BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Woensdag, 28 Junie 2017

“PA, BEGRAWE MY OP DIE RUGBYVELD”

- die onverantwoordelikheid van Namibiese skolesport!

[Hierdie paar gedagtes het lankal reeds begin groei in my hart en op die rekenaar, maar ek het tot nou toe gehuiwer om dit te plaas, tot vanoggend toe ’n bekommerde pa sy hart met my gedeel het...]

Slaan my, skop my, skiet my, nes jy wil, maar die waarheid moet gesê word. As ‘n onderwyser-afrigter laat deurskemer dat hy eintlik nie heeltemal so bly is as ‘n span van hom na ‘n eindronde deurdring nie. As jy hoor hoe ‘n skolespan op een dag op Okahandja én Outjo moet speel. As getroue katkisante weens sportverpligtinge dit net nie kan maak om op ‘n Sondag betyds en vars in die klas te wees nie. As ‘n enkelouer by jou kla oor die geweldige klomp geld wat dit kos om die kinders te laat deelneem... As daar naweek vir naweek ‘n dolle gejaag oor die Namibiese vlaktes en op gevaarlike taxi roetes plaasvind om kinders van noord en suid, oos en wes vir wedstryde aan te karwei... As die uiteenlopende sportbedrywighede oor naweke selfs verwydering binne in ‘n huisgesin bring, want een kind speel op hierdie dorp en ‘n ander een op ‘n ander plek... As daar weinig plek is vir geestelike en kulturele bedrywighede in die week, want sportoefeninge word nou al vir drie middae in die week gereël, dan begin jy vermoed dat dinge op sportgebied hand uit geruk het. Daar is byna nie meer iets soos ‘n rustige naweek wanneer ‘n gesin iets op hulle eie kan doen nie! Om ‘n kerkbasaar of gemeentefunksie te reël, waar ons kosbare kinders ook saam kan wees het haas onmoontlik geword. Dit word geskuif ter wille van skolesport na ‘n ander naweek om maar net weer uit te vind dat die ander naweek ook geokkupeer is.

Iewers is iets nie pluis nie, of is dit normaal en reg dat kinders met beserings gedruk word om maar deel te neem? Is dit reg dat die geestelike opvoeding van ons kinders altyd tweede viool moet speel? Is dit gewens dat ons kinders (en ouers) te moeg is om op Sondae in die erediens te wees?

Ek hoor iemand teenkap : “Sport was nog altyd vir ons Suidwesters baie belangrik, ook in die ou dae.” Ja, ek stem saam, maar dit word vandag baie meer oordryf. (en natuurlik was als wat in die “ou dae” gebeur het ook nie noodwendig altyd reg nie) Een rede vir die sportontploffing is natuurlik al die ekstra byeenkomste, want ons privaatskole moet ekstra fondse insamel. En mens het begrip daarvoor. En die onderwysers (wie se gesinslewe ook ontwrig word) se harde werk moet waardeer word. Maar is die prys in lewenskwaliteit en gesinstyd en Godstyd wat ingeboet word om by die sportkalender by te hou nie dalk net te hoog nie?

Is ek nou teen sport en veral skolesport? Baie beslis nie. Sport is baie belangrik vir ’n gesonde liggaam, en ons weet almal mos ‘n gesonde liggaam huisves ‘n gesonde gees. Laat ek dit kategories stel : ‘n Gebalanseerde sportprogram gerugsteun deur goeie morele beginsels is van groot waarde vir die vorming van kinders na liggaam en gees. Niemand betwyfel dit nie. Maar alles wat TE is (behalwe te voet, te perd en tevrede), is gevaarlik! En ons is nou reeds heeltemal TE ver binne die gevaarsone van oordrywing en verafgoding van sport...

Hierdie eensydige klem op sport laat my weer dink aan die hartseer verhaal van die seun wat in die beeskraal begrawe wou word... (so op my manier vertel) Dit het blykbaar iewers op ‘n plaas in Suid-Afrika gebeur. Pa was ‘n uitstekende Afrikanerbeesteler. Sy hele bestaan en lewensdoel het gedraai rondom die teel en versorging van sy spog rooi Afrikanerbeeste. Pa het vir sy seun als van beeste geleer, maar nagelaat om die evangelie aan hom oor te dra. Toe word seun siek en lê sterwend en sonder hoop vir die ewigheid in die opstal. Sy pa het hom nooit voorberei op hierdie laaste groot reis nie. Daar was vir niks anders tyd as Afrikanerbeeste nie... Nie tyd vir aandag, vir luister, vir liefde en vir die Woord nie. Die seun se laaste woorde het die tragedie van sy lewe en sterwe pynlik akkuraat opgesom: “Pa, begrawe my maar in die beeskraal!”

PASOP!

Pasop vir eensydigheid in ons kinders se opvoeding. Hulle weet als van rugby en netbal en hokkie, maar baie is totaal onkundig oor die Woord van God.

Pasop vir die onmenslike groot druk op kinders, diegene wat in sport presteer sowel as die ongelukkiges wat nie die span haal nie. 

Pasop vir ouers wat hulle eie (sport)ideale wil uitleef in hulle kinders, dikwels ten koste van hulle kinders.

Pasop as skole sport as ‘n advertensiemedium, werwingsaksie, geldinsamelingsprojek en beeldbou-poging gebruik op so ‘n manier dat dit lei tot benadeling van ander fasette van ons kinders se vorming.

Pasop as kinders se persoonlike gesondheid in gevaar gestel word, omdat hulle moet speel ten spyte van beserings of omdat te jong kinders in spanne ingedruk word en dus met groter en sterker kinders moet kompeteer.

Pasop dat oorvol sportprogramme in die week en naweek ons nie van kosbare gesinstyd en kerktyd beroof nie. Tyd wat nooit weer ingehaal kan word nie...

Pasop dat die manier van sportbeoefening en motivering nie lei tot ‘n onbybelse (kliek) SPOG EN GROOTPRAAT kultuur nie!

Pasop dat ons soveel energie en tyd aan sport bestee sodat ons die belangrikste in die lewe verwaarloos en ons kinders uiteindelik ‘n uitsiglose ewigheid moet binnegaan... Dat ons dalk eendag, by wyse van spreke moet hoor : “Begrawe my op die rugbyveld” of “Begrawe my onder die netbalbaan...”

Pasop dat sport nie die eintlike “god” in ons lewens word nie! Wie of wat aanbid ons regtig? Nie mooi woorde (spangebedjies) en vroom leuses nie, maar sigbare lojaliteit aan Jesus en Sy kerk sal uitsluitsel gee oor hierdie vraag...

Dis seker onrealisties om te verwag dat alle ouers die gevaar van eensydige Christuslose (of gebrekkige)  opvoeding moet kan insien, maar verbondsouers mag beslis nie in die lig van hulle doopbelofte toesien dat hulle kinders op die Molog altaar van oordrewe skolesport geoffer word nie!

Dit sal seker onmoontlik wees vir ouers en onderwysers wat self nooit hulle voete in enige kerk sit nie om ons angs oor verlore gemeentetyd te verstaan, maar vir die wat honger en dors na die Woord en die gemeenskap van die gelowiges het die sportoordrywing pynlike gevolge. Kinders van God alleenlik sal instemmend kan begryp wat Paulus aan Timoteus skryf : "Om jou liggaam te oefen, het wel ‘n bietjie waarde, maar om in toewyding aan God te lewe, het in alle opsigte groot waarde, want dit bevat ‘n belofte van lewe, vir nou en die toekoms." (1 Timoteus 4:8)

Ons kan baie mooi verskonings en verduidelikings aanvoer om God, sy gemeente en ons huisgesinne af te skeep ter wille van sport, maar in die lig van Jesus se radikale liefdesoffer klink dit hol en leeg... Mag ons genade vind om volgens ons gewetens te handel in dankbaarheid oor hierdie groot liefde!



Lees ook : FOUT MET RUGBY?

11 opmerkings:

  1. Baie dankie vir jou baie waar en nodige woorde Johannes. Myns insiens is sport een van die grootste afgode van ons tyd. As jy kyk na die duisende in sportstadions, dan lyk dit soos 'n aanbiddingsdiens... van sport!
    Psalm 90 het die afgelope tyd 'n diep indruk op my gemaak, na aanleiding van 'n begrafnispreek daaroor. In hierdie Psalm sien ons die ewigheid van God, en die verganklikheid van die mens - ons lewensduur is soos iets wat deur 'n vloed meegsleur word, soos 'n droom, soos gras, soos 'n sug.
    In die lig hiervan bid Moses: "Leer ons om ons dae so te tel dat ons ’n wyse hart mag bekom!" (Ps. 90:12, OAV) Ons moet leef in die lig van die ewigheid.
    Soos Jesus ook gesê het: "Want wat baat dit ’n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal ’n mens gee as losprys vir sy siel? " (Mat. 16:26a, OAV)
    Philip, Kaapstad

    AntwoordVee uit
  2. Liewe Johannes

    Jy weet waar die kop van 'n spyker sit. Met jou artikels slaan jy die spyker gereeld op sy kop. Dankie vir die besorgheid wat jy moedig deel oor die sport probleem op skole. Ek dink daar is baie ouers wat in hierdie 'rat race' vasgevang sit en nie weet hoe om hier uit te kom nie. Veral as dislojaliteit teenoor die skool dalk as 'n groter sonde beskou word as dislojaliteit teenoor Christus en sy verbondsgemeente. Maar miskien is dit verkeerd van my om lojaliteite teenoor mekaar af te speel. Dit is dalk eerder ‘n geval van heroorweging van prioritiete wat hier in die gesigsveld kom. Ook ter wille van die welwese van ons kinders se geestelike vorming en heil.
    'n Mens het regtig begrip vir die buitengewone opofferings wat van ouers en kinders gevra word, ook wanneer die kom by deelname aan en ondersteuning van sportaktiwiteite. Meer nog in 'n wyduitgestrekte land soos Namibië. Maar wanneer dit alles ten koste van kerklike meelewing en onderlinge gesinsverkeer sou geskied kom 'n gesonde gebalanseerde leefwyse hiermee in gedrang. En dit kan sekerlik nie maar net geignoreer word nie.

    Groete
    Coen Sutton

    AntwoordVee uit
  3. Beste Johannes,
    "'n Gesonde liggaam huisves 'n gesonde gees"??? Is dit nie presies ons probleem nie? 'n Leun wat oor dekades heen aan elke generasie kinders geleer word en daarmee regverdig ons alle sportmalighede. Die skrif leer ons heltemal iets anders oor die oorsprong van 'n gesonde gees. In ons eie vlees en sport is dit defnitief nie te vinde nie. Ek het stukkende, ou afgetakelde en sieklike liggame gesien wat baie gesonde geeste gehuisves het, dan nie eers te praat van die verbryselde liggaam van Christus nie.
    Groete
    Eckart

    AntwoordVee uit
  4. Eckart, jy is natuurlik heeltemal in die kol! Baie dankie vir jou vars en sinvolle perspektief. Jy is so reg - in die mees stukkende liggame kry mens die pragtigste "geeste" wat nuutgemaak is deur die Gees! Wat jy stel word natuurlik duidelik deur Paulus in 2 Kor 4:16 bevestig : "Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe."

    Gesonde liggame is dus hoegenaamd geen voorvereiste vir 'n gesonde geestelike lewe nie! Ek dink tog wel die spreekwoord maak sin binne beperkte parameters in die opsig dat die liggaamlike toestand van 'n mens tog 'n invloed het op die emosioneel/geeselike sy van die mens! Oefening (op 'n gebalanseerde manier) doen mens beslis emosioneel ook goed!

    Nogmaals dankie vir jou moeite om hier te reageer! Mense is maar sku om hier hulle mening in die openbaar te lug.

