervindings wat ek opgedoen het.

Dit het my voorgekom asof klein rolletjies, met ‘n baie klein skrif daarop, afgerol was.  Op hierdie rolletjies het al my gedagtes geskrywe gestaan.  Dit was asof my hele denkwyse weer voor my geestesoog geopen was.  Alle gedagtes wat ek ooit gedink  het, is weer voor my ontvou, en ek het geweet dat dit my gedagtes was.  Geen enkel gedagte gaan ooit verlore nie, want alles word suiwer en noukeurig in die brein bewaar, selfs ook die gedagtes wat ons vergeet het.  Al ons woorde wat ons gesê het, word ook in die brein bewaar.  Alles wat ek gesê het, kon ek duidelik weer oor   - alles is weer juis weergegee.  Ek kon my kinderstemmetjie, wat die gebedjie aan die knieë van my moeder gelispel het, weer hoor, asook het ek my stem in die geselskap van my maats binne en buite die skool weer gehoor.  Geen enkel woord gaan ooit verlore nie – woorde van liefde, woorde van haat, woorde van waarheid, leuentaal, goeie en slegte woorde het ek alles weer verneem.  Ons moet baie versigtig wees watter taal oor ons lippe gaan, want dit word nie in die lug opgelos nie om nooit weer gevind te word nie.  Ons woorde sal ons weer vind en sal die aangesig van vreugde laat blink, of die hart laat krimp as gevolg van ‘n aandoening van bittere smart en skande.

Vir my was hierdie ‘n diep rustige ondervinding dat in die gedenkboek van ons lewe die brein nie alleen ons gedagtes, maar ook ons woorde en dade bewaar word.  Die dade van die mens word volgens die verskillende lewenstonele waarin ons ons bevind bewaar.  Dit is net soos ‘n panorama of bioskoop.  Die hele lewe bestaan uit sulke lewenstonele waarin die persoon aan wie die brein behoort die hoofrol speel.  So was dit ook aan my voorgestel waar ek alleen was, waar ek met my huisgenote verkeer het, in die klaskamer, in die kerk, op die kansel, op speel gronde en in die konsertsaal.  Aan my is weer alles duidelik getoon wat ek in die verskillende en besondere omstandighede gedoen het.  Daar was tonele waaroor ek verheug was, maar ook tonele waaroor ek my diep geskaam het.

Wat vir my ook baie duidelik geword het was dat selfs ons innigste dryfvere eendag geopenbaar sal word.  Dan sal ons, ons handelswyse nie aan die omstandighede van die lewe of as gevolg van die gedrag van ons medemense kan toeskrywe nie.  Die verborge dinge van die duisternis sal soos die Woord van GOD dit uiteensit aan die lig gebring word.  Baie maal het jong mense wat dit ernstig met die saligheid van hulle onsterflike siele bedoel het, aan my gevra maar waarom word al ons gedagtes, ons woorde en ons dade weer aan ons geopenbaar?  Word ons dan nie gereinig en geheilig deur die bloed van Christus nie?  My antwoord hierop is dat dit vir die gelowiges wel nodig is om te sien van hoe ‘n groot sondeskuld die Here hulle verlos het.  So ook is dit vir diegene wat verlore gaan ook nodig om hulle gedagtes, woorde en dade weer te ervaar, aangesien hulle onversoende sonde weer aan hulle getoon moet word.
Die hele lewe word as ‘n getuienis, van voor af teen die mens geopenbaar.  Ek het telkens onder die besef gekom dat dryfvere tot goed of kwaad, nie in die mens self geleë is nie, maar dat invloede van buite, al ons gedagtes, woorde en dade beheer:  dit is òf die Gees van die Here òf die gees van die Bose.  Daarom is ons worstelstryd nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen wêreldheersers van die duisternis, teen die bose geeste in die lug.

 HOOFSTUK 4

OP DIE GRENSE VAN DIE EWIGHEID

Intussen het my liggaam gedurig en gewis agteruit gegaan.  Later is aan my vertel dat die verpleegsters alreeds voorbereidsels vir my heengaan getref het.  Warmwater bottels was reeds om my vir die laaste rillinge van die dood gepak.  Waar ek eers af en toe nog ‘n bietjie melk kon geniet het, kon ek op hierdie tydstip feitlik niks meer geniet nie, omdat ek besig was om te sterf, met ander woorde ek was feitlik op weg na die ewigheid.

Ek kon my eie liggaam op die bedjie in die hospitaal sien lê,  wat alreeds gedeeltelik ‘n prooi van die dood geword het.  Dit was vir my ‘n sonderlinge ondervinding dat my siel toe reeds die grense van die ewigheid bereik het.  Dit het vir my geblyk dat alles in die weegskaal gelê was, dit was ‘n balanseer tussen lewe en dood.  Die ondervindings wat ek hierna opgedoen het, was dan ook van ‘n ander en dieper aard.  Ek is ook daarvan oortuig dat die mens nie mag deurdring tot die dinge wat buite die bestek van die geopenbaarde waarheid van GOD bestaan nie.  Die Woord van GOD bevat vir ons alles wat ons nodig het vir die lewensreël hier op aarde en GOD se Woord leer vir ons genoeg van wat op ons na die dood wag.

Ek het nie na die ondervinding wat nou sal volg gesoek nie.  As die gees van die liggaam skei, keer die liggaam terug na die stof, waaruit dit gemaak is.  Die gees keer terug na die toestand waarvan dit bestem is.

Geestelike indrukke het vir my al duideliker geword.  Die aarde en al wat aards is het al meer en meer vervaag.  Wat ek u nou gaan meedeel sal moontlik vir meer as een baie vreemd klink, veral vir die mens met sy beperkte stoflike sintuie, wat net feitlik die materiële kan waarneem.  Vir my gees wat so te sê weg van my liggaam was, was dit hoegenaamd nie vreemd nie, maar doodnatuurlik.

Eers het ek klanke met my geestelike oor gehoor wat nie van hierdie wêreld was nie.  ‘n Aantal van hierdie algemene uitdrukkings het my steeds bygebly.  Ek hoor die vraag – Wat is ‘n predikant?  Die antwoord weerklink helder:  “’n Kaptein in die leer van Jehovah.”  Dan weer het ek die volgende uitdrukking gehoor:  “Hell is Heaven’s dumping ground.”  Later toe aan my ‘n gesig van die verderf gegee is, kon ek duidelik die waarheid van bogenoemde uitdrukking begryp.  ‘n Ander uitdrukking wat ek duidelik gehoor het was:  “Satan is the scavenger of Heaven.”  ‘n Ander uitdrukking duidelik aan my weergegee was “the elements of Heaven and Hell are identical, only mixed in different proportion.”  Dit was vir my heeltemal verklaarbaar dat die uitdrukkings deur my in die Engelse taal verneem is, aangesien ek my wetenskaplike opleiding deur middel van Engels ontvang het.

Vir my was dit voorwaar ‘n vreemde ondervinding om nie alleen algemene uitdrukkings te hoor van persone wat nog gelewe het nie;  maar ook die stemme van persone, wie reeds heengegaan het, het ek gehoor.  Ek kon die stemme van my grootvader en grootmoeder, vir wie ek op aarde nooit gesien het nie, hoor.  Alles was vir my uiters natuurlik, asof almal die wat oorlede was baie belang in my gestel het.

Vir my het dit baie duidelik geword dat diegene wat alreeds die geluksaligheid beërf het, wel belangstelling toon in diegene wat hulleself nog op aarde bevind.

Daar op die grense van die ewigheid het die ewige al nader na my siel gekom en my siel al nader na die ewige.  Dit was vir my ‘n voortreflike en heerlike ondervinding


HOOFSTUK 5

DIE DAL VAN DIE DOODSKADUWEE

Ek gee u die versekering dar daar wel so ‘n dal is waar die siel moet deurgaan om sy ewige bestemming te bereik.  Die Here sal die siel wat gereed is veilig daardeur lei soos dit in Psalm 23:4 bevestig word:  “Al gaan ek ook in ‘n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie.”  Ek het ervaar dat hierdie wel ‘n dal is wat donker is, ‘n dal van skaduwees, waar die een skaduwee dieper en donkerder as die ander is.   Hoe sal ek ooit die volle besonderhede kan beskryf wat my daar te beurt geval het.  die bose het al sy lis in werking gestel om myself van die Here af weg te trek.  Die Satan het uit die diepte al sy verskriklike gedrogte te voorskyn geroep, onbeskryflike monster wat daarop uit was, om my met angs en skrik te vervul, met hulle vreeslike geluide en stemme wat ek gehoor het.

Hierdie ervarings is baie duidelik en helder op my gemoed afgedruk.  Ook die volgende van die doodsengel, wat met die geritsel van sy vlerke my kamer binnegekom het, bevele afgewag het solank as my lewe in die weegskaal gehang het.  Die doodsengel het langs my sterfbed gewag, maar het eers weer vertrek toe ek na die aardse lewe begin terugkeer het.

Die Satan het homself as ‘n vors, geklee in wapenrusting van kop toe voet, voorgedoen.  Met ‘n aaklige demoniese stem het die Satan aan my die vraag gestel:  “Is jy dan nie bang vir my nie?  Ek is ‘n vors.”  Daarop het ek alhoewel swak en geteister, geantwoord:  “Ja, jy is ‘n vors van die duisternis, maar nie vors van die lig nie.”  Die duiwel is pikswart, en sy bestaan is net so ‘n werklikheid as die bestaan van GOD self.  Al wat sonde is kom van die Satan.  Hy, die satan is die oorsprong en die aanhitser en aanblaser van alle sonde.

Hier in die dal van die doodskaduwee het my gees afgemat geraak in die stryd teen die bose.  Die bose het met elke lis en bedreiging gekom om my arme siel aan te val.  Hy het getrag om my tot wanhoop te lei, deur die grootheid van my sondeskuld vir my aan te toon.  Hy het my probeer wysmaak dat alle sonde onvergeeflik is.  Derhalwe kan daar geen vergifnis vir enige sonde wees nie.  So het hy ook my arme verwarde siel met vertwyfelinge probeer verontrus, om deur gruwelike leuenagtigheid my te probeer beïnvloed, dat my persoonlike aangeleenthede nie in orde was nie, asook dat my eie familie en gemeente teen my gekant was.  Die Satan is die vader van die leuen, wat die regverdige haat.

Die Satan het vir my vertel dat die gemeente te Fouriesburg van my ontslae wou raak alhoewel die teenoorgestelde hiervan eintlik die werklike waarheid was.  My gemeente was inteendeel met die innigste belangstelling en kommer teenoor my vervul en was juis besig om voor te berei om my geldelik tot hulp te kom.  Die gemeente het die werklike belangstelling getoon, deur twee kerkraadslede af te vaardig om my te kom besoek toe ek later beter was.

Ek is oortuig daarvan dat ons te min die mag van bose in ag neem, want dis ‘n mag waarmee ons terdeë rekening moet hou.  Die Satan is ‘n listige vyand, wat die fynste bedrog aanwend om die siel te onthuts en onrustig te maak.  So het hy keer op keer teenoor my opgemerk dat ek ‘n predikant is wat op my rug lê en my gemeente verwaarloos, vet is en net gedurig eet, terwyl ek byna niks kon geniet nie en feitlik net ‘n geraamte was.
Die duiwel het aan my getoon dat hy ‘n spotter by uitnemendheid is, soos blyk uit die volgende wat hy aan my gesê het:  “Kyk hoe naar en aaklig lyk jy, waarom maak jy nie ‘n einde aan die ellende nie?  Kyk net, hier lê die predikant op die naat van sy rug en bid, en is dit nou die houding wat hy voor sy GOD moet inneem.”  Hierdie woorde het my baie verontrus, totdat ek die soete stem van een van my ontslape teologiese professore gehoor het wat sê:  “Michiel, kniel maar voor uw GOD in de geest.”

