BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Maandag 11 Desember 2017

TRUMP EN JERUSALEM

- moet Christene hande klap?



Trump se besluit oor Jerusalem het skokgolwe deur die wêreld gestuur. Groot toejuiging van sy kiesers en vanuit sekere elemente in Israel self. Die res van die wêreld en die Palestyne en Arabiere in die algemeen voel natuurlik baie anders oor die saak. Nou, almal wat iets van Amerikaanse politiek verstaan sal besef, Trump se aankondiging dat die VSA amptelik Jerusalem as die staat Israel se hoofstad erken, weinig met oortuiging te make het, maar wel baie met persoonlike populariteit en om die guns van sy groot Joodse casino baas donateur, Sheldon Adelson te behou. En so terloops : Trump se aankondiging is ook nie so dramaties en dapper soos baie van sy ondersteuners graag sou wou glo nie. In sy aankondiging oor die erkenning van Jerusalem was daar ‘n opvallende weglating – Hy het nie die Israelse terminologie oor Jerusalem gebruik nie. Israel verwys na Jerusalem as die “ewige onverdeelde” hoofstad van Israel.* Trump het net na “Jerusalem” verwys en dus die deur oopgelaat dat die grense van Jerusalem nog steeds onderhandelbaar is.



Ek wil egter nie op hierdie fasette konsentreer nie, maar net vra wat die geestelike en Bybelse dimensie van hierdie besluit behels?


JERUSALEM SE BETEKENIS VIR ONS


Hoe belangrik is die stad Jerusalem, spesifiek vir ons as Christene? En as dit belangrik is, in watter sin? Is God op ‘n manier meer daar teenwoordig as op ander plekke? Maak die status van Jerusalem hoegenaamd nog saak vir ons? Behoort evangeliese Christene, Trump se besluit toe te juig?



Histories gesproke in die ontvouing van God se verlossingsplan het Jerusalem natuurlik ‘n sleutelrol gespeel. Dis die stad van Dawid, die setel van die tempel, die plek waar God besluit het om op ‘n besondere manier teenwoordig te wees! As geografiese plek waar ons Here Jesus gekruisig is, het Jerusalem vir ons natuurlik ‘n geskiedkundige belangrikheid. Maar het Jerusalem (en of dit nou amptelik as Israel se hoofstad erken word of nie), enige geestelike betekenis vir ons?

DRAMATIESE VERSKUIWING

Met die koms van Jesus het daar dramatiese verwikkelinge gekom in die rol van Jerusalem. Die geografiese Jerusalem het geen geestelike betekenis meer vir ons nie! Jesus se gesprek met die Samaritaanse vrou by die put het dit vir altyd vir ons opgeklaar!

Die vrou het geredeneer : “Ons voorouers het God op hierdie berg aanbid, en tog sê julle die plek waar ‘n mens God moet aanbid, is in Jerusalem."

Jesus sê toe vir haar: "Glo My, Mevrou, daar kom ‘n tyd wanneer julle die Vader nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem sal aanbid nie.

Julle aanbid sonder om te weet wat julle aanbid; ons weet wat ons aanbid, want die verlossing kom uit die Jode.

Maar daar kom ‘n tyd, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader deur die Gees en in waarheid sal aanbid, want die Vader wil juis hê dat die mense wat Hom aanbid, dit so moet doen. (Johannes 4:20-23)

Ware aanbidding is gestel in Jesus Christus. Hy het immers die TEMPEL VAN GOD (kliek) vervang en by implikasie daardeur die belangrikheid van die stad Jerusalem gerelativeer! 

Ons moenie vergeet nie, Jerusalem het Jesus verwerp en Jesus het die oordeel oor hierdie stad en die tempel uitgespreek. 

"Jerusalem, Jerusalem! Jy wat die profete doodmaak en die boodskappers stenig wat na jou toe gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ‘n hen haar kuikens onder haar vlerke, maar julle wou nie!

Kyk, nou word julle stad aan julleself oorgelaat. Maar Ek sê vir julle: Julle sal My sekerlik nie sien nie totdat die dag kom wanneer julle sal uitroep: Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!" (Lukas 13:34,35) 

Later spreek Hy ‘n nog duideliker oordeel uit oor Jerusalem!

"Sommige sal deur die swaard val en ander as krygsgevangenes na al die nasies toe weggevoer word. Jerusalem sal deur die heidennasies vertrap word totdat ook hulle tyd verby is." (Lukas 21:24)

En die geskiedenis leer ons dat die voorspelde oordele wel oor Jerusalem voltrek is...

JERUSALEM SE TOEKOMS?

