BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 04 November 2016

NET EEN VRAAG…

- KEN JY GOD?


Ken jy God? Ken jy Hom regtig? Dis die belangrikste vraag in jou hele lewe. 
Waarvoor is ons geskape? Om God te ken. 
Wat is die grootste doelwit wat jy vir jouself kan stel? Om God te ken. 
Wat kan jou nooit verveel nie? Om God te ken. 
Wat is die beste ding in hierdie lewe, wat maak regtig saak, wat bring die grootste vreugde en vergenoegdheid? Om God te ken. 

Dis tog die duidelike implikasie van God se boodskap hier in Jeremia 9:23,24 wat lees : “So sê die Here: Die wyse man moet nie in sy wysheid roem nie, die soldaat nie in sy krag nie, die ryk man nie in sy rykdom nie. Laat hom wat wil roem, daarin roem dat hy insig het en My ken. Ek is die Here. Ek bewys liefde, reg en geregtigheid op die aarde, want dit is wat Ek wil hê, sê die Here.”

NIKS BELANGRIKER

Jy kan slim wees (met ‘n Dux toekenning agter jou naam), sterk wees (ysterman of dalk die bes geboude ou in die gym), ryk wees, in alle opsigte suksesvol wees, maar as jy God nie waarlik ken nie, beteken dit als niks. Dan is jy soos die ryk dwaas in die gelykenis waarvan God gesê het, “so gaan dit met iemand wat nie ryk is by God nie.” 

Kom ons vra dit so: Wat is die lewe? Om God te ken. Wat is die ewige lewe? Om God te ken. 

In Johannes 17:3 sê Jesus self : “En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is.” 

Dis duidelik : 

Om God te ken is vir nou en eendag die heel grootste en verhewe saak waarmee ek en jy kan besig wees!

WAT STAAN MY TE DOEN?

Begeer jy om God te ken? En hoe en waar gaan ons Hom regtig leer ken? 
Die eerste stap is sekerlik om eerlik te besef, dat ons Hom sleg ken, eintlik glad nie ken nie. Ja ons is dalk besig met godsdienstige dinge, maar ons ken Hom so sleg. Daarom is daar so min blydskap oor Hom, so min entoesiasme, so min liefde vir Hom. Soveel vrees, onsekerheid...

Nou wat beteken dit om God te ken, prakties? Is dit ‘n spesiale gevoel? Is die koue rillings wat langs my ruggraat afhardloop? Is dit soos ‘n soos hallusinasies of visioen? Moet ek ‘n stem hoor? Is dit ‘n diep intellektuele ervaring, ingewikkelde stellings wat ek moet kan verduidelik?

Kom ons begin hier... Wat beteken dit om ‘n ander persoon te ken? Wel, “ken” kan op verskillende vlakke wees, jy kan bloot van iemand gehoor het, jy kan iemand al vlugtig ontmoet het, jy kan iemand so van sien ken en af en toe ‘n paar woorde wissel, daar is baie grade van “ken”. Om God waarlik te ken is iets meer as om net van Hom te weet...

Om God te ken is om sy karakter te ken, Hom volkome te vertrou en in ‘n verhouding met Hom te staan, ‘n verhouding wat kosbaar, diep, innig, verhewe is bo enigiets anders op aarde. Om God te ken, die verhewe almagtige God, skepper van hemel en aarde, ver bo ons verstand en denke is natuurlik baie meer kompleks as om ‘n medemens te leer ken. 

Daar is ‘n groot afstand tussen ons en Hom: 

God is Gees; ons is net mense van vlees en bloed. 

God is onsigbaar en orals; ons is net beperkte mense met beperkte sintuie. 

God is ewig; ons is net tydelik.

God is heilig en volmaak; ons is sondig, boos en gebroke. 

Dis hier waar die groot probleem lê. Ons lees ook in Jeremia 9, God is ‘n God van liefde, reg en geregtigheid. Maar net verder aan lees ons : "Daar kom dae, sê die Here, dat Ek selfs almal wat besny is, gaan straf, of dit nou Egipte, Juda, Edom, die Ammoniete of Moab is, of die woestynbewoners wat hulle koppe aan die kante kaal skeer, want al hierdie volke is tog maar onbesnede, en die hele Israel is onbesnede van hart, hulle is ontrou aan My". Hy is dus ook ‘n God wat straf. Hoe kan ons hierdie God leer ken en met Hom in ‘n verhouding staan, want ons liefdeloos, vol onreg en onregverdigheid. Gaan sy straf ons dan nie verteer nie?