Hierna het my siel tot rus en kalmte gekom.  Ek het ook aangeneem dat die Duiwel ‘n verskriklike lasteraar is.  Hy laster teen die Heilige Gees en al die vloekwoorde wat al ooit op die aarde gehoor is, kom gedurig oor sy lippe.  Die Satan is ook ‘n uitnemende nabootser, wat alles so volmaak en netjies naboots dat hy uitstekend daartoe in staat is om arme siele verkeerd te dwing en te verlei.  So boots hy die stem van die mens na, sodat die siel nie agterkom dat dit in werklikheid die stem van die Satan is nie.  Maar ook is hy ‘n groot lafaard.  Alhoewel  hy steeds die mens bedrieg en trag dat die siel tot ‘n val moet kom, is hy ‘n oorwonne vyand.  Vir argumente vlug hy nie, en verlustig hom daarin om met die mens te redeneer.  Slegs as hy die naam van die Here Jesus hoor, dan vlug hy.

Dit was dan ook my ondervinding dat my siel alleen veiligheid in Jesus Christus kon ondervind.  Terwyl  ek moeg en afgemat was as gevolg van die aanvalle van die Satan en sy handlangers in die dal van die skaduwee van die dood, het ek na die Here om uitredding en verlossing gesug.  Hierna het vyf engele blinkend, in wit geklee, by my verbygekom en een van hulle het die volgende woorde tot my gerig:  “Vrees nie, want hy (satan) kan die gesalfde van die Here nie aanraak nie.”  Hierna het daar groot stilte en rus in my swaarbeproefde siel gekom en die donkerheid van die skaduwees van die dood het van my gewyk.


HOOFSTUK 6

DIE TWEE WEË

Die  dal van die skaduwee van die dood was verskriklik donker, maar dit was nog nie die donkerheid van die dood self nie.  Die dood lei of na die Ewige Dood of na die Ewige Lewe.  Die Ewige Dood is vir die siel wat sonder Christus Jesus die dood binnegaan, bestem, maar die Ewige Lig breek vir hierdie siel nooit aan nie.

Daar op die grense van die ewigheid kon ek sien hoedat die Ewige Dood van diepte tot diepte lei, asook van donkerheid tot donkerheid, van ellende tot ellende altyd weg van GOD tot in die buitenste duisternis.

Nie alleen het ek ‘n gesig gehad van die weg na die Ewige Dood nie, maar ook van die weg na die Ewige Lewe.  Hierdie weg gaan deur die dal van doodskaduwee, maar die lig breek stadig aan, en dit word al ligter en ligter en al heerliker en heerliker tot die  teenwoordigheid van Christus self en nog hoër op van heerlikheid tot heerlikheid tot voor die troon van GOD self.

Die oordeel van GOD is oor die ganse aarde, maar dit is waaragtig en regverdig.  Die oordeel van GOD is baie suiwer en deurtastend.  Tot in die fynste besonderhede word die mens ondersoek voordat die oordeel plaasvind.  Die mens redeneer en probeer onder alle omstandighede om ‘n uitweg toe soek, maar hoe meer hy probeer om sy onskuld te bewys, hoe skuldiger word hy.  Alles wat ek van die oordeel ondervind het, was ‘n bevestiging van die Woord van GOD, want as iemand die Here verwerp en Sy woorde nie aanneem nie, sal dit hom oordeel in die laaste dag.

Al ons gedagtes, woorde en dade word nie alleen opgeteken in ons brein nie, maar ook in die Gedenkboek van GOD, dit is in die Boek van die Lewe van die Lam.  Die name van verlostes word ook in hierdie boek opgeteken, maar meer as een se naam was nie daar te vind nie en sal nie daar gevind word nie.  Alles is op ‘n natuurlike en eenvoudige wyse opgeteken.  In hierdie boek word die geslagsregister van die natuurlike geboorte van die mense kinders gevind, maar daar is egter ook die geslagsregister van die wat in die Ryk van GOD se genade gebore is.

Dit is treffend om te weet dat die mense deur sy eie gewete geoordeel word.  Alles wat ons vergeet het, word weer helder  voor die gees deur ons gewete gebring.  As die gewete spreek, dan moet ons swyg, want die gewete praat helder en beslis in die oordeel van die mens.  Die gewete het al my gedagtes en woorde weer voor die gees geroep.

Wat egter baie vreeslik by die oordeel is, is die ontdekking dat die duiwel self die aanklaer van die arme siel is.  Die Satan verheug hom daarin om die lang swart register van sonde van die sielsoog op te hang, en die siel dan by GOD aan te kla.  Die siel wat gevonnis moet word, se naam word duidelik net soos in ‘n aardse geregshof,  aangegee.  So het ek verskillende persone uit my gemeente, se name hoor  noem, en met hulle oordeel is toe ‘n aanvang geneem.

Toe ek enige maande daarna weer terug was in die gemeente, was dit my droewige plig om vyf persone wie se name genoem was, te begrawe, een na die ander in dieselfde volgorde wat dit aan my genoem is.  dit was vir my ‘n skokkende ondervinding om die oordeel van die Here oor sovele wat hy hier op aarde geken het, te verneem.

Gedurende die tydperk wat ek in die hospitaal was is honderde reeds veroordeel.  Dit het vir my voorgekom asof daar mense is, wat nog onder ons verkeer en wandel wat alreeds geoordeel is.  hulle is alreeds deur die vinger van die dood gemerk, want die genadetyd is vir meer as een hier op aarde reeds verby.  Dit was my ondervinding in verband met die oordeel.

