BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Saterdag 19 Mei 2018

DIE ONVERNIETIGBARE VREUGDE VAN JESUS

- en Hy het bedoel dat ons in hierdie blydskap sal deel! 



Hoe belangrik is dit dat jou Verlosser nie sommer enigiemand nie, maar ‘n Verlosser vol vreugde moet wees? 


As ’n lewensredder jou uit ’n gevaarlike seestroom red en jou so ‘n wrede verdrinkingsdood spaar*, dan gee jy nie juis veel om of hy ‘n vreugdevolle of ‘n droefgeestige ou is nie. Dit maak tog nie saak wat sy gemoedstoestand is, terwyl jy weer jou familie op die strand omhels nie. Met die verlossing wat Jesus bewerk is dit egter anders gesteld. Jesus red ons nie vir ons familie nie, maar vir Homself. As Hy droefgeestig, depressief of neerslagtig sou wees, sou ons verlossing maar ’n droewige saak wees. Dit sou dan nie ’n heerlike verlossing wees nie. Christene sou ‘n klompie bedremmeldes met lang gesigte wees. 

Jesus self is ons groot beloning, niks minder nie. Verlossing is nie bloot net die vergifnis van sonde nie, maar in hoofsaak gemeenskap, saamwees met die lewende Jesus. Die ewige lewe is mos nie bloot ‘n lang lewe nie, maar om God en om sy Seun Jesus waarlik te ken! Innige gemeenskap! In Johannes 17:3 maak Jesus dit self baie duidelik : “En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.” As hierdie gemeenskap nie intens heerlik en volkome bevredigend is nie, dan het ons nie te doen met ’n groot verlossing nie. 

As Christus neerslagtig of vreugdeloos sou wees, dan sou die ewigheid een lang droewige sug en vervelige uitmergeling gewees het. 

Maar nou is dit juis wonderlik, die genade en heerlikheid van Jesus behels onder andere ook dat Hy altyd onvernietigbaar gelukkig is en sal wees. Sy genade, sy vrede, sy liefde sluit ook in dat Hy ons vreugde gee. Luister bietjie mooi na Jesus se woorde en drink dit in :“Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees.” (Johannes 15:11) 

Blydskap, volkome blydskap is Jesus se bedoeling vir ons wat aan Hom behoort! 

Dit sou nie volkome genade wees as Jesus bloot my blydskap sou vermeerder tot op die maksimum nie, en my dan so sou los in ’n blydskap wat nog ver benede sy vlak van blydskap is nie. Ons kapasiteit vir blydskap is mos beperk. So wat wonderlik is, is dat Jesus sy kapasiteit vir vreugde in my stort, sodat ek Hom kan geniet, met die vreugde van God. Dit is heerlikheid, dit is genade. Ons word nie net bly nie, nee, meer as dit, SY BLYDSKAP word deel van ons lewe! 

Daar is niks heerlik aan vreugdeloosheid en droefgeestigheid nie. Christus was daarom nooit droefgeestig en neerslagtig nie. Van ewigheid af was Hy die spieël van God se onpeilbare vreugde. Die Wysheid van God sê hierdie woorde in Spreuke 8:30 : “Ek het my kennis by Hom gekry, ek was elke dag sy vreugde; die hele tyd het ek dit by Hom geniet.” Hierdie woorde gesien in die konteks van die hele Bybel, gaan oor Jesus, die ware Wysheid! (Kliek op WYSHEID) Die ewige Christus, was altyd in vreugde voor God. Hierdie feit van Jesus se oortreffende blydskap kom duidelik in die Nuwe Testament ter sprake. 

Kyk na twee voorbeelde: 

In Hebreërs 1:8-9 praat God met die Seun (nie met die engele nie) met hierdie verstommende woorde : “U troon, o God staan vir ewig vas, met u koninklike septer laat U reg geskied. U het die reg lief en U haat die onreg. Daarom het God, u God , U onder groot vreugde tot koning gesalf bo u tydgenote.” Jesus is die gelukkigste wese in die heelal. Sy blydskap oortref al die engele blydskap in die hemel. (En ons weet die engele is baie gelukkig!) 