Weereens : Hoe kan ons hierdie hoë verhewe en heilige God leer ken? Wel dis baie duidelik, ons is afhanklik van Hom dat Hy Homself aan ons openbaar. Hy moet as’t ware afdaal na ons. Hy moet sê : Hier is ek! Kom leer ken my!

HY KOM EERSTE NA ONS

Weet jy, dis wat God doen. Hy kom na ons en Hy kom na ‘n mens baie persoonlik. Hy kom knoop ‘n verhouding aan. Hy begin die verhouding deur eerste te praat. “Adam, waar is jy” 

Dis soos dit vandag nog gebeur. Die almagtige God kom op ‘n dag na jou as ‘n geringe, ellendige sondige mensie en begin met jou praat. Miskien was jy al jare lank deel van die kerk, miskien baie getrou met al jou godsdienstige pligte, miskien baie kennis van die Bybel en tog sonder ware kennis van God..., maar dan op ‘n dag begin iets in jou hart roer. God praat met jou deur die Woord en die Heilige Gees, ook deur die sakramente. Soos Hy met jou begin praat voel jy baie vuil en laag en klein. Jy besef ek is soos een van die Israeliete waarvan die Here hier praat – “onbesnede van hart” (25) Ek deel wel in die uiterlike verbondstekens – ek is gedoop en gebruik die Nagmaal, maar my hart is ver van God af! 

God die Heilige Gees praat met jou oor jou sonde, skuld, rebellie, dwaasheid, hardkoppigheid, oor ‘n lewe wat vermors is in diens van die duiwel... Jy begin sien jouself as hopeloos en hulpeloos. En tog ten spyte van dit alles vertel die Gees jou dat God jou Verlosser, Vriend en Vader wil wees. Dat Hy van jou ‘n verbondsgenoot, meer nog, ‘n kind wil maak.

Om God te ken behels dat ons begin ernstig luster na SY Woord soos die Heilige Gees dit vir ons duidelik maak en van toepassing maak in ons harte.

Ons SIEN God se karakter raak – vol liefde, reg en geregtigheid!
Ons AANVAAR God se uitnodiging tot oorgawe en vertroue. Ons ONDERWERP ons aan sy wense en gebooie.

Ons word bly oor Sy liefde wat Hy aan ons bewys het, dat Hy ons nadergetrek het as sy vriend, as sy kind.

DIT GAAN ALS OOR JESUS

Anders gestel, om God te ken is om erns met Jesus te maak. Hy is die fokus van die Woord, Hy is immers self die lewende WOORD! As ons ernstig na die Woord luister, hoor ons hoe die Woord ons van Jesus vertel en die Heilige Gees ons oë open om Jesus raak te sien.

Ons SIEN God se karakter raak in Jesus – Jesus het deur Sy lewe en sterwe vir ons gewys hoe lyk God se liefde en geregtigheid. Dink aan Saggeus, die Samaritaanse vrou, Levi die tollenaar...verhale vol van vergifnis en liefde... (kliek op JESUS WYS VIR ONS GOD

Die Gees maak my hart sag en ek AANVAAR God se uitnodiging, om in sy Seun Jesus te glo en alleenlik op Hom te vertrou.

Ek ONDERWERP my aan Jesus se opdragte. Ek begin ‘n lewe van dankbaarheid en blydskap leef omdat Jesus vir my aan die kruis prakties gewys het wat liefde is, my skuld uitgewis het en die skeiding tussen my en God weggeneem het.

Om God te ken en in ‘n verhouding met Hom te staan, gaan daaroor dat ek waarlik Jesus Christus deur die geloof ken. Dat ek in die geloof sal volhard... en in blydskap 'n gehoorsame lewe uit dankbaarheid sal lewe!

(Volgende keer meer oor die WONDERWERK wat nodig is om Jesus raak te sien en so God te leer ken)

[Erkenning aan J.I. Packer - KNOWING GOD]

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.