Die siel van die mens geniet na die skeiding van die liggaam aanvanklik die ewige geluksaligheid of die ewige rampsaligheid.  Die ewige geluksaligheid of rampsaligheid sal tot volmaaktheid kom wanneer die siel en liggaam in die grote opstandingsdag herenig sal word.  Die wat buite Christus gesterf het, sal kennis maak met die rampsaligheid en sal die liggaam van die Ewige Dood deelagtig word. 

Diegene wat in Christus gesterf het sal deel in Sy opstanding en sal siel en liggaam opstaan om saam met Christus in die Hemel verheerlik te word.

Omdat die gelowiges al meer Christus se heerlikheid deelagtig sal word, word diegene wat sonder Hom geleef het, al meer en meer die Satan gelykvormig.

By die eindoordeel sal die opstanding van elkeen plaasvind, asook die skeiding tussen die skape en die bokke.  Dan sal die vonnis wat reeds by die dood gevel is, voltrek word.


HOOFSTUK 7

DIE DRIE-EENHEID VAN GOD.


Die vraag het al dikwels by my ontstaan hoe dit aan ‘n arme mense toegelaat kan word om oor die Drie-eenheid van GOD te praat, asook om daaroor te skryf.  Tog wil ek graag die openbaring van die leer van die Drie-eenheid wat ek van die Opperwese ontvang het, probeer weergee tot hulp van andere wat moontlik daaroor wonder.

Toe die twee weë aan my getoon is naamlik die een wat lei van Donkerheid tot Donkerheid, en van diepte tot diepte, die weg van die Ewige Dood, en die ander wat lei van Heerlikheid tot Heerlikheid, van hoogte tot hoogte, die weg na die Ewige Lewe, het dit vir my duidelik geword, dat die weg van die lewe tot by die Troon van GOD lei.

Hierdie gesig, wat in ‘n oogwenk aan my getoon is, was vir my genoeg.  Duidelik het ek die uitroep “God bewoon ‘n ontoeganklike lig – dit is die derde Hemel” gehoor.  Ons mense kinders het met ‘n allerheiligste wese te doen.  GOD, die Vader is die eerste persoon van die goddelike Drie-eenheid, uit wie, deur wie en tot wie alle dinge is.

Die lied van die Engele wat hulle aangesigte steeds vir die heiligheid van GOD bedek het, weerklink nog gedurig in my hart en ore.  “Heilig, heilig, heilig is die Heer van die leërskare.”  Die heerlikheid wat uit die Troon van GOD voortspruit is oorweldigend vir die siel van die mens.  Wee die siel wat GOD loën en in die teenwoordigheid van God te staan moet kom.  Menslike taal is so onmagtig om die ewigheid te beskryf, maar wat GOD se Woord ons vertel omtrent GOD self, is die volle waarheid.

Ek het ook ‘n gesig van Jesus Christus, die eniggebore Seun van GOD, gehad.  Hierdie ontmoeting was maar van baie korte duur, maar die indruk wat dit op my gemaak het, sal my tot in alle ewigheid bybly.  Ek het Hom met my sielsoog gesien “Staande soos ‘n Lam geslag met die doringkroon op Sy Hoof.” Wat my siel veral getref het was die tere ontfermende liefde wat uit Sy oë gestraal het,  indien die sondaar, hoe hard ook van hart, en hoe ver ook afgedwaal van die spore van geregtigheid en genade, ‘n blik van Sy oog gewaar kon word, sou hy vir ewig met die sonde breek.

Dit het vir my baie duidelik geword dat die Heiland die Seun van GOD, nou aan die regterhand van GOD die Vader is.  nog nooit het die waarheid van Christus se middelaarskap vir my so heerlik en so werklik geword as toe ek Hom werklik kon hoor intree as Middelaar en Hoëpriester by GOD die Vader nie.

Hoe dikwels het ek al verlang dat die onbekeerde kon hoor hoe die Heiland by GOD die Vader vir verloregaandes  om genade smeek.  Die Seun van GOD toon steeds aan GOD die Vader die ope wonde in Sy hoof, hande, Sy voete en in Sy sy.  Hy het vir vele in my gemeente gepleit.  Ek het ook die name van ‘n paar van my gemeentelede gehoor hoedat Jesus Sy Vader vra om hulle tog nie in hulle onversoenbare toestand weg te neem nie maar hulle om Sy ontwil nog ‘n geleentheid te gee.

Dit is die werk van Jesus Christus as Seun van GOD om aan die regterhand van GOD vir die sondaar te pleit.  Jesus Christus is die tweede persoon in die Drie-eenheid en Sy werk duur voort totdat die Middelaar òf Advokaat Regter sal word en die Lam nie meer as Middelaar tussen GOD en die mens sal staan nie.  Ek het onder die indruk gekom van die middelaarskap van Jesus Christus.

Wat ook vir my baie duidelik geword het, is dat Jesus die groot Hoëpriester as die Middelaar aan die Regterhand van GOD ook bid en pleit vir die gelowige kinders van die Here.  Hy sien die moeilikhede die bekommernisse en die trane van Sy kinders hier op aarde.  Hy verneem selfs hulle onuitgesproke versugtinge en Hy as voorspraak bring al die versoeke van Sy kinders, geheilig voor GOD se aangesig.  Hy het tog so duidelik in Sy Woord gesê “Niemand kom tot die Vader behalwe deur My nie” en ook “Ek is die Weg en die Waarheid en die Lewe.”

Ek kon hoor hoe daar ernstig vir siele gebid word, want daar gaan gedurig ‘n stroom van gebede op na die Hemel, die vaste woonplek van GOD vir die verlossing van diegene wat nog nie verlos is nie.

Dit het ek alles ervaar en ook hoedat daar vir my voorbidding gedoen is deur Christus wat die Tweede Persoon in die Goddelike Drie-eenheid is, ons Voorspraak asook ons Hoëpriester by GOD die Vader.