    Vreindelike groete
    Johannes

    AntwoordVee uit
  5. Goeie môre. Dis nie net sport nie. My opinie is dat ons jaag na wind (geld). In my jonger dae was winkels nie oop naweke nie. Kan onthou hoe my ouers altyd beplan het om genoeg aan te skaf vir naweke. Vandag is dit elke dag van vroeg tot laat oop. Wanneer kan die mense wat werk tyd kry vir sielkos?

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Jy is natuurlik heeltemal reg! Mammon en die sportgod loop hand aan hand. En die feit dat daar ook nie meer respek vir die Sondag is nie, maak dit nog makliker om voor beide te buig...

      Vee uit
  6. Skitterende stuk. Baie dankie Johannes!

    AntwoordVee uit
  7. Beste Johannes en Eckart

    Net twee gedagtes: Ons moet nie gesonde gebalanseerde oefening verwar met oordrewe prestasie gedrewe sportbeoefening nie. Die ironie is dat ondanks die geweldige fokus op sportbeoefening is ons kinders gemiddeld fisiologies baie slegter daaraan toe as 'n dekade of twee gelede bloot omdat hulle onder andere minder te voet en te fiets is en minder speel (maar dis 'n onderwerp op sy eie).

    Ons hoor dikwels daar word gesê dat sport karakter bou. Dis ook 'n halwe waarheid. Dit sou meer akkuraat wees om te sê dat sport karakter uitbring. 'n Christen neem tog anders deel aan sport as die wêreldling. Karakter word bepaal deur opvoeding en hoewel sport as opvoedmedium gebruik kan word mag dit nooit ons tyd so steel en energie so tap dat ons by niks anders uitkom nie.

    Groete
    Buys

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Dankie Buys vir jou pragtig gebalanseerde opsomming van die saak! So word yster deur yster geslyp! Ek dink ook die ontspanne speelaspek is van uitserste groot waarde vir gesonde ontwikkeling en dis inderdaad iets heel anders as hierdie prestasiegedrewe en "image honger" sport wat sulke groot (ongesonde) druk op kinders plaas.

      Vee uit
  8. 'n Inskrywing op Facebook waar hierdie inskrywing gedeel is, het my hierheen gelei. (Moet erken, dis nie die eerste keer wat ek op hierdie werf rondkuier nie).

    Hier by ons, in 'n plattelandse dorpie in SA, is dit presies net so. Meer nog met ekstra buite-skool sportsoorte. Perdesport kompetisies vind deesdae uitsluitlik op Sondae plaas en gereeld kry ek die boodskappie "Tannie, ek gaan nie kerk toe kom vandag nie."

    Maar sport het ons kinders se vakansies ook oorgeneem. Maartvakansie is propvol met rugby, die wat nie deelneem nie, moet help om eetgoedstalletjies te beman. Julievakansie beleef ons weer die bokkieweek...

    Skool het die kinders se lewens totaal oorgeneem met ouers as gehoorsame slawe.

    Waar is die dae wat pa bloot met 'n briefie vir juffrou laat weet: "Jannie kom nie skool toe nie, hy moet help koring oes." En juffrou moes dit so aanvaar.

    Om te dink ons voorgeslagte het nagmaal gevier oor hele naweke! Voorbereidingsdiens, nagmaal en dankdiens, alles op een naweek.... Waar is die psalmis se uitroep: Ek was bly toe hulle my sê om na die Here se huis te gaan?

    Ons skuld voor God omdat ons ons verantwoordelikheid ontduik is enorm!

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Huisvrou, ek deel jou frustrasies. Hulle praat van staatskaping daar by julle in SA, maar dit lyk my nog erger is ons kinders se "kaping" deur die skole...
      Sport het die eintlike "god" geword van ons Afrikaners en hierdie afgod kry eerste prioriteit, ook in die sogenaamde "Christelike Privaatskole."

      Baie dankie vir jou uiters waardevolle bydrae en ek hoop ons hoor weer van jou!

      Groetnis
      Johannes

      Vee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.