Die groot vraag is natuurlik nou wat bedoel word as Jesus verwys na die vertrapping van Jerusalem wat ook tot ‘n einde gaan kom? Voorspel dit ‘n glorieryke aardse bedeling vir die geografiese stad Jerusalem? Dis natuurlik hoe die chiliasme, wat 'n duisendjarige aardse koninkryk van Jesus verwag, dit verstaan.**

In die breë Bybelse heilsgeskiedenis, dink ek moet ons nie hierdie uitspraak van Jesus verstaan as ‘n wonderlike toekoms vir die huidige stad Jerusalem nie. Ons moet Skrif met Skrif vergelyk. ‘n Uitstaande belangrike hoofstuk in die Ou Testament wat handel oor die toekoms van Jerusalem is Jesaja 60. (Lees dit gerus, maar onthou dit is geskryf in konkrete Ou Testamentiese taal, segswyse en denkraamwerk.) ‘n Baie belangrike insig word verkry as ons hierdie hoofstuk met Openbaring se beskrywing van die Nuwe Jerusalem (die Bruid van Christus) vergelyk. Die ooreenkomste is verstommend treffend!

“Bedags sal dit nie die son wees wat vir jou lig gee nie, snags sal dit nie die maan wees wat oor jou skyn nie: die Here sal vir jou ‘n ewige lig wees, en jy sal roem in jou God.

Jou son en jou maan is die Here, Hy gaan nie onder nie en word nie dof nie. Die Here sal vir jou ‘n ewige lig wees, jou dae van smart is verby.” (Jesaja 60:19,20)

Vergelyk dit nou met Openbaring.

“Die stad het nie die son en die maan nodig om hom te verlig nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp.” (Openbaring 21:23)

“Daar sal nie meer nag wees nie. Die mense het nie die lig van ‘n lamp en die lig van die son nodig nie, omdat die Here God hulle sal verlig, en hulle sal tot in alle ewigheid regeer.” (Openbaring 22:5)

Jesaja beskryf die Nuwe Jerusalem in profetiese taal! 

Dit word bevestig deur die Nuwe Testament self. Die klem in die Nuwe Testament verskuif van die fisiese stad Jerusalem na die Nuwe Jerusalem. Die teologiese belangrikheid van die aardse stad Jerusalem vind vervulling in die waarheid van die Nuwe Jerusalem! (Kliek op Nuwe Jerusalem) Trouens Openbaring verwys eintlik baie negatief na die aardse Jerusalem as die plek waar ons Here gekruisig is!

“Hulle lyke sal in die hoofstraat van die groot stad lê waar hulle Here ook gekruisig is. Die stad word sinnebeeldig Sodom en Egipte genoem.” (Openbaring 11:8)

Ook Paulus heg geen spesiale geestelike betekenis aan die geografiese Jerusalem nie. Trouens om die onversoenbaarheid tussen redding deur die wet en redding deur geloof uit te beeld verwys hy baie sterk negatief na die aardse Jerusalem. En dan maak hy terloops ‘n positiewe verwysing na die hemelse Jerusalem! “Hagar staan vir Sinaiberg in Arabië, en dit is ‘n beeld van die huidige Jerusalem, want Jerusalem en sy kinders is slawe. Maar die hemelse Jerusalem is vry, en dit is ons moeder.” (Galasiërs 4:25,26)

Donald Trump se besluit (ongeag die applous van baie Christene) is eintlik baie teenproduktief vir die Christelike evangelie se vooruitgang veral in die Moslem wêreld. Dit plaas Arabiese Christene in ‘n baie netelige posisie. (Dink ook sommer, wie is ons naaste broers en susters in die geloof - Arabiese Christene wat in Jesus glo of Sioniste wat Jesus verwerp?)  So het die hoof van Egipte se Koptiese Kerk, Pous Tawadros die Tweede reeds gesê hy weier om die Amerikaanse adjunkpresident, Mike Pence te ontmoet wanneer hy Kairo later die maand besoek. Dis ‘n verstaanbare reaksie. Trump sal dit egter nie verstaan nie. Natuurlik dis te veel verwag van hom wat nie eens die woord vergifnis verstaan nie om diepgaande teologiese insig te toon. Van evangeliese Christene verwag mens egter meer insig en sensitiwiteit... Kom ons lees meer die Bybel en kyk minder TBN...

*Hy het wel dié term in sy verkiesingsbeloftes gebruik.

** Meer spesifiek, pre-millenialisme.
Diana Butler Brass som dit baie goed op:
I doubt that President Trump could explain dispensational pre-millennialism. I doubt he knows the term. But his evangelical supporters know it. Some of his advisers are probably whispering these prophecies in his ears. Trump might not really care how they interpret the Bible, but he cares that white evangelicals continue to stand with him. Moving the embassy to Jerusalem is one way to affirm his commitment to these evangelicals -- reminding them that he, Donald J. Trump, is pressing biblical history forward to its conclusion and that he is God's man in the unfolding of these last days.

2 opmerkings:

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.