In Handelinge 2:25-31 interpreteer Petrus Psalm 16 as verwysend na Christus : “Ek het die Here altyd voor oë. Hy is aan my regterhand; ek sal nie wankel nie. Daarom is my hart bly en my tong jubel.....want U sal my nie aan die doderyk oorlaat nie; U sal nie toelaat dat u troue dienaar vergaan nie.....u teenwoordigheid sal my met vreugde vul.” Die opgestane Jesus sal die somber skadu’s van die dood afskud en bly wees met die lig van God se blydskap. Die heerlikheid van Christus is sy oneindige, ewige onvernietigbare blydskap in die teenwoordigheid van God. 

EN SY LYDING? 

Maar wat dan van Jesus se smarte en lyding? Hoe pas dit in by sy vreugde? Net soos dit nie heerlikheid is om depressief te wees nie, is dit ook nie heerlik om ligsinnig oppervlakkig te wees nie. Die kortstondige joligheid op die dansvloer en die ononderdrukbare grondige blydskap wat mense selfs in ’n strafkamp kan ervaar is twee verskillende dinge. Die een is nietig tydelik, die ander diep triomfantelik. Kwaliteit blydskap, onvernietigbare vreugde! – dis die blydskap van Jesus! 

Vreugde is iets dieper as net die afwesigheid van hartseer. Daarom is dit nie ’n teenstrydigheid dat hierdie Man van onvernietigbare vreugde juis ook ’n “Man van lyding wat pyn geken het” was nie. (Jesaja 53:3) Self sê Jesus : “Ek voel doodsbenoud” (Matteus 26:38) Hierin lê ook ‘n stuk heerlikheid vir ons in opgesluit. Juis omdat Jesus hierdie hartseer en lyding moes deurgaan is Hy as ons Hoëpriester in staat om met ons medelye te hê. Hy was immers net soos ons getoets. (Hebreërs 4:14-15) Hy het die allervreeslikste versoekings beleef. Ook al die hartsere van menswees. Hy het gehuil saam met die wat gehuil het en was bly saam met dié wat bly was. Hy was honger, moeg, verlate, verraai, gegésel, gespot en gekruisig. Juis in hierdie konteks sien ons die onvernietigbare blydskap van Jesus! Sy blydskap was nie net ’n teoretiese saak nie, dit het bly staan in die harde werklikheid. Die hardste denkbare lyding. Deur die foltering van Getsemane en Golgota, is Jesus juis onderskraag deur hierdie onvernietigbare blydskap. “Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins....” (Hebreërs 12:2) En wat was daardie alles onderhoudende blydskap? Dit was die vreugde om aanbid te word en eer te ontvang van hulle vir wie Hy gesterf het om sodat hulle kan deel in die vreugde van God. Die Goeie Herder verheug Hom oor een verlore skaap wat gevind word. Hoeveel te meer oor ontelbare leërmagte van verlostes! 

Is hier ’n les te leer oor hoe ons lyding moet verduur? Het jy al ooit raakgesien dat ons Jesus nie net moet navolg in sy lyding nie, maar ook in sy vreugde in lyding? Paulus stel dit so : “En julle het ons voorbeeld nagevolg en volgelinge van die Here geword. In baie moeilike omstandighede het julle die woord aangeneem met ’n blydskap wat van die Heilige Gees kom.” (1 Tessalonisense 1:6) Dit was ’n vreugde in die Here te midde van vervolging wat in hierdie jong kerk sigbaar was. 

Hierdie is ’n Uitdaging vir ons! Sal ons lyding ter wille van die saak van Christus omhels? Nie vreugdeloosheid nie, maar lyding. Sal ons ag gee op die wekroep in Hebreërs 13:13 “Laat ons dan nou uitgaan na Hom toe buitekant die laer en die smaad dra wat Hy gedra het”? Wie deel in Jesus se lyding met vreugde, sal ewige vreugde sonder lyding beleef! 

EWIG BLY!

Elkeen wat reeds iets gesmaak het van die vreugde van Jesus, sal finaal eendag te hoor, “Mooi so! Jy is ’n goeie en getroue slaaf......Kom in en deel in my vreugde.” (Matteus 25:21) Dis ‘n aansporing vir ons. Ja, ons ewige tuiste is die stad van God en dis ’n stad van vreugde. En daardie vreugde is die onvernietigbare vreugde van Jesus Christus. 