Die Heilige Gees, die Derde Persoon in die Goddelike Drie-eenheid is ook aan my in Sy werksaamheid geopenbaar naamlik dat die Heilige Gees ons leer, maar ook onderskei tussen die waarheid en die dwaling.  Ek het ondervind dat wanneer die Satan met sy leuen en dwaling probeer het om my van Jesus af weg te lei, dan was dit die Heilige Gees wat my weer op die spoor van die waarheid gebring het.


HOOFSTUK 8

DIE GEBED.

As daar iets is in die lewe van die mens op aarde wat so dikwels gebruik word en nogtans so min verstaan word dan is dit die gebed.  Ek wil nie iets nuuts bydra tot die verklaring van die gebed en voorbidding nie, maar vertel van my ondervindings sodat dit tot die voordeel van ander kan strek.  Nog nooit vantevore het dit vir my so ‘n werklikheid geword, dat die gebed ‘n omgang met die Here Jesus en GOD die Vader in die Gees is nie, want die Gees soos die Skrif ons leer tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge.  Netsoos die een mens omgaan met die ander deur die woord van die mond en deur die geskrewe woord, so is daar gemeenskap tussen die Here en die mens in die Gees.

Eers het ek gedink dat ek hard moes praat om gehoor te word en ek het dit ook gedoen.  Later het ek egter ondervind dat elke gedagte, wat ek selfs maar net gedink het in die Hemel weerklank gevind het.  En wat vir my so wonderlik is, is dat almal in die Hemel weet wat ons hier op aarde dink en doen, want van die Hemel na die aarde is daar geen skeidsmure van tyd en ruimte nie.

Ek is self getuie van die verhoring van gebede van gelowiges vir myself.  Niks anders behalwe die verhoring van die gebed deur GOD die Vader self kon my help nie.  Duidelik kon ek die gebede wat vir my orals opgestuur is, hoor.  Ek het duidelik verneem hoedat my eggenote vir my pleit omdat haar gees by die Here was.  Dieselfde het met my moeder, susters en broers gebeur.

Ernstige voorbidding het vir my in die Sendinggemeente van Fouriesburg begin.   Die  ou Kategeet Jakob, wat nou ook al rus van die stryd van die arbeid van die aardse lewe, het sy kring van arbeiders bymekaar geroep en hulle het vir my ernstig by die troon van GOD ingetree.  Duidelik kon ek hoor hoe Jakob en sy mede arbeiders in die Here vir my pleit.  Daardie gebede wat so ernstig opgestuur was, was welbehaaglik in die oor van GOD en is verhoor.

Ook in my eie gemeente is daar vir my gebid.  Ek het die ernstige gebede gehoor.  Veral die bewende stem van ‘n Godsalige ou moeder was gedurig voor die troon van die Here.  Orals het daar smeekgebede vir my herstel opgegaan.  Sommige van die gebede was baie ernstig vir my, in die binnekamer deur my broers in die  Evangeliebediening en intieme vriende, gedoen.

Wat vir my baie aandoenlik was, was die ketting van gebede wat ek gehoor het.  Die een gebed het sigself by die ander aangesluit.  Toe het ek agtergekom dat daar vir my op spesiale versoek van die toenmalige assessor van die Kaapse Sinode deur die Sinode vir my ernstig voorbidding gedoen is.

Die treurige waarheid het vir my baie duidelik geword dat alle gebede nie tot die troon van GOD deurgedring het nie.  Daar was die donderende gedreun van die misnoeë van GOD by die aanhoor van sommige gebede ook onder die gebede wat vir my opgestuur was.  Daar was gebede wat om verskillende redes nooit tot die Vader deurgegaan het nie.  Ek het gehoor dat daar deur persone vir my gebid is, maar dat daar deur die Satan en sy handlangers so ‘n geraas gemaak is, dat ek byna niks kon hoor nie.

Toe ek gevra het, waarom sekere gebede geen krag gehad het nie, het die antwoord van die Satan gekom, dat daardie persoon aan ‘n sekere sonde skuldig is, en daarom kan sy gebed nie verhoor word nie.  Vir my het dit baie duidelik geword, dat as ons die vermaning ontvang het om elke bewuste sonde in ons lewe te laat vaar, en ons doen dit nog, dit al te seker ‘n skeiding tussen ons siel en GOD bring.  ‘n Ander oorsaak wat die verhoring van ons gebede belemmer, is dat ons nie eintlik belangstel waaroor ons bid nie.  Ek het ondervind dat baie persone meer net uit gewoonte bid.  Wanneer ons ernstig pleit en bid deur die Here Jesus tot GOD die Vader, sal ons gebede sekerlik verhoor word.



HOOFSTUK 9

DIE HEL.

Daar was ‘n tyd in my lewe dat ek selfs as evangeliedienaar die gedagte gekoester het, dat die Hel as ‘n ewige straf vir die mens, nie so ernstig opgeneem moes word nie.  Daar op die grense van die ewigheid, is die waarheid van ons vreeslike verdoemenis, soos gevind in GOD se Woord, duidelik aan my bevestig en het ek tot die ontnugtering gekom dat die Hel ‘n werklikheid is.  Voor my siekte het ek nooit enige boek oor die Hel gelees nie.  Die “Letters from Hell” van De Quincey en”Inferno” van Dante was hoegenaamd nie aan my bekend nie.  Na my herstel is verskeie boeke wat oor die Hel handel my aangebied, maar ek het volstandig geweier om dit te lees, want ek wou nie aan die oorspronklikheid van my ondervinding afbreuk doen nie.

Wat vir my baie duidelik geword het is dat die Hel nie net ‘n toestand, maar ook in werklikheid ‘n plek is.  Die plek is onder en gaan van diepte tot diepte.  Hierdie plek bestaan uit verskillende stadia van ellende en duisternis is nou en eng en het weinig ruimte.  Dikwels het ek die Duiwel hoor sê dat hy hom agter die poorte sal inbring en daar sal hy nooit weer uitkom nie.  Ek het ondervinding gehad om hierdie poorte ook te sien.

