BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Dinsdag 14 Februarie 2017

OMVALGEES

-of GEES VAN JESUS?

Ons bely om in ‘n Drie-enige God te glo – Vader, Seun, Heilige Gees. Die lewende God openbaar Hom so en is so as Drie-enige God betrokke by ons persoonlike verlossing. Die Vader het ons van ewigheid af lief, het ons uitgekies en het sy Seun Jesus gestuur om die uitverkorenes se verlossing deur die kruis en opstanding te bewerkstellig. Jesus, die Seun het ons ook lief en het in gehoorsaamheid aan die Vader ons verlossing aan die kruis bewerk deur ons sondestraf te dra en ons sodoende los te koop. Maar wat nou van die Heilige Gees? Hoe is Hy betrokke? 


Beleef jy die werk van die Gees persoonlik in jou lewe? As dit kom by die werk van Gees is daar dikwels groot verwarring in baie mense se denke. Wat doen Hy? Beleef ek Hom eers as ek omgeval het? Moet ek kan getuig van snaakse ervarings soos onbeheerde lagbuie, om soos ‘n hond te blaf of ‘n papegaai te skreeu?

Terloops. ‘n Basiese vertrekpunt om te onthou : Die Heilige Gees is op Pinkster aan die kerk gegee. Sy koms en teenwoordigheid is ‘n historiese feit net soos die kruis en opstanding.

Wat doen die Heilige Gees in hierdie tyd? Waarmee besig? Wat is sy hooftaak? Hoe lyk ‘n mens of gemeente waar die Gees werksaam is? Watse praktiese verskil maak die Gees in ons lewens? Jesus self gee in die gesprek met sy dissipels op die vooraand van die kruisiging onskatbare belangrike inligting oor die Heilige Gees. Ons gaan fokus op Johannes 16:12-15. Hierdie lering van Jesus sal baie help om verwarring en misleiding te voorkom.

Jesus se dissipels het wonderlike dinge beleef, maar hulle verstaan van Jesus en sy verlossingsplan (veral die noodsaak van sy kruisdood) was egter nog op hierdie tydstip baie beperk. Nou maak Jesus ’n wonderlike belofte in vers 13. 

“Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig.” 

DIE WAARHEID

Hoe moet ons dit verstaan? Van watter waarheid word hier gepraat? Jesus self is die waarheid – Johannes 14:6! Jesus self is die finale waarheid, die finale spreke van God aan die mens. Ons hoef nie en mag nie wag vir ‘n ander meer op datum waarheid nie. God het sy finale boodskap aan ons deur Jesus gebring. “In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete,maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak”. (Hebr 1:1-2) Jesus self is die klimaks van God se openbaring aan die mens. Jesus is die hele waarheid. In Hom woon die volheid van God. Daar is nie iewers nie ekstra stukke lering of waarheid wat ons nog moet ontvang nie. 

Die Heilige Gees leer nie vir ons nuwe ekstra bykomstige waarhede nie, maar bring begrip en insig by ons oor Jesus en sy werk!

Die Heilige Gees is die Gees van die waarheid. Hy maak die waarheid (Jesus self) aan ons bekend. Hy verduidelik aan ons die implikasies van Jesus se lewe en sterwe. Hy maak ons oë oop vir Jesus! Die Heilige Gees kom nie met nuwe lering, nuwe rigtings, nuwe openbaring nie. (Pasop vir mense wat beweer dat God nou na 2000 jaar se kerkwees ‘n nuwe ding aan hulle deur die Gees geopenbaar het – byv. dat God nou deur Hebreeuse name aanbid moet word. Kliek op Wortels van Verwarring)

Die Gees sal ons lei (guide) – dit het hier in hierdie konteks niks met leiding (guidance) te doen in sin van met wie ek moet trou, beroep ens. nie. (Oor hoe om keuses te maak volgens God se wil is ‘n ander onderwerp en natuurlik is die Heilige Gees ook hier deur middel van die Woord betrokke.)

Nee, sy leiding stel ons in staat om God se openbaring in Jesus te begryp en te gehoorsaam!

Die Heilige Gees gee nie sy eie selfstandige boodskap nie – Hy sê net wat Hy van God hoor (net soos Jesus – vgl. Johannes 5:19) Die Heilige Gees se bediening is baie soortgelyk aan Jesus se aardse bediening, net op ’n baie groter skaal. Juis daarom was dit voordelig dat Jesus sou weggaan! “die dinge wat gaan kom” - ontsluit die betekenis van Jesus se dood en opstanding wat nou op hande was (gaan nie hier oor wederkoms nie). Weereens die Heilige Gees maak die implikasies van Jesus se sterwe en opstanding duidelik. 

ALLE FOKUS OP JESUS

Belangrik. Vers 14 lees : “Hy sal My verheerlik, want wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig.” Die Heilige Gees se hoofdoel is om Jesus te verheerlik. Om ons die grootheid, die heerlikheid, die wonder van Jesus te laat raaksien en verstaan. Weereens is daar ’n parallel tussen Jesus en die Heilige Gees se bediening : Jesus se bediening het heerlikheid aan die Vader gebring, die bediening van die Heilige Gees bring heerlikheid aan Jesus – Vgl. Johannes 17:4. 

INNIGE BAND MET JESUS

Die Heilige Gees plaas dus nie die fokus op Homself nie, maar op Jesus. Die Heilige Gees maak Jesus groot. Die Heilige Gees open ons oë om Jesus se heerlikheid raak te sien. Sonder die werk van die Heilige Gees bly Jesus vir jou oninteressant, net van teoretiese belang. Ons sien hier die intieme noue verband tussen Jesus en die Heilige Gees. Dit word bevestig in die res van die Nuwe Testament soos in :

Romeine 8:9 “Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle. As iemand die Gees van Christus nie het nie, behoort hy nie aan Christus nie.”

1 Korintiërs 2:16“Daar staan geskrywe: "Wie ken die gedagtes van die Here? Wie sal Hom raad gee?" Maar ons, ons het die Gees van Christus.” 

1 Petrus 1:11 “Die Gees van Christus wat in hulle was, het vooruit verkondig dat Christus moet ly en daarna verheerlik sal word, en hulle het probeer naspeur wat die tyd en die omstandighede sou wees wat die Gees bedoel het.”

Handelinge 16:7 (NAV)“Toe hulle by die grens van Misië kom, het hulle na Bitinië toe probeer gaan, maar die Gees van Jesus* het hulle dit nie toegelaat nie.”

DIE BELOFTE HET WAAR GEWORD

Hierdie belofte van Jesus (“wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig.” ) het duidelik en dramaties waar geword in die lewe van die apostels vir wie Hy hier aanspreek. Eers na Pinkster toe die Heilige Gees uitgestort is kon hulle eers volkome verstaan wat die implikasies van Jesus se sterwe en opstanding is. Daarom kon hulle so kragtig preek oor die kruis en opstanding na Pinkster. Daarom kon hulle sulke diep dinge skryf in die Nuwe Testamentiese geskrifte. Hierdie diep verstaan van Jesus wat deur die Heilige Gees bewerk is, het ons dus hier in ons Bybels. As die Heilige Gees nou in ons werk maak Hy vir ons die Bybel verstaanbaar. Die Heilige Gees se taak is nie om ekstra buite Bybelse insigte aan mense te gee nie! (byv. oor datums van die wederkoms ens.), maar om die Woord vir ons oop te breek! Ons vind die volle waarheid oor Jesus in die Nuwe Testament. Die Heilige Gees het hierdie volle waarheid oor Jesus aan die apostels geopenbaar en ons kan dit in ons hande neem en lees en so openbaar Hy dit weer aan ons.

DIE GEES WERK DEUR DIE WOORD

Dus op ’n afgeleide manier raak hierdie belofte wel ons ook persoonlik - die Heilige Gees open ons oë om die geskrifte van die apostels te verstaan. So leer ons die volle heerlikheid van Jesus ken terwyl ons die Bybel bestudeer.

Die groot saak is dit - Die Heilige Gees fokus ons aandag op Jesus self deur middel van die Woord. Dis sy voortgaande werk. Dit stem ook ooreen met Johannes 16: 8-9. Die Heilige Gees oortuig mense van hulle sonde en van die heerlikheid van Jesus sodat hulle na Jesus kan kom vir redding!

WAT VAN MY?

Kom ons vra weer die praktiese vraag: Werk die Heilige Gees in my? Toets dit hieraan : Het ek ‘n groeiende honger na die Woord en ‘n groeiende begrip van die Woord? Het ek ‘n groeiende besef van my sondigheid? Maar veral, het ek ‘n groeiende besef hoe heerlik Jesus is, het ek ‘n groeiende liefde vir Jesus en ‘n groeiende vertroue op Hom alleen? Is Jesus vir jou kosbaar? Het jy ‘n begeerte om Hom te gehoorsaam? Dis ‘n duidelike teken, die Gees is besig met jou! Dank Hom. Dis net genade! 

Hoe lyk ‘n gemeente waar die Heilige Gees werksaam is? Daar is ‘n honger en dors na Jesus, na Sy woorde. Daar is Christus gefokusde prediking. Daar is ‘n diepe begrip en dankbaarheid oor Jesus se kruis en opstanding. Daar is ‘n erns met sonde en ‘n gebrokenheid oor wat verkeerd is. Verootmoediging en berou. (Die werking van die Gees in ‘n gemeente kan dus nie gemeet word aan hoeveel lidmate omval, lag of blaf nie!) 

God Drie-enig is betrokke by ons verlossing! Dis duidelik, die Heilige Gees se werk is ook onmisbaar belangrik. Niemand kan die Bybel verstaan, niemand kan glo, niemand kan hulle bekeer tot Jesus sonder die werk van die Heilige Gees nie.

*Hier is die NAV se teks beter as die van die OAV



Gloriosa superba / Rooiboslelie / Vlamlelie

1 opmerking:

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.