BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Saterdag 01 Oktober 2016

FOKUS MY KIND...

te midde van chaos, geweld en goddeloosheid!


Niemand hoef dit vir ons te sê nie : ons wêreld is vasgevang in chaos en goddeloosheid en dit raak ons elkeen. Geweld en verwoesting (dink aan die onlangse onsinnige beskadiging van infrastruktuur by universiteite), bedrog en korrupsie (twee skelms ding mee om die presidentskap van die magtigste land op aarde), waansinnige gierigheid en al wat boos en bedenklik is, is aan die orde van die dag. Dis ‘n tyd van uiterste morele verval – die egskeidingsepidemie, die saambly euwel en die gay agenda het byna alreeds die Goddelike instelling van die huwelik totaal vernietig. (Die definisie van die huwelik as sodanig is onder druk, en dit lyk asof selfs baie kerkleiers nie eers meer duidelik daaroor is nie...)

Nou is die kwellende vraag : 

Wat moet ons as Christene se houding en gesindheid te midde van al hierdie chaos wees? 

Daar is verskeie moontlikhede : Ons kan moedeloos raak en heeldag met strak gesigte rondstrompel, droewig kla en mor oor die jeug, die ekonomie, die regering, die kerk... Ons kan agter hoe mure wegkruip en kos opgaar vir die dag as die finale kernoorlog dalk aanbreek... Ander Christene wil ons vertel dat ons moet probeer om die gemeenskap te verander deur aktivisme – organiseer optogte, trek Internet petisies op, vorm drukgroepe en “teister” mekaar met selfoonboodskappe. 

Deur die eeue heen is dit ’n kwessie : Wat moet die Christen se agenda en fokus wees in ’n goddelose samelewing? ‘n Samelewing waarin ons nie pas nie.

Gelukkig het die Bybel duidelike antwoorde. Ons moet nooit vergeet nie - die vroeë kerk het tot stand gekom, gegroei en gefloreer in ‘n goddelose samelewing. Dis nie eers debateerbaar nie.... Daar was nie hoegenaamd nie eens ‘n Sondag nie, daar was uiteraard nie iets soos Christelike skole of wetgewing nie. Die Romeinse Ryk het definitief nie daarin belang gestel om Christelike beginsels te handhaaf en uit te bou nie. Noem maar al die moderne euwels, al die losbandigheid, aborsie en bedrog – jy sou dit daar ook aantref!


So wat moet die Christen se houding en fokus wees? Paulus se brief aan Titus dui vir ons ‘n duidelike koers aan (En terloops, die mense van Kreta waar Titus homself bevind het is deur een van hulle eie mense beskryf as 'n klomp "leuenaars, ongediertes en lui vrate"* (Sjoe!!!) :

“11.Die genade van God wat verlossing bring, het immers aan alle mense verskyn.

12.Dit voed ons op om die goddelose leefwyse en wêreldse begeerlikhede te laat vaar en met selfbeheersing, opregtheid en godsvrug in die teenswoordige wêreld te lewe,

13. terwyl ons uitsien na die gelukkige dag wat ons verwag. Op daardie dag sal die heerlikheid van ons grote God en Verlosser, Jesus Christus, verskyn.

14. Hy het Homself vir ons as offer gegee om ons van alle ongeregtigheid vry te maak en ons van sonde te reinig, sodat ons sy eie volk kan wees wat ywerig is om die goeie te doen.” (Titus 2:11-14)


Uit gelese gedeelte lyk dit of ons ’n duidelike tweeledige fokus kan aflei : ‘n Lewe van HEILIGHEID en HOOP. Heiligheid binne die teenswoordige wêreld en Hoop op die toekomstige wêreld . ’n Christen leef in ’n dubbele konteks. Ons leef in ’n huidige teenswoordige wêreld - en in hierdie konteks moet ons fokus val op heiligheid. Maar terselfdertyd is ons ook mense van die toekoms - en teenoor die toekomstige wêreld, die verskyning van Jesus en daarmee saam die nuwe hemel en aarde moet ons ’n lewende hoop en verwagting hê. 

Heiligheid.  Wat bedoel dit? Kyk weer na vers 12 ev. Jy kan nie die samelewing verander nie, nie eers jou eie huismense nie, maar jy self kan anders leef. Los als wat verkeerd is – die goddelose leefwyse en wêreldse begeerlikhede. Jy as kind van God kan kies TEEN losbandigheid, onsedelikheid, gierigheid... Jy kan mos kies om nie na immorele TV sepies te kyk nie, jy kan kies om nie skelm besigheid te doen nie, jy kan kies om nie kwaad met kwaad te vergeld nie... Maar jy kan ook positief kies VIR selfbeheersing, opregtheid en godsvrug. “ywerig om die goeie te doen.” (14) Dis als moontlik omdat Jesus Homself vir ons as offer gegee het. Verlos van sonde skuld en met die Heilige Gees binne ons, kan ons nou goeie dinge doen! Ons hoor in Titus 3:1,2 wat die goeie dade verder prakties behels. Dalk hou ons nie daarvan nie, maar luister tog baie mooi... “Herinner die mense nadruklik daaraan dat hulle hulle aan owerheid en gesag moet onderwerp, daaraan gehoorsaam moet wees en bereid moet wees om alles te doen wat goed is. Hulle moet van niemand kwaadpraat nie en nie rusie soek nie. Hulle moet inskiklik wees en altyd bedagsaam teenoor almal.”

In 3:8 kom Paulus weer terug na die belangrikheid van goeie werk. “Dit is ‘n betroubare woord. Daarom wil ek hê dat jy van hierdie dinge met groot nadruk moet getuig, sodat dié wat tot geloof in God gekom het, hulle op goeie werk kan toelê, werk wat goed en nuttig is vir die mense.”

Nou sê jy miskien : “Hoe kan ek dit regkry om vriendelik en positief te wees? Kyk bietjie wat doen die regering, kyk hoe smerig, skelm en goddeloos is almal...” Ons kry ‘n belangrike perspektief in Titus 3:3. “Vroeër was ons ook onverstandig, ongehoorsaam, op die verkeerde pad, verslaaf aan allerlei begeertes en singenot; ons het ons lewe in kwaadwilligheid en jaloesie deurgebring; ons was haatlik en het mekaar gehaat.” Dit lyk amper of Paulus ons gedagtes kan lees. Hy sê : Ons (wat nou Christene is), was ook so. Moet dit nie vergeet nie. Asof hy wil sê julle moet maar geduldig wees met die slegte mