BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Woensdag 23 Maart 2016

GOLGOTA IS GROTER AS GILBOA

- daarom is daar 'n oplossing vir sonde, skuld en mislukkings!



Gilboa en Golgota. Twee uitstaande berge van groot betekenis in die heilsgeskiedenis.

Elkeen is die toneel van ‘n aaklige dood van ‘n bekende persoon. Beide is konings wat sterf, beide sterf ‘n grusame en skandalige dood. Beide se dood het groot gevolge. Maar daar is ‘n groot en heerlike verskil. So ‘n heerlike verskil dat dit vandag in my en jou lewe ‘n verskil kan maak. Genadiglik hoef ons nie stil te staan by die neerlaag van Gilboa nie, maar kan ons aanbeweeg na die oorwinning van Golgota.

Kom ons kyk bietjie na wat op hierdie twee plekke gebeur het. Koning Saul pleeg in wanhoop en vrees selfmoord op Gilboa. Dit was die afgryslike uiteinde van ‘n lang pad van rebellie en ongehoorsaamheid. Ons ken mos die droewige verhaal...Hy het ‘n punt bereik waar God hom finaal verlaat het, soveel so dat hy in desperaatheid ‘n spiritiste medium moes gaan raadpleeg, die heks van Endor. Maar ook sy kon natuurlik nie help nie. Hy is deur God verwerp en in sy angs en vernedering kies hy die hartseer uitweg van selfmoord. Dit gaan egter oor meer as net Saul. Dis ook ‘n nederlaag, bespotting en vernedering van die volk Israel, want Saul was die gesalfde koning van God se volk. Skrikwekkende skade word aan die eer van God gedoen as Saul se kop afgesny word en in die land van die heidense Filistyne rondgestuur word.

NIE DIE EINDE VAN GOD SE BEMOEIENIS EN GENADE NIE...

God verlaat egter nie sy volk nie en sy planne kan nie omvergegooi word nie. God self gryp weer in om sy eer te herstel. Die nuwe gesalfde koning is Dawid. Dawid sou die Filistyne verslaan. Maar nou weet ons Dawid was ook nie ‘n volmaakte koning nie en hy het ook sy mislukkings gehad. God het egter ‘n verbond met Dawid gesluit en as uitvloeisel is Jesus die Seun van Dawid baie eeue later in Betlehem die stad van Dawid gebore. Hy word in Jerusalem verwelkom met Hosannas... “Hosanna vir die Seun van Dawid! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here! Hosanna in die hoogste hemele!” (Matteus 21:9) Maar Hy sterf uiteindelik op Golgota. (Lees gerus Johannes 19:17-22;28-30) Dit lyk soos ‘n nog mislukking, die grootste mislukking ooit, maar ons weet op Golgota het Hy sonde, Satan, dood en hel oorwin. Golgota was nie ‘n ramp nie, Golgota was die plek waar Jesus die werk wat Sy Vader hom gegee het afgehandel het. Anders gestel, op Golgota het God afgereken met sonde, skuld en skande! Daarom kan Jesus te midde van sy doodsworsteling triomfantelik uitroep : “Dis volbring” Hier is die volle sonde boete betaal, ons volle sondeskuld is uitgewis. Daar is dus ‘n reuse verskil tussen Gilboa en Golgota.

'N REUSE EN HEERLIKE VERSKIL

Gilboa spel wanhoop en nederlaag. Golgota bring hoop en oorwinning.

Gilboa is ‘n skande, maar Golgota is ‘n triomf.

Gilboa is die konsekwensie van die heerskappy van sondemag en skuld, Golgota bring ‘n einde aan die heerskappy van sondemag en skuld.

Op Gilboa sterf Saul sonder God, op Golgota sterf Jesus in ons plek sodat ons nooit weer sonder God hoef te wees nie.

Op Gilboa tref God se vloek vir Saul, op Golgota tref God se vloek ook vir Jesus, maar juis sodat ons kan deel kry in God se seëninge!

Op Gilboa sterf Saul as ‘n verworpene deur God weens sy eie aanhoudende sonde en opstand teen God. Op Golgota sterf Jesus ook as verworpene, maar Hy sterf vir óns sonde, Hy vat óns straf. Jesus sterf nie in opstand teen God nie, maar juis as die een wat volmaak gehoorsaam is aan God.

Op Gilboa sien ons die dodelike mag en gevolge van sonde. Op Golgota aanskou ons die uitwissing van ons sondeskuld en straf.