Aan my is al gevra of die Verdoemenis ‘n materiële vuur is.  Die vuur van die Hel is in hoofsaak egter geestelik van aard.  Geen aardse vuur het ooit so gegloei nie en die grootste vuur wat ooit op aarde gebrand het en sal brand is maar baie flou in vergelyking met hierdie vuur.  Dit is ‘n vuur wat binne en buite brand.

Daar word gedurig gekerm en gekla en nooit is daar een oomblik van rus nie, want aanhoudend word daar gewoel, verwyt en getwis, omdat die goddelose geen vrede besit nie.
Ten spyte van die vuur wat brand verkeer die wat verlore is in die buitenste duisternis.  Aan diegene wat verlore gegaan het word soms die geleentheid gegee om te sien watter heerlikheid hulle verloor het.  Daar is geen oomblik van rus in die Hel nie.



HOOFSTUK 10

DIE HEMEL.

Ek het verneem en ervaar dat die Hemel ‘n werklikheid is en dat ons hier op aarde maar net in die skaduwee van die ewige lewe.  Ek het die indruk gekry dat die hemel baie ruim is en dat daar geen bedruktheid of bekommernis bestaan nie.  Die Hemelse lug word vry deur die gees van die mens ingeasem.  Die lug is nie swaar nie en druk nie neer soos die lug op die aarde nie, maar dit is asof alles in die lug sweef.  Die lig van die Hemel is nie van die son of maan of sterre nie, maar dit is die afskynsel van die heerlikheid van Christus self.

Ek het gesien dat die Hemel in vier groot dele verdeel is, want boodskappers kom gedurig uit die Noorde, Suide, Ooste en Weste aan.  Die Engele van GOD bring gedurig berigte van die aarde na die Hemel.  Belangstelling, maar geen bekommernis word in die Hemel gevind nie.

Alhoewel daar baie bedrywigheid in die Hemel is, gaan dit egter gepaard met die nodige ordelikheid en stilte.  Die verlostes dra elke ‘n wit kleed op ‘n eerbare wyse en die naaktheid en onordelikheid van die Hel word daar nie gevind nie.

Die Hemelse musiek was lieflik om na te luister.  Rondom die mure van die Hemelstad was daar die soet klanke van ‘n Koor wat gedurig sing:  “Hier sal niks inkom wat verontreinig en gruwelik is en leuens doen nie, maar net die wat verlos is en wie se name in die Boek van die Lewe van die Lam geskrywe is”.  Ook het daar gedurig ‘n lieflike refrein in my ore en hart soos volg weerklink:  “Vir ewig en vir ewig.”

Dit was uiters aangenaam om na die gesprekke van die geluksaliges te luister.  Hier praat ‘n moeder met haar dogter oor die spoedige aankoms van die vader;  daar loop weer twee dienaars van GOD, wat in die soete geselskap met mekaar die onderwerp:  “Die Heer van die Hemel en Sy wil” bespreek.

In die Hemel is daar skone berge en waterstrome.  Daar teen ‘n pragtige berghang het ‘n moeder gestaan en wag en wag – verlangend gewag op die aankoms van ‘n geliefde dogter verlos deur die Bloed van die Lam, wat spoedig van die aarde by haar sou aansluit – om vir ewig met haar verenig te wees en nooit weer te skei nie.

‘n Skare kinders het ongedeerd en veilig op die goue strate van die Hemel rondgespeel.  Die Hemel is vol kinders wie gedurig die lof van die Here Jesus sing.  Die vraag is meermale, deur diegene wat dierbares deur die dood afgegee het, aan my gestel, of die oorledenes enige kennis dra van die lewensomstandighede van hulle dierbares wat nog op die aarde is.  My beskeie antwoord hierop is dat hierdie afgestorwe dierbares soms vergunning van die Here ontvang om met diegene wat nog op die aarde is in aanraking te kom.  Ook word deur die Here toestemming verleen om laasgenoemde te vertroos en te bemoedig.

Terwyl ek so tussen lewe en dood verkeer het kon ek die stemme van my dierbares duidelik hoor:  “Mikie, my kind, kom ons wag vir jou” het ek duidelik die stem van my vader verneem.  Ander het weer geroep:  “Kom broer Mikie, kom!”

Ek het altyd gehoor dat die Hemel ‘n plek van rus is, maar dit is egter nie die geval nie.  Daar word geestelike werk gedoen.  Die Engele dra gedurig bevele van die Here Jesus Christus aan die hemelinge oor.  Die Engele is Sy boodskappers.

In die Hemel is daar ‘n wonderlike Sendinggesig aan my getoon.  ‘n Groot skare verlostes uit die heidendom was daar bymekaar, wat die glans van heerlikheid op hulle aangesigte gehad het, maar ook tekens van onkunde openbaar het.  Daar was ‘n verlangende begeerte in hulle oë te bespeur, wagtende op iets.  “Waarvoor wag hulle?” het ek gevra.  Die antwoord was dat hulle gewag het op die sendelinge om hulle geestelik te bearbei.

Elders het ek gesien dat daar ‘n ander groep bymekaar was besig om te leer.  Toe die woordvoerder sy gesig na my kant toe gedraai het, het ek gesien dat dit iemand is wie ek op aarde geken het, ‘n Sendeling Grobbelaar.  “En wat doen hy dan hier?”  wou ek weet.  “Hy doen die werk van Christus”, was die antwoord.  “Hy is ‘n gesant van die Kruis ook hier in die Hemel, om die verlostes in Christus te onderrig en op te bou.”  Dit is duidelik dat geestelike werk nie slegs tot die aarde beperk is nie, maar in die hiernamaals voortgesit word.
Onder diegene wat alreeds in die Hemel was en gewag het om my te verwelkom was ‘n ou Basoetoevrou, Maria.  “Dag Moruti, ee Morena!” het sy gegroet.  “Maar wie is dit dan?” het ek gevra. “Moruti jy ken nie vir aia Maria nie?  Sy is by Jesus in die Hemel.”

Toe onthou ek.  Sy het na my in die Vrystaat gekom en gesê:  “Moruti jy moet my doop.  Ek het baie jare gelede by baas Andrew Murray tot bekering gekom, maar my man was ‘n heiden.  Hy wou nie hê ek moet die Here dien nie, maar nou is hy dood.”

In die midde van die Sendinggemeente het ek vir Maria toe gedoop.  Toe het sy gesê:  “Ek gaan Hemel toe om by Jesus te wees.”  En sy het gegaan.  Nou het ek weer haar stem verneem.  “Ou Maria is by Jesus in die hemel!”  O, wat ‘n heerlike troos.

HOOFSTUK 11

TERUG IN DIE LEWE.

Vir ‘n geruime tyd na hierdie ondervindings was ek so swak dat ek nie oor hierdie aangeleenthede kon praat nie.  Telkens het ek aan my eggenote meegedeel wat gebeur het, hoe ek gesien en gehoor het wat hier op die aarde en in die hiernamaals plaasvind.  Sy het my met verbasing aangehoor en sy het alles bevestig,  wat ek haar meegedeel het.  Op aandrang van my eggenote en susters in die gemeente van Uitenhage is ek gevra om meer daarvan te vertel.  So het meer en meer die vrymoedigheid  in my ontwikkel om oor hierdie openbaringe te praat, veral waar ek ander tot troos kan wees.

Terwyl ek maande lank hulpeloos gesig en wag het op die Here se hand, vir my algehele herstel, was dit vir my ‘n vreugde om elke dag deur vele vriende en diensknegte van die Here besoek te word.  Hulle het belangstelling getoon om te kom verneem wat vir ons na hierdie lewe wag.  Gedurende hierdie tyd het ek nog nie die vrymoedigheid gehad om hiervan in die openbaar mee te deel nie.

Die Here het egter in Sy wonderbare liefde my weer op Sy tyd na my gemeente teruggebring.  Ook het ek my kragte weer ook van die Almagtige GOD genadiglik terugontvang.  Drie maande nadat ek in die Provinsiale Hospitaal te Port Elizabeth opgeneem is, is ek op 11 Februarie 1920 weer daaruit ontslaan, tot groot verbasing van geneeshere, familiebetrekkinge en vriende.

Hierna het ek die voorreg gehad om met vele dienaars van GOD gedagtes oor hierdie ondervindings te wissel.  Vir hierdie leraars was dit tot groot troos en bemoediging.  Veral deur bemiddeling van Ds. C.W. Retief van Paul Roux, wie gedurende my krankheid, konsulent aan my gemeente te Fouriesburg was, is ek deur die leraars van die Oostelike Ring gevra om dit tydens die Ringsitting te Paul Roux in 1921 mee te deel.  Ek het daartoe onder Sy leiding ingewillig en wat ek meegedeel het, is baie gunstig ontvang deur diegene wat daar teenwoordig was.

Al die leraars wat daar was het daarna geluister naamlik Di. C. F. Kies van Harrismith, C.A. van der Merwe en Bethlehem, J.P. van der Walt van Frankfort, M. Smuts van Lindley, H.J. Reyneke van Vrede, J.P. van der Spuy van Reitz, F.J.P. Smit van Kestell, C.W. Retief van Paul Roux, F. Van der Merwe van Concordia, S.J. Stander van Clarens en J.S. Krige, hulpprediker te Bethlehem.  Ook was die volgende by hierdie geleentheid teenwoordig:  Mevv. Retief, Stander en de Kock (my eggenote).  Almal teenwoordig het saamgestem dat hierdie ondervindings te boek gestel sou word.

Die eerste keer dat ek die voorreg kon geniet het om hierdie ondervindings in die openbaar mee te deel was tydens die viering van die Heilige Avondmaal te Steynsrust op die 9de Oktober 1921.  Hierna het vele uitnodigings na vele gemeentes in die Vrystaatse Kerk gevolg.

Tot dusver het ek al om die 200 gemeentes, in Kaapland, Rhodesië, Transvaal, Natal die Vrystaat en Suidwes Afrika besoek en ek dank die Here dat Hy my in so ‘n mate herstel het en kragte gegee het om hierdie ondervindings tot dusver aan sovele te kon meedeel.



HOOFSTUK 12

SLOTWOORD

Deur
Ds. M.J. de Kock.  B.A., H.O.D., B.Ed, V.D.M., Interm Orrel diploma
Graag wens ek u as my vader se derde oudste kind en jongste seun in die gesin ‘n paar persoonlike besonderhede mee te deel.  Ek dank die Here vir hierdie wonderlike voorreg wat Hy aan my geskenk het om dit nog te kan doen.  My vader, Ds. M.J. de Kock, is te Prins Albert op die 25ste Desember 1879 gebore, waar my oupa Servaas de Kock, destyds onderwyser was.  Na sy skoolopleiding het hy te Prins Albert ‘n betrekking as klerk by die landdroskantoor aanvaar waar hy twee jaar in diens was.  Daarna het my vader ‘n betrekking in die Staatsdiens vir R1600 (800 pond) per jaar, van die hand gewys omdat die Here hom vir Sy werk in Sy bediening geroep het.
Nadat hy beide in die B.A. graad sowel as sy propenentseksamen met onderskeiding geslaag het, is hy in 1906 as leraar van die N.G. Kerk in Suid-Afrika gelegitimeer.
In die jaar 1909 is hy na Fouriesburg en tien jaar daarna terwyl  hy met my moeder, Joey, my oudste suster en Servaas, my oudste broer te Port Elizabeth gaan vakansie hou, waar hy siek geword het en gevolglik hospitaal toe moes gaan en hierdie ondervindings opgedoen het.
Na die herstel van sy siekte, het hy nog tot die jaar 1920 die gemeente te  Fouriesburg bedien.  Toe ek drie jaar oud was en my jongste suster Margie twee jaar oud was, het ons na Riebeekkasteel verhuis, waar my vader nog 21 jaar in die bediening gestaan het.  Gedurende hierdie tyd was hy voorsitter van die skoolraad van Malmesbury, voorsitter van die Kuratorium van die Sending Instituut te Wellington.  Ook op talle ander Kommissies van die Kerk het hy diens gedoen.
Waar voorspel is tydens die begin van sy siekte, dat hy nooit weer homself sal wees nie, het GOD hom met Sy magtige hand aangeraak, hom weer opgewek en kon hy vir meer as 40 jaar nog in diens staan van Sy Heer en Meester, asook die vader en oupa word van nog kinders en kleinkinders.
Eienaardig en treffend is dit om te weet dat my vader gebore is op Kersfees, die dag wanneer die Here Jesus, ons Saligmaker se geboortedag herdenk word, dat hy op die 25ste Desember sy verlowing aangekondig het, met my moeder Jacomina Louisa Josina Muller en dat hy op die 25ste Desember met haar getroud is.
Meer treffend is die feit dat nadat hy op die 19de Mei 1964 tot hy nog opgestaan het, sy motor uit die garage getrek het, en my moeder nog sou dorp toe neem, hy inmekaar gesak het en die tyd met die ewigheid verwissel het sonder enige langdurige siekbed.  Die treffendste en wonderbaarlikste van alles is dat my dierbare vader wat vir ons altyd ‘n voorbeeld in alles was en vir ons altyd getrou die weg na die Hemel aangewys het ter aarde bestel is op die 50ste verjaarsdag van sy oudste en geliefde dogter Johanna Petronella Smit (geb. De Kock).
Hierdie ter  aarde bestelling het plaasgevind in die kerkhof by die N.G. Kerk te Wellington, waar Dr. Andrew Murray ook begrawe is.  Beide my ouers het alreeds heengegaan, my moeder ‘n paar jaar later en hulle graf is net agter die van Minister C.W. Malan, destyds minister van spoorweë.  Ek kon nog goed onthou dat ek self die begrafnisdiens bygewoon het, wat my vader ter ere van sy vriend Minister Charlie Malan gehou het.
Ek dank die Here vir sulke voorbeeldige en geseënde ouers.  Al ons kinders en kleinkinders, almal nog in die lewe, het die voorreg nog geniet om hulle goue bruilof in die Stadsaal van Riebeekkasteel te kon bywoon.  Kort hierna is die aardse gesinsverbande verbreek deur die afsterwe van beide my dierbare ouers kort na mekaar.
Ek glo dat die Hemel, die plek waarna hulle verlang het, vir hulle toeberei was.  Ek glo ook dat die Here vir hulle daarheen tot hoër diens geroep het waar hulle vir ewig by die Here is.
My vertroue is ook in die Here Jesus Christus dat my broers en susters in die vlees asook in die gees en ekself en my huisgesin hulle weer sal sien as ons ook in die Here Jesus Christus sterf.  Hierdie woorde skrywe ek met ‘n onbeskryflike verlange in my hart na Jesus Christus my persoonlike vriend en Saligmaker en my dierbare ouers wat al na hulle Vader se baie woninge verhuis het.
Liewe medegelowige, broer en suster in die Here, ek wil u versoek om u weer opnuut aan die Here toe te wy veral daar u nou hierdie boodskap van die Here self gelees het.  Ek vra u om dit as ‘n getuienis vir die Christene te gebruik sodat hulle in hulle geloof versterk kan word, ook as ‘n getuienis vir die sondige wêreld wat nog nie glo nie.
Aan u wat nie glo of nog onverskillig is moenie wag totdat dit te laat is nie.
Nadat jy die volgende gelees het, kan jy jou oë sluit en bid dat die Here vir jou genadig moet wees.  Jes. 1:18 “Kom nou en laat ons die saak uitmaak sê die Here;  al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu;  al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol”.  Moenie wag totdat dit te laat is nie, want jou genadetyd gaan hier op aarde alreeds verby.  Besluit nou want dit is ‘n belangrike aangeleentheid.  Hierdie beslissing gaan jou lewe sekerlik verander, nie net alleen hier op aarde nie, maar ook vir die ewigheid.
Aanvaar dus die wonderlike redding van sonde wat Jesus Christus vir ons deur Sy offer aan die kruis gewillig is om weg te neem, want Hy is volgens Heb.9:15 Middelaar van ‘n Nuwe Testament wie vir ons gesterf het, sodat u en ek die belofte van die ewige erfenis – die ewige heerlikheid van die Hemel – kan ontvang.
Mag die Here met u almal deur Sy genade wees en versterk op die weg na die Ewigheid.
Amen.

(Kopiereg voorbehou.)

2 opmerkings:

  1. Johannes de Viliiers22 April 2016 om 17:04

    Johannes baie dankie! Hier le so n mooi getuienis vir ons- hoeveel van ons praat "God" maar is Hy WERKLIK? SKEPPER? ALMAGTIGE EN REDDER ens? Ons moet ons kinders van kleins af weer hierdie waarhede en oproep tot n verantwoordelike lewe neerle om skoon en suiwer voor Sy aangesig te lewe en ook Hom te vrees as Regter! Dit geld ook vir elkeen van ons om daaroor na te dink!

    Hierdie getuienis is rede om opnuut weer verkondig te word!

    AntwoordVee uit
  2. Jes. 1:18 “Kom nou en laat ons die saak uitmaak sê die Here; al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol”.

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.