BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 20 April 2018

SWAPE EN SOTTE SAL SINK!

Sonder wysheid wag ellende! Wat is wysheid en waar pas dit in? Het jy wysheid? Soos jy sal weet is daar verskillende literatuursoorte in die Bybel, onder andere...geskiedkundige boeke, profetiese boeke, briewe aan gemeentes en persone ens. Daar is ook wysheidsboeke. Ons dink veral hier aan boeke in die Ou Testament soos Spreuke, Prediker, Job en sekere Psalms. Waar pas hierdie wysheidsboeke in? Net so vinnig : Die geskiedkundige boeke vertel vir ons van God se groot reddingsdade. (Dink byvoorbeeld aan Eksodus en Josua) Dit handel oor God wat sy volk uit Egipte uit die slawerny bevry het en vir hulle na ‘n nuwe vrugbare land gebring het. Maar nou moes hierdie volk weet hoe om gelukkig en gehoorsaam in die nuwe land, hulle erfenis te leef. En hiervoor is wysheid nodig. 


Dit handel oor die vraag oor hoe om die alledaagse lewe met sy probleme, versoekings, slaggate en uitdagings te verstaan en regverdig te leef. Hoe om sin te maak van die lewe en sinvol te leef as God se mense. Om God se wil in die praktyk toe te pas, om die regte keuses te maak. 

DIE VROU WAT ROEP 


Aan die begin van Spreuke word ons bekendgestel met die grondbeginsels van die wysheid. Wysheid word hier vanaf Spreuke 1:20 gepersonifieer (uitgebeeld) as ‘n vrou. 


20.Wysheid is ‘n vrou wat langs die straat staan en roep, sy laat haar stem hoor op die stadspleine, 

21.sy roep bo die rumoer uit, by die ingange van die stadspoorte sê sy wat sy te sê het: 

22. "Julle onkundiges, hoe lank gaan julle nog vashou aan julle onkunde, gaan die grootpraters hulle pratery geniet en die swape ‘n afkeer hê van kennis? 

23.As julle luister na my teregwysing, gee ek julle my wysheid in oorvloed en leer ek julle my woorde begryp. (Spreuke 1:20-23) 

BAIE ERNSTIG! 

Sy roep hardop uit, gee ‘n waarskuwing, maar maak ook ‘n belofte. (22,23) Wat my getref het is die bytende en verwytende aspek van die wysheid. “Julle het my raad alles in die wind geslaan, julle wou julle nie laat teregwys nie. Daarom sal ek lag as die ongeluk julle tref, ek sal met julle spot wanneer die angs julle oorval,” (25,26) Dit klink so half vreemd. Pas so ‘n skerp verwytende toon by die Bybel? Is dit nie leedvermakerig nie? (Schadenfreude is die pragtig beskrywende Duitse woord) Ek dink nie Spreuke wil sê dat die wysheid ongeskik, ongevoelig of onbeskof is nie. Spreuke onderstreep net die erns van die saak. Dodelike erns! Dade het gevolge. Dwase dade het skrikwekkende en vernietigende gevolge. 

Dwaasheid lei tot ‘n ramp! 
Slegte keuses bring swaarkry. 
Sonder wysheid wag ellende. 
Swape en sotte sal sink! 

Klink rof nê? Ons leef in ‘n tyd waarin niemand gewaarsku wil word nie, niemand wil enige voorskrifte hoor nie. “Moenie vir my preek nie, ek is vry om te maak soos ek wil, ek is mos my eie baas” of “Moenie vir my sê ek mag nie rook nie, wie wil nou met pienk longe doodgaan?” en baie keer : “Wat is verkeerd met saamwoon voor die huwelik, watter verskil maak ‘n stukkie papier?” 

Wysheidslering is ongewild en bots teen die tydsgees. Alle gesag en norm word bevraagteken... ouers, onderwysers, kerk, die Bybel se gesag, ja God se gesag word geminag en sy norme weggesmyt. Daar mag nie gewaarsku of raad gegee word nie. En as daar skrikwekkende gevolge is, dan moet ons tog net simpatiek wees en moet ons mooi soetsappige trooswoordjies rig wat niemand in elk geval glo nie... 

Ons het die perspektief van ‘n boek soos Spreuke ontsettend baie nodig! Daar is ‘n dringende behoefte aan Spreuke se lering oor wysheid. En meer spesifiek die beginsels wat daaragter sit. En baie belangrik, ons moet natuurlik weet hoe om dit te verstaan en toe te pas binne die konteks van die Nuwe Testament. 

TWEE BELANGRIKE HOEKPENNE 

Waaroor gaan die wysheid in Spreuke? Net twee algemene vertrekpunte. 

1.Die kernbeginsel van wysheid is om God te ken. “Kennis begin met die dien van die Here; dit is net dwase wat wysheid en opvoeding gering ag.” (1:7) Wysheid het dus niks te maak met intelligensie nie, maar met onderwerping aan God se gesag. Die voorwaarde vir wysheid is nie ‘n hoë IK nie, maar ‘n groot respek vir God! Wysheid gaan dus ook reeds in die Ou Testament nie net oor ‘n klomp losstaande reëls en regulasies nie. Dit gaan oor liefde vir God. Wie God ken en liefhet en respekteer sal erns maak met God se ordes en voorskrifte. En onthou, God se norme, wette en waardes was nooit bedoel om ons vreugde te steel of die lewe vaal en vervelig te maak nie. God se wysheid gaan oor ons welsyn! Dis vir ons beswil en tot ons voordeel! 