Gilboa was tydelik goeie nuus vir die Filistyne (1 Sam 31:9), maar dit wat op Golgota gebeur het is blywende ewige Goeie Nuus, GOEIE VRYDAGNUUS vir elke sondaar wat in Jesus glo!

Ons kan juig : Golgota is groter as Gilboa!

Omdat Golgota groter is as Gilboa is daar hoop vir die grootste rebelse sondaar! Jesus sal jou nie wegwys as jy na Hom kom vir verlossing nie.

Omdat Golgota groter is as Gilboa is daar hoop vir die teruggevalle kind van God. (vir backsliders!) Kom in berou na Jesus en Hy sal jou terugvat en weer gebruik soos Petrus! (Kliek op PETRUS)

Omdat Golgota groter is as Gilboa is daar hoop vir jou wat voel dat jy misluk het in jou Christenskap, misluk het in jou huwelik of huisgesin. Jesus vergewe en herstel.

VASGEKEER IN 'N DOODLOOPSTRAAT?

Vriend, jou mislukkings, jou sondes, is dalk baie groot. Jy voel of jy by ‘n Gilboa van absolute wanhoop gekom het. Jy voel dalk soos Saul homselwers, vasgekeer in ‘n doodloopstraat van sondeskuld en skande. Dalk is daar ‘n baie spesifieke sonde of skande wat meedoënloos aan jou vreet, wat jou gewete verrinneweer... daardie een ding...wat jou so pla en teister dat jy dalk moontlik letterlik soos Saul op die rantjie van selfmoord rondsteier... 

Ja dis erg, baie erg, verskriklik erg, maar ek wil jou uitdaag en uitnooi: Kyk na Golgota, kyk wat daar gebeur het, kyk na die Seun van Dawid wat daar hang en hoor as hy uitroep : Dis volbring! Glo in Hom, hoop op Hom en vind volkome rus, vergifnis, vrede!  "Aanskou die Heiland, sien die kruis..."

MOENIE 'N ONGELOWIGE GEVANGENE BLY VAN DIE GEMORS VAN GILBOA NIE; BEWEEG VANDAG NOG GELOWIG AAN NA DIE GENADETRIOMF VAN GOLGOTA!

(Die essensie van hierdie preek het ek jare gelede by ds. Danie Steyn gehoor)

Donderdag 10 Maart 2016

HET JY REGTIG TE MIN TYD VIR...

VRA, SOEK EN KLOP?



IEWERS IS IETS FOUT!

Waarom is daar so ‘n groot verskil tussen wat God vir sy kinders beloof en dit wat ons regtig in ons lewens sien en beleef? God beloof dat sy kinders krag sal ondervind, getuies sal wees, oorvloedige lewe sal ervaar en vrug sal dra, vol blydskap en vrede sal wees, dat ons die duiwel sal oorwin... Maar hoeveel van hierdie dinge is ‘n werklikheid in ons lewens? Miskien sê jy : “Ek luister na die Woord, ek ken die Bybel, ek verstaan dit, maar my lewe bly dor en droog... Daardie stroom van water waarvan ons verlede Sondag gepraat het, het my nog nie aangeraak nie...” (Kliek op LEWEGEWENDE STROOM) Ek is nog soos die Dooie See...soos die woestyn! 

Die rede vir hierdie onvrugbare en onverkwiklike toestand is dikwels biddeloosheid! Ons vra nie... (Jakobus sê mos duidelik : “Julle het nie omdat julle nie bid nie.”) Kom ons kyk bietjie na die feite : die magtige en vrugbare dienaars van God van die verlede was in baie opsigte baie verskillend van mekaar, maar hulle het een ding in gemeen gehad, dis manne wat gebid het. Dink aan Abraham, Moses, Samuel, Dawid, Daniël, Nehemia, Paulus... Volgende jaar herdenk ons die vyfhonderdjarige viering van die Protestantse Reformasie wat amptelik begin het met Luther se 95 stellings wat hy op 31 Oktober 1517 aan die Witteberge kerkdeur vasgekap het. Luther is ons held, maar besef ons Luther was ‘n man van gebed? Hy het in die tyd voordat hy voor die Ryksdag van Worms moes verskyn drie van die beste ure per dag opsy gesit om hardop tot God te roep in die gebed. (Sy vriend Veit Dietrich het hom afgeluister en daarom weet ons dit vandag) Die grootste bidder was natuurlik Jesus self. Ons lees hoe Hy vroeg in die môre, nog diep in die nag gaan bid het. (Markus 1:35) Ons verneem hoe Hy met harde geroep en trane gebid het. (Hebreërs 5:7)

VRA KLOP SOEK

In die Bergrede (Jesus se grootste en bekendste preek) beklemtoon Jesus weereens die prioriteit van gebed. 

"Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word,

want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.

"Watter mens onder julle sal vir sy seun ‘n klip gee as hy brood vra, of ‘n slang as hy vis vra?

As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra?

"Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete."   (Matteus 7:7-12)

Jesus druk die belangrikheid van gebed op ons harte met ‘n drievoudige herhaling : Vra, soek , klop – dis alle sinonieme vir gebed. Deur die uitbreiding van die woord “vra” (bid) met die woorde “soek” en “klop stel Jesus sommer duidelik wat die fokus is van gebed. “Soek” het die konnotasie van soek die koninkryk (Matteus 6:33OAV)* klop het die konnotasie van oopmaak sodat ek kan ingaan in die koninkryk. Die drievoudige opdrag word gevolg met die drievoudige versekering, belofte, waarborg : sal gegee word, sal kry, sal voor oopgemaak word! Let wel – hierdie belofte is vir ELKEEN! Ja, vir jou ook! Maar het jy al regtig gevra, gesoek, geklop...?

‘N VADER WAT GRAAG GOEIE DINGE VIR SY KINDERS GEE

Die waarborg van gebedsverhoring lê in die aard en karakter van God as Vader. Gebed veronderstel ‘n verhouding. God is mos waarlik my Vader deur my geloof ‘n Jesus. God is beslis ‘n goeie Vader, wat tog baie meer volmaak is as aardse vaders wat foute maak. Die argument van Jesus is dat as aardse vaders wat onvolmaak is tog baie graag vir hulle kinders goeie dinge gee, hoeveel te meer sal die hemelse volmaakte Vader vir ons goeie gawes gee!

Goeie gawes! Wat is dit? Weereens kan ons kyk na Matteus 6:33. Ons gebede moet daaroor gaan om reg te lewe volgens God se wil as onderdane van sy Koninkryk. Gebed se fokus is om te leef soos Koning Jesus wil hê ons moet leef. Dis duidelik dat hierdie gebed waarvan Jesus hier praat nie ‘n resep is om te kry wat ek as selfsugtige mens wil hê nie. Wel belowe Hy dat as ek sy wil en sy koninkryk eerste stel, sal Hy al die dinge wat ek nodig het soos kos en klere voorsien! Hier kry ons al een van die grootste redes hoekom so baie gebede misluk en mense dan moedeloos raak en ophou bid. Gebed in die Bybel het nêrens te maak met my eie selfsugtige begeertes en selfgesentreerde ideale nie. Punt.

Gebed is die kragtige middel waardeur ons ‘n nuwe koninkrykslewe kan leef!

Gebed gaan daaroor dat my eie leefstyl en houding sal verander om by die koninkryk van God in te pas en dit sluit in dat my houding teen ander mense sal verander! Vers 12. "Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete."

Ware gebed sal nooit dus oor gierigheid en selfbelang gaan nie, want ek sou nie wou dat ander mense volgens die beginsels van gierigheid en eiebelang teenoor my optree nie. Ons kan nie Jesus se opdrag in vers 12 losmaak van gebed nie. Hier kry ons nog ‘n indirekte rede hoekom so baie gebede misluk. Selfsug en gebroke menseverhoudings! Jesus bespreek die belangrikheid van gebed, direk nadat ons ernstig gewaarsku het om nie te oordeel nie. Moenie oordeel nie, maar bid.

GEEN KRAG SONDER DIE REGTE VERBINDING NIE...





Gebed is die kragprop wat ons inskakel by God se Koninkryk, God se planne, beloftes en seëninge! Hoeveel mis ons nie as ons nie bid nie! Al ons godsdienstige aktiwiteite is kragteloos en nutteloos as ons nie by God se krag ingeskakel is nie. Ons weet tog almal hierdie dinge... Nou waarom bid ons dan nie? Of heeltemal te min? Eintlik is daar twee redes waarom ons nie bid nie. Ons is te... 

Besig. (of dis wat ons sê) “Ek het nie tyd nie, jong ek is nou baie besig,” is die algemene verskoning wat so vinnig opgedis word wanner gebed, bidure en selfs kerkbywoning ter sprake kom. Dis eintlik ‘n groot leuen! Elke persoon wat jy ontmoet laat dit klink asof hy die besigste is en die minste tyd het. (Was iemand ooit meer besig as Jesus of dan nou Martin Luther wat ons as voorbeeld gebruik het?) Die feite is, almal het presies ewe veel tyd (24 uur per dag) solank God besluit dat jy op hierdie aarde is. Baie belangrik, en dit vergeet ons moedswillig, God het ons elkeen ‘n bestuurder van daardie tyd gemaak.  "...en koop die tyd uit, omdat die dae boos is." (Efesiërs 5:16) God sal tog nie van ons rentmeesterskap eis oor iets waaroor ons geen beheer het nie! Soos alle fasette van ons lewens moet ons besef ons tyd is ‘n gawe van God, dit behoort nie aan onsself nie, ons moet dit in gehoorsaamheid aan God benut en bestuur! Om nie tyd te hê kom dus maar eintlik ook neer op die boosheid van ons eie hart...


Boos. Dis die eintlike rede hoekom ons nie bid nie of as ons wel bid gou moed opgee. Daar staan sonde tussen my en die Here. Ek is dalk nog nooit sy kind nie. Of ek is wel sy kind, maar het iewers toegelaat dat daar iets tussen ons kom – onvergewensgesindheid, gierigheid, vashou aan ‘n verkeerde gewoonte... Bely hierdie dinge en raak ontslae daarvan. “Die arm van die Here is nie te kort om te help nie en sy oor is nie te doof om te hoor nie. Dit is julle oortredinge wat skeiding gebring het tussen julle en julle God, dit is julle sondes wat maak dat Hy Hom nie aan julle steur nie en nie na julle wil luister nie." (Jesaja 59:1,2)

FIETSRY

Waar begin ek as ek my biddeloosheid wil regstel? Vat hierdie belofte van Jesus ernstig op, voeg die daad by die woord en begin bid. As jy voel jy kan nie bid nie, bid dan dat Hy vir jou sal wys wat hinder... Maar begin net! Begin alleen bid. Begin saam met ander bid en raak ingeskakel by die hemelse kragbron om sodoende ‘n koninkrykslewe te kan leef!

Niemand het nog ooit leer fietsry deur net daaroor te lees of te wonder nie, nee mens moet maar opklim en begin ry al gaan dit ook sukkel-sukkel of val-val... AMEN

* “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” (Matteus 6:33 OAV)




Donderdag 03 Maart 2016

El Nino se Moses - DOOD EN DROOGTE OMGEKEER

deur die stygende stroom van lewende water! 

Die profeet Esegiël het ‘n verbysterend heerlike visioen gesien wat my en jou persoonlik raak... juis vir jou wat 'n "El Nino" droogte beleef. Ons lees dit in Esegiël 47:1-12.*



Voor ons kyk na die visioen van Esegiël moet ons net eers twee dinge weet :


Eerstens. Esegiël kry hierdie boodskap in ‘n donker tyd, ‘n tyd van wanhoop en mismoedigheid toe hy saam met die bannelinge in Babilonië was, ver weg van hulle land. ‘n Tyd van onsekerheid, verval en gebrek aan leierskap. Eintlik maar ‘n uitsiglose onvrugbare doodsbestaan.

Tweedens. Om die hierdie beeld te verstaan en te waardeer moet mens darem net so ‘n basiese kennis van die geografie van die land Israel hê. Jerusalem is die tempelstad. Aan die onderkant van die Jordaanrivier vind ons die lewelose Dooie See wat omring word deur ‘n dorre woestyn. Die Dooie See se water is so sout dat dit geen lewe kan onderhou nie.




"...Waar die stroom kom, sal alles lewe."  Esegiël 47:9

WATER! WATER! WATER!

Oor een ding stem almal in hierdie land van ons saam : Water is lewe! (Nou met die verskriklike gevolge van die El Nino verskynsel besef ons dit des te meer) Water is onmisbaar belangrik! Water maak ’n verskil aan die mees dorre stuk woestynaarde. Esegiël se visioen gaan oor ‘n waterstroom wat uit die tempel ontspring en al hoe sterker vloei en lewe bring. Hierdie stroom het dus 'n Goddelike oorsprong en maak die lewelose Dooie See vars sodat daar visse kan leef en orals langs die stroom kom daar ook oorvloedige lewe tot stand, vrugtebome wat standhoudend vrugte dra. Die moerasse en kuile wat nie aan die stroom verbind is nie sal sout en leweloos bly. 

Een prentjie is meer werd as ‘n duisend woorde... Hierdie beeld is ‘n kragtige beskrywing van God se verlossingswerk en genade wat lewe bring in dooie dor hopelose omstandighede. 

Moenie dit miskyk nie - Die lewegewende waterstroom van wondergenade het 'n Goddelike oorsprong, dis 'n Goddelike inisiatief, dis 'n Goddelike aksie... iets baie groter en heerliker as 'n mensgemaakte ontsoutingsaanleg of besproeiingsprojek!


Ons kry hier motiewe uit die paradysverhaal, maar ook herinner dit sterk aan Openbaring se beeld van die bome en vrugte en blare wat genesing bring vir die nasies. (Openbaring 22:2)

Esegiël se visioen is maar een van die baie gedeeltes in die Ou Testament wat water gebruik as simbool van die heerlike lewegewende Goddelike verlossing en nuwe lewe. Dink aan die water uit die rots, dink aan Jesaja 12:3 “En julle sal water skep met vreugde uit die fonteine van heil.” God se genadige verlossing is soos lewegewende water wat vernuwing en vrug in ‘n dorre soutwoestyn bring!

EN ONS?

Hoe kry ons hierdie lewe? Hoe word ons onvrugbare woestyn lewe van sonde en stukkendheid verander na oorvloed lewe vrugdra en vreugde?

Jesus gee vir ons die antwoord in Johannes 7:37-39**. Jesus het die Loofhuttefees bygewoon. Tydens hierdie fees was daar seremonies waar water en wyn uitgegiet is. In die Joodse denke is dit gekoppel aan God se voorsiening van water destyds met die trek deur die woestyn, maar ook toekomstig van toepassing op die messiaanse tyd. En daarom is dit so gepas dat Jesus, die ware Messias tydens die fees uitroep : “As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink!” Luister! Hoor dit, passievol, dringend! Kyk! Sien sy gesig met liefdevolle erns! Sien Hom opstaan. Hy praat nou ook met jou...Hierdie uitnodiging kom weer opnuut na my en jou! Jesus is die vervulling van alle oorvloed en seën waarvan die Loofhuttefees*** ‘n voorskou was. Jesus is die een wat die lewende water gee. Johannes het dit al reeds duidelik gemaak in Jesus se gesprek met die Samaritaanse vrou. Jesus gee oorvloed van lewende water. Hierdie oorvloedige stroom is die nuwe lewe wat die Heilige Gees binne die gelowige wek. Dis nie net ‘n beperkte bietjie water nie, dit is ‘n stroom wat nooit ophou nie, maar net groter word. Dit bring heerlike verandering. Dis inderdaad soos Esegiël dit uitgebeeld het.

Die sondaarlewe is ‘n woestynlewe! Dit bring net onvrugbaarheid, hartseer, verdriet en dood. 

Dis ‘n lewe van rusie en jaloesie, selfsug en stryd! Onmin en onvergenoegdheid. Dis vol skade en skande! Dis steriel. Dit lewer geen vrug om God te verheerlik of my medemens te seën nie. Dis ‘n doodsbestaan wat net een uiteinde het, naamlik die ewige dood in die hel. 

Hierdie onvrugbare doodsbestaan kan net omgekeer word deur die lewende water wat Jesus gee.

Hoe kry ek die Lewende water? Aanvaar die uitnodiging! Kom na Hom, stel jou vertroue in Hom, stort jou hart uit voor Hom, glo in Hom! Dis duidelik Jesus skryf nie enige ritueel of ervaring voor as voorwaarde vir hierdie vars lewe van die Gees nie, behalwe maar net geloof in Hom!



Hy nooi almal wat dors het. Dis almal wat hulle nood besef, dis almal wat raadop en moedeloos is met hierdie onvrugbare woestynbestaan. Dis almal wat so vol sondesout is dat jy onsmaaklik geword het! Dis almal wat al agtergekom het dat alkohol en jol nooit jou dors kan les nie... Hy nooi jou!

Is jy al aangeraak deur die Goddelike stroom van lewende water? Dra jou lewe vrug of is dit als net dorre woestyn? Die uitnodiging van Jesus is baie duidelik... Moenie wag nie!


* Esegiël 47:1-12  Die man met die meetstok het my teruggebring na die ingang van die tempel toe. Toe sien ek daar kom water onder die tempel se drumpel uit aan die oostekant. Die tempel het oos gekyk. Die water het regs van die tempel weggeloop, suid van die altaar verby.
Die man vat my toe by die noordpoort uit en om na die buitenste oospoort toe. Daar syfer die water toe regs langs die poort uit.
Die man het oos gestap en met die maatlyn wat hy by hom gehad het vyf honderd meter afgemeet van die oospoort af. Toe laat hy my deur die water loop. Dit was enkeldiep.
Hy het nog vyf honderd meter afgemeet en my deur die water laat loop. Dit was kniediep. Hy het nog vyf honderd meter afgemeet en my deur die water laat loop. Dit het tot by my heupe gekom.
Toe meet hy nog vyf honderd meter, maar toe was die water ‘n stroom waar ek nie kon deur nie. Die water was diep, sodat ‘n mens sou moes swem; dit was ‘n stroom waar ‘n mens nie deur kon loop nie.
Die man sê toe vir my: "Sien jy dit, mens?" Hy laat my toe al langs die stroom terugstap.
Terwyl ek so terugstap, sien ek daar staan groot, hoë bome weerskante op die stroom se wal.
Die man het vir my gesê: "Hierdie water loop weg na die streek oos toe en af na die Jordaanvallei toe waar dit in die Dooie See sal inloop. Wanneer dit in die Dooie See inloop, sal die water van die Dooie See vars word.
Waar die stroom ook kom, sal dit wemel van al die soorte diere en sal daar baie vis wees. Die water loop af na die Dooie See toe en sal die see vars maak. Waar die stroom kom, sal alles lewe.
Daar sal vissers langs die Dooie See staan van En-Gedi af tot by En-Eglajim. Dit sal ‘n plek wees waar hulle nette droogmaak. Daar sal net soveel soorte vis wees as in die Groot See, en net so baie.
Net die water in die moerasse en kuile langs die Dooie See sal nie vars word nie. Hulle moet sout bly.
Weerskante op die wal van die stroom sal allerlei vrugtebome groei. Hulle blare sal nie verlep nie en hulle vrugte sal nie opraak nie. Hulle sal elke maand dra, want die stroom se water kom uit die heiligdom. Die vrugte sal daar wees om te eet en die blare om genesing te bring."


**Johannes 7:37-39

En op die laaste dag, die groot dag van die fees, het Jesus gestaan en uitgeroep en gesê: As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! 

Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei. 

En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo; want die Heilige Gees was daar nog nie, omdat Jesus nog nie verheerlik was nie.

***Terloops, dis hoekom Christene nie meer die  Joodse Loofhuttefees hoef te vier nie. Die fees is volledig deur Jesus vervul!

Woensdag 02 Maart 2016

LEWENDE WATER OP TSINTSABIS!

Ek het vandag (Woensdagmiddag) saam met die Tsintsabiswyk van Wildevy  vir die Here dankie gesê vir die groot present van water. 'n Boorgat is gesink, 'n sonpomp geïnstalleer, 'n stelasie opgerig en pype aangelê sodat daar nou water is by ons kerk. Natuurlik het die Here hierdie geskenk deur die bemiddeling en harde werk van mense aan ons gegee. Baie dankie aan ons gemeentelede Andries Gous, Roelf van Wyk en Piet Erasmus wat by die praktiese oprigting betrokke was en ook aan almal wat dit finansieel moontlik gemaak het. (Ongelukkig is Andries deur werksverpligtinge verhinder om vandag saam te gaan)

Dit was heerlik om die geleentheid van vandag te benut om die Woord uit Johannes 7:37 en 38 te bring : "Op die laaste dag, die groot dag van die huttefees, het Jesus daar gestaan en uitgeroep: "As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink!  Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei." Ons vier twee "waters" - die boorgat se water wat God ons gegee het, maar veral ook die lewende water wat Jesus vir sonde dors mense gee. Verniet!



Ons is baie dankbaar vir die water, want ons beplan 'n Paaskonferensie op Tsintsabis (25-28 Maart) saam met Africa Outreach. Bid asseblief vir die geleentheid en stel jouself ook beskikbaar om te help as die Here dit op jou hart lê!