Die Heilige Gees oortuig ons nou reeds van die vreugde van Jesus wat soveel meer is as die tydelike vreugde van die sonde en wêreld! Dis net as ek oortuig is van die vreugdevolle heerlikheid van Jesus dat ek die “lekkerte” van sonde die rug kan keer en Hom volg. Hierdie oortuiging laat elke ware kind van God volhard! 

*John Piper, Seeing and Savouring Jesus Christ. Hierdie is in wese ‘n weergawe van een van die hoofstukke in hierdie besondere boek.


"vreugde" - Hentiesbaai se noordduin

Sondag 13 Mei 2018

DIE SPOKE WAT JOU TEISTER

- en hoe om die oorwinning oor hulle te behaal! 



Is daar spoke wat jou pla? Ek praat nie van die soort wat soos wit lakens lyk en in begraafplase of by Uniondale ronddwaal nie... Ek praat van arrogante aktiewe spoke soos Selfbejammering, Selfbewustheid, Mislukking, Verlore kanse, Skuldgevoelens. Eintlik almal maar een of ander vorm of gevolg van SONDE! Hierdie spoke is gevaarlike vyande in diens van die groot vyand Satan. Hulle spits hulle veral toe op God se kinders. Hierdie vyand en sy trawante hou daarvan as jy op die grond lê. Hulle trap jou en vra dan smalend : “Nou waar is jou God dan nou?” Hierdie spoke hou jou terug en breek jou spoed. Hulle breek jou lewe af totdat dit 'n stukkende bouval word! Hulle is die rede dat baie mense nie die vreugde van God kan beleef nie, moedeloos word, skuldig voel om iets vir die Here te doen.... 



In Miga 7:5-10 vind ons kosbare bemoediging uit die Woord wat vir jou wat deur hierdie spoke geteister word hoop kan bring!* Ja, my vriend, daar is hoop as ons geval het, hoop as ons in die donkerte is! Daar is uitkoms as ons ons hoop op God stel en nie op mense nie! Ja, dis waar, selfs die mense naaste ons stel ons dikwels teleur, maar nie God nie. “Moenie ‘n maat vertrou nie, moenie op ‘n vriend staatmaak nie, pasop wat jy sê vir die vrou langs wie jy lê. Die seun beledig sy pa, die dogter kom in opstand teen haar ma, die skoondogter teen haar skoonma. ‘n Man se huismense het sy vyande geword.” (5,6) Die oplossing is om my nie meer op mense te verlaat nie, maar myself tot GOD te keer! “Maar ek sal vertrou op die Here, ek sal wag vir die God wat my red. My God sal my gebed verhoor.” (7) Die oplossing vir al die spoke wat jou teister is ’n toekeer na God - wend jou in die gebed tot Hom. By die Here is daar bevryding en dan sal jy triomfantelik kan uitroep : “Wees nie bly oor my nie my vyand nie, al het ek tot ’n val gekom, ek sal weer opstaan!” (8) Hierdie is ‘n geweldige wapen teen die groot beskuldiger en aanklaer, Satan. Al die spoke is maar eintlik net in sy diens... 

DUISTERNIS EN LIG

Spoke floreer in die donker. Lig verdryf spoke. Om ontslae te raak van hierdie spoke soos Selfbejammering, Selfbewustheid, Mislukking, Verlore kanse, Skuldgevoelens moet God se lig eers oor my skyn. Ons enigste hoop is as God se lig ons verlig. Let op wat sê die profeet : “Die Here is my lig!” (8) Nou weet ons uit die Nuwe Testament, Jesus sê dat Hy die Lig van die wêreld is. Die lig wat die spoke uit ons lewens laat vlug is die evangelie lig. Die heerlike boodskap van Jesus se sterwe en opstanding. Sy genoegsame afgehandelde verlossingswerk! 

VAT DIE SPOKE AAN...

Kom ons kyk prakties hoe die evangelie se lig die spoke uit ons lewe verdryf. Ons vat hulle bietjie een vir een aan: 

Selfbejammering. Wat ’n verlammende spook! “Ag arme ek...” Met hierdie spook moet ek baie hard werk- ek moet hom sien vir wat hy is nl. sonde. Ja, jy het reg gehoor, Selfbejammering is sonde. Dis ‘n mosie van wantroue in God se bestuur van my lewe. As ek na die kruis kyk, die liefde van Christus vir my besef, sal ek besef dat selfbejammering sondig is. Selfbejammering is niks anders as opstand teen God se soewereiniteit nie. God het my mos gemaak soos ek is, Hy is in beheer van my lewe. Die goeie nuus is, dat daar bevryding ook van hierdie sonde is. Bely jou selfbejammering... ook dit kan vergewe word. En begin God dank... daar is soveel om voor dankbaar te wees... Hierdie spook vlug vir alle vorme van dankbaarheid en vergenoegdheid, hy kan dit nie uitstaan nie... 

Selfbewustheid. Dis daardie gedurige en verterende ongemaklikheid : “Wat sal ander mense van my sê, wat dink hulle van my? Ek voel altyd te vet, of te maer of te dom! Ek is vasgevang in mense vrees, ek is so bang vir kritiek ek doen maar liewers niks.” Selfbewustheid is eintlik net hierdie spook se skuilnaam. Sy regte naam is hoogmoed en hoogmoed is sonde! Die oplossing is om te verstaan dat as ek ’n Christen is, ek ’n nuwe identiteit gekry het deur Jesus se kruis en opstanding. As ek Jesus al aanvaar het, beteken dit mos dat ek saam met Hom gesterf het en saam met Hom uit die dood opgewek is! Die ou ID is dood. (Kliek op OORWINNING) Ek is nou ’n nuwe skepsel... God het my aanvaar en as sy eie kind aangeneem. Ek hoef geen mens te vrees nie. Ek kan tevrede wees soos God my gemaak het. Ek kan uitsien na die pad waarop Hy my lei in sy alwysheid! 

Mislukking. Hierdie spook kan uitgeken word aan sy geliefkoosde fluisterwoorde : “Onthou jy nog? Kyk hoe het jy daar verbrou, kyk watter skade het jy aangerig....Kyk hoe het jy die Here teleurgestel.” Jy moet hom hard aanvat op sy eie terrein. Sê vir hom : “Ja ek onthou alles..., maar ek onthou veral die kruis! Daar is volledig betaal vir alles. Ek het misluk, dis waar, maar Jesus het geslaag namens my!” 

Verlore kanse. “Ag het ek maar..,” is die herhalende gesanik van hierdie verlammende spook. Ek kan nie fokus op my huidige verantwoordelikhede nie, tob altyd oor dit of dat wat ek moes gedoen het. Kortom, ek is vasgevang in die slagyster van die verlede. Hoor nou baie mooi! Die boodskap van die kruis sê dat ons verlede uitgewis is en dat ons nou vorentoe kan kyk. Daarom kon Paulus ook sê : “Ek vergeet wat agter is en strek my uit na wat voor is.” (Fil. 3:13) Begin om dit te glo... 

Skuldgevoelens. Oor sondes van die verlede en hede. Heel dikwels fokus dit op daardie een groot sonde....daardie enkele verskriklike ding waaroor ek so bitter skaam en sleg voel. Hierdie is nogals ‘n baie groot en sterk spook. Dis ‘n duiwelse spook wat vir jou met sadistiese genot probeer afkraak : “Kyk wat het jy gedoen. Jy is niks anders as ’n sondaar nie.” Hy sê dit as jy so pas geval het, maar hy kan jou ook skielik herinner aan iets van lank lank gelede... Hoe antwoord jy hierdie spook? Stem saam! “Ja, ek is ’n sondaar, ek kan niks ontken nie, maar die Woord sê :“Christus het Homself vir ons sonde gegee” (Gal. 1:4) 

Oorkoepelend gestel – al hierdie spoke van duiwelse duisternis word deur die evangelie lig verdryf! 

Hoe skyn God se lig, die bevrydende evangelie lig oor my lewe? Vers 7 het die sleutel. "Maar ek sal vertrou op die Here, ek sal wag vir die God wat my red. My God sal my gebed verhoor.” Die eenvoudige waarheid van geloofsvertroue op God se beloftes. Spesifiek vertroue op Jesus Christus soos God Hom openbaar het, spesifieke vertroue op die sterwe en opstanding van Jesus. Om te vertrou – “Sy sterwe was genoeg, ja ook vir my! Daar is alles volbring! Ek was skuldig, maar Jesus het my straf gevat en nou staan ek sonder skuld voor God!” O, vriend bedink dit, glo dit, dank God vir hierdie waarheid. Ek erken my foute en onderwerp my aan sy tugtiging, maar ek weet Hy tugtig my nie om my te vernietig nie. Hy gee weer lig en oorwinning. Hierdie waarheid, die kruiswaarheid gee my die oorwinning oor al die teisterings en beskuldigings van die Satan. “Ek sal aanvaar dat die Here my straf in sy toorn, want ek het teen Hom gesondig. Wanneer Hy my saak verhoor en oor my uitspraak lewer, sal Hy weer lig bring in my lewe, sal ek ondervind dat Hy die oorwinning gee.” (9) Deur vas te hou aan die vaste waarheid van Jesus se genade offer sal ek die Satan en sy trawante plat trap. “My vyand sal dit sien, hy sal deur skaamte oorval word, hy wat vir my vra: "Waar is die Here jou God?" Ek sal op my vyand neersien, hy sal plat getrap word soos modder op die straat.” (10) 

BLOEI JY? STAAN WEER OP!!!

Is die spoke in jou lewe besig met ‘n skrikbewind? Is jy platgeslaan, lê en bloei jy in die donker? Sê in geloof : “Moet jou nie oor my verlekker nie, my vyand, al het ek tot ‘n val gekom, ek sal weer opstaan, al sit ek in die donker, die Here is my lig.” (8) Dis die wapen van elkeen wat aan Jesus behoort! Hiermee kan ons die spoke die hasepad laat kies!


*Natuurlik het hierdie profetiese boodskap in die eerste plek gegaan oor die situasie van die vervalle Jerusalem. Jerusalem sou weer opstaan en herbou word! Vers 11! "Die dag wanneer jou mure herbou word, dié dag sal jy nie onder die vyand se wet staan nie." Hierdie troos is duidelik egter ook vir God se kinders van alle eeue bedoel, soos Openbaring ons immers leer is almal wat aan Jesus behoort, die nuwe Jerusalem, die bruid van die Lam! 


God kan inderdaad spookgeteisterde bouvalle weer herstel!
(Foto - Kolmanskop)



Dinsdag 01 Mei 2018

Waarom was daar dinosourusse?

Waarom, hoekom, hoe werk dit...? Dis in die mens se aard om te wonder oor baie dinge en vrae te vra. Waarvandaan kom ons en waarheen gaan ons? Waarom bestaan ons? En wat van al die ander dinge wat bestaan? Wat is die sin van al hierdie dinge? Hoekom is daar nie net niks nie? Waarom was daar dinosourusse? Geen mens het hulle tog gesien nie, ons weet nie eers regtig presies hoe hulle gelyk het nie ongeag Jurassisc Park. En wat van die miljarde sterre wat so ver is dat hulle lig ons nog nie eens bereik het nie? Watter verskil maak dit dat hierdie goed bestaan, het dit enige nut en betekenis? Dit voel net of daar te veel dinge is wat ons nie verstaan nie, die betekenis van die werklikheid rondom ons is net te groot en omvattend om alles te begryp! Wees gerus, dis soos die skrywer van die Prediker ook eens op 'n tyd gevoel het. 

Ons lees in Prediker 7:23,24 : “Ek het alles met die hulp van wysheid getoets. Ek wou wysheid bekom, maar dit het buite my bereik gebly. Die betekenis van wat gebeur, lê buite bereik, baie diep; wie kan dit vind?” 



Maar heel waarskynlik word jy deur ernstiger dinge as dinosourusse en sterre gepla. Dieper vrae. Wat van die onreg en onregverdigheid in die lewe? Dit was ook vir die skrywer van Prediker ‘n raaisel... “In my lewe wat tot niks gekom het nie, het ek alles gesien: ‘n regverdige gaan onder al doen hy reg, ‘n goddelose geniet ‘n lang lewe, al doen hy verkeerd.” (7:15) Jy sien hier gaan die Prediker ‘n bietjie dieper in op die lewe as Spreuke. Miskien beter gestel : Hy benader dinge bietjie vanuit ‘n ander hoek. In Spreuke is die beginsel van oorsaak en gevolg gestel, "as jy so maak sal dit en dat gebeur" – en dit is so en bly waar. Maar Prediker merk op dat die lewe meer kompleks is as dit. (en jy het seker ook al) Daar gebeur slegte dinge met goeie mense en dikwels gaan dit met slegte mense goed. So als is nie so eenvoudig nie! Alles kan nie verklaar word in ‘n altyd-geldende lynregte skema van oorsaak en gevolg nie. Wat van al die tragedies, oorloë, natuurrampe... waar pas dit in, watter sin en doel het dit alles? 


Inderdaad soos die Prediker sê, die werklikheid is so groot en so ontsaglik diep. Wie kan dit heeltemal begryp? Die wysheid om alles rondom ons te verstaan bly maar net buite ons bereik. Dis deel van die groot boodskap van Prediker - alles is nie vir ons menslike logika verklaarbaar nie. Die wysheid waartoe ons toegang het verklaar nie alles nie... Ja, dis reg om alles te ondersoek en na te vors, maar ons as mense se insig bly beperk. Hierdie ondersoekende gees van die mens kom natuurlik van God, maar ons moet besef ons sal die werke van God nooit uitput met ons ondersoeke en wetenskap nie. “Ek het gesien dat God aan die mens ‘n taak gegee het om hom mee besig te hou. God het elke ding gemaak dat dit pas in ‘n bepaalde tyd, maar Hy het ook aan die mens ‘n besef gegee van die onbepaalde tyd. Tog kan die mens die werk van God van begin tot einde nie begryp nie.” (3:10,11) 

NUWE ONTHULLING 

Nou waar laat dit ons? Is daar nie tog ‘n sleutel tot verstaan nie? Is daar nie tog iemand of iets wat ten minste as vertrekpunt kan dien om die kompleksiteit van die heelal, die geskiedenis en ons eie bestaan te ontrafel nie? Die Nuwe Testament (Nuwe Verbond) maak ‘n dramatiese en ingrypende onthulling. Die sleutel van alle begrip is Jesus Christus, die sin van alles is Jesus Christus! 

Kyk na Kolossense1:15-17. 

"15. Die Seun is die beeld van God, van God wat self nie gesien kan word nie. Die Seun is die Eerste, verhewe bo die hele skepping.
16. God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en op die aarde is: alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie, konings, heersers, maghebbers, gesagvoerders. Alles is deur Hom en vir Hom geskep.
17. Voor alles was Hy al daar, en deur Hom bly alles in stand."

Dis waarskynlik ‘n ou Christelike lied wat Paulus aanhaal om sy hoofargument in die Kolossense brief mee te onderstreep. Jesus Christus is vir ons genoeg, want die volle heerlikheid van God woon in Hom. Jesus is oneindig heerlik, niks en niemand is groter as Hy nie. Hy is die belangrikste in die heelal, die eersgeborene, alles is deur Hom geskape, maar meer as dit – alles is ook VIR Hom geskape. Alles wat bestaan, bestaan ter wille van Jesus! Hy hou ook als in stand! Alles wat bestaan en bestaan het, is afhanklik van Jesus! Alles maak uiteindelik net sin in relasie tot Jesus! 

Jesus se rol is groter as net die persoonlike Verlosser van sonde. Hy het ‘n kosmiese rol. Die heelal, die oneindige heelal of heeltalle ("multiverse") draai rondom Hom! 

Kom ons kyk net na twee verdere bevestigings in die Skrif:

"In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. Hy was reeds in die begin by God. Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ‘n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie." (Johannes 1:1-3)

"In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak." (Hebreërs 1:1,2 )

DIE BOEKROL

Alles behoort aan Jesus! Maar Jesus is nog meer as net die erfgenaam en eienaar van die heelal. Hy beheer ook alles. Hy hou die sleutel tot die geskiedenis van die heelal, alles wat gebeur. Ons het gesê daar is baie dinge wat gebeur wat vir ons onverklaar en onbegryplik is. Soveel onreg, ellendes en rampe wat vir ons nie sin maak nie en baie keer heeltemal onregverdig lyk. Wie kan dit verstaan? 

Openbaring 5 beskryf vir ons ‘n uiters veelseggende en dramatiese toneel. ‘n Kykie agter die skerms! 

1.“In die regterhand van Hom wat op die troon sit, het ek ‘n boekrol gesien wat aan die voor-en aan die agterkant vol geskrywe was en wat met sewe seëls goed verseël was. 

2 .Toe het ek ‘n sterk engel gesien wat met ‘n harde stem uitroep: "Wie is waardig om die boek oop te maak deur die seëls daarvan te breek?" 

3. Maar niemand in die hemel of op die aarde of onder die aarde was in staat om die boek oop te maak en daarin te kyk nie. 

4. Ek het baie gehuil omdat daar niemand gekry is wat waardig was om die boek oop te maak en daarin te kyk nie. 

5. Toe sê een van die ouderlinge vir my: "Moenie huil nie. Kyk, die Leeu uit die stam van Juda, die Afstammeling van Dawid, het die oorwinning behaal en kan die boek met die sewe seëls oopmaak." 

6. Toe het ek voor die troon wat omring was deur die vier lewende wesens, tussen die troon en die ouderlinge, ‘n Lam sien staan, die Een wat geslag was. Hy het sewe horings en sewe oë gehad. Die sewe oë is die sewe Geeste van God, wat oor die hele aarde uitgestuur is. 

7. Hy het toe gegaan en die boek ontvang uit die regterhand van Hom wat op die troon sit. (Openbaring 5:1-6) 

Waaroor gaan die boekrol? Die boekrol bevat God se bloudruk, God se plan van verlossing en oordeel en einddoel met die hele skepping! God se beheer van die geskiedenis, van ewigheid tot ewigheid. Dis ontoeganklik vir die mens, dis verseël. Niemand is waardig en in staat om dit te begryp nie. Wat ‘n groot hartseer! Maar dan die dramatiese aankondiging, ja daar is Iemand! Iemand wat God se planne kan verstaan en inwerking stel. Iemand deur wie die ontvouing van God se geheime doel met alles tot uitvoering gebring word. Jesus, die Leeu van Juda, maar juis ook die Lam wat vir ons geslag is! Ons Koning is die Almagtige, maar juis ook die swak en nederige Gekruisigde! (Kliek LEEU/LAM

JESUS IS DIE SLEUTEL TOT ALLE VERSTAAN EN DIE SIN VAN ALLE BESTAAN. 

Die skepping en die geskiedenis van die skepping draai om Jesus Christus. Wie Hom nie ken nie, weet niks, verstaan niks en beteken niks!  Die goeie nuus is : Ons kan Hom nou reeds ken, nou reeds liefhê. God het ons juis gemaak en ontwerp om Hom te ken en te eer. Hy maak die hele lewe sinvol – ook as ons navorsing doen oor dino’s of sterrekunde, maar juis ook as ons eenvoudige dinge doen soos om ‘n koppie koffie in die oggend te drink of ‘n baba se doek om te ruil of kinders skool toe te vat. Ons hele lewe en ook ons sterwe maak sin in Jesus. Niks is toevallig nie en niks is 'n vermorsing nie. Ook in onreg en in hartseer is sy liefde by ons en kan ons Hom vertrou dat Hy alles tot by die finale einddoel sal bring. Weens God se liefde in Hom het ons niks te vrees nie. (Kliek – HIPEROORWINNAARS


Om terug te kom na die dinosourusse: Dis nie die plek en tyd om te bespiegel oor die wetenskaplike bevindings en vermoedens wat betref dinosourusse nie. Laat die navorsing aangaan... Ons het immers die kultuuropdrag om die aarde te bewoon en te bewerk, en dit sluit wetenskaplike ondersoek in. Wie weet watter interessante dinge daar nog wag om ontdek te word? Wat ons wel nou reeds met sekerheid kan weet is dat Jesus hulle gemaak het vir Homself. Hulle het ook ‘n rol in die hele skepping wat ter wille van Hom bestaan. Hulle het bestaan ter wille van Sy eer, om as bewyse te dien van sy Goddelike heerlikheid en almag! 

Ons het nog nie nou alle antwoorde op al die detail van ons wetenskaplike of lewensvrae nie, maar ons kan weet om Hom te ken is genoeg, want Johannes 14:6 leer ons : “Jesus het vir hom gesê: "Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.” 

Hy, Jesus is alles! Voordat jy Hom nie ken nie, kan niks begin sin maak nie, kan jy nog nie LEWE nie!