2.Wat jy met die wysheid maak het gevolge. Ons keuses het gevolge! Die verontagsaming van wysheid het skrikwekkende uitkomste. Wie die raad van die wysheid verwerp oor sake soos owerspel, luiheid, bedrog en dronkenskap...sal ly onder die bittere nagevolge. Vat nou byvoorbeeld : “Wie is dit wat sug en steun, wat rusie maak en kla, onnodig seerkry en bloedbelope oë het? Dit is dié wat tot laat sit en drink, dié wat aanhou proe aan drank.” (Spreuke 23:29,30) Die anderkant is net so waar. Gehoorsaamheid aan die wysheid het positiewe gevolge. “"Die onkundiges se dwaling kos hulle die dood, die dwase word vernietig deur hulle selfversekerdheid, maar wie na my luister, sal veilig wees en hoef geen ramp te vrees nie." (32,33) 

MEER AS REËLS : DIE ALWYSE EEN 

In die Nuwe Testament kry ons ‘n baie dieper en verrassende perspektief op die wysheid. Wysheid is meer as reëls, wysheid is ‘n Persoon. JESUS! Wysheid is in Jesus te vind, maar meer nog, Hyself is die wysheid! Jesus sinspeel daarop in Lukas 11:31. “Die koningin van die Suide sal op die oordeelsdag opstaan saam met die mense van vandag en teen hulle getuig. Sy het immers van die uithoeke van die aarde af gekom om na die wysheid van Salomo te luister. En hier staan Een wat groter is as Salomo!” Jesus is die groot Wyse, groter as Salomo! Dit word baie duidelik gestel in 1 Korintiërs 1:30. “Aan God is dit te danke dat julle met Christus Jesus verenig is. Hy het vir ons geword die wysheid wat van God kom: die vryspraak, die heiliging en die verlossing.” Jesus is die bron van alle wysheid wat ons nodig het. In Hom is al die wysheid te vinde! “Die geheimenis is Christus, en in Hom is al die verborge skatte van wysheid en kennis te vind." (Kolossense 2:2,3) Hy is genoegsaam, Hy kan ons nooit verveel nie en ook nooit teleurstel nie. Daar is geen ander geheime resep tot Godgegewe lewensvreugde as Hyself nie! 

Hoe raak Jesus as die beliggaming van alle wysheid ons dan nou prakties? Om Jesus te ken en as Here te erken is om toe te laat dat Hy ons daaglikse keuses en leefstyl beïnvloed. Baie belangrik : Die wysheid gaan nie bloot oor ‘n lang lys moets en moenies nie, dit behels nie bloot ‘n klomp koue kliniese reëls nie. Dit behels verhoudingswysheid. Dit gaan oor gehoorsaamheid aan my Verlosser wat my oneindig liefhet sy lewe vir my gegee het. Dit gaan oor dankbaarheid. Dit gaan daaroor dat ek Hom wil eer en gelukkig maak en eerste stel in my besluite. Alle etiese besluite moet ek oorweeg vanuit die oogpunt van Jesus as my Verlosser en Koning! Die vraag is dus nie, is daar ‘n teks wat dit of dat verbied nie. Die vraag is wat doen dit wat ek wil besluit aan die beeld van Jesus in my lewe, hoe raak dit my liefde vir Hom, is dit hoe ek my lojaliteit aan Hom as Koning gaan bewys? Waarmee is jy tans in jou lewe besig? Wat sê jou keuses, jou stokperdjies, jou manier van besigheid doen van jou verhouding met Jesus as die WYSHEID van God? 

Om Jesus as wysheid te gehoorsaam en te vertrou is om die lewe te hê. Dis die beginsels wat Hy uitspel onder andere in die bekende Bergrede. Jesus verduidelik die gevolge van gehoorsaam sowel as ongehoorsaamheid aan Hom op treffende wyse met die beeld van die twee huise. Sonder Jesus is jy ‘n dwaas en sal vir ewigheid ‘n dwaas wees en jou hele bestaan sal ineenstort. Met Jesus is jy ‘n wyse, die wyse man wie se huis op die Rots gebou is en wat in al die storms van die lewe sal staande bly. Ewig staande sal bly, ook in die eindoordeel! 

Wanneer ons Jesus self sien as die volle vervulling en beliggaming van wysheid maak Spreuke 8:34-36 so wonderlik sin: "Dit sal goed gaan met die mens wat na my luister, die mens wat elke dag na my huis toe kom en op my drumpel staan en wag. Wie my vind, vind die lewe self en geniet die guns van die Here. Maar wie my nie wil vind nie, doen homself skade aan; wie my haat, hou van die dood." 

Om Jesus te verwerp is om die wysheid te verwerp, dis ‘n keuse vir die dood. Om jouself aan Hom te onderwerp, is om wysheid te kies dis ‘n keuse vir die lewe!


Wysheid is om 'n sambreel gereed te hê, wanneer die reën kom!

1 opmerking:

  1. Baie dankie vir hierdie skrywe Johannes. Dis so noodsaaklik. Dis so volledig en daar is omtrent nie iets om by te voeg nie. Net om te bevestig dat die een vrug van wysheid, of deel van wysheid is dat ons God sal gehoorsaam - uit diepe dankbaarheid vir wie Hy is en wat Hy vir ons gedoen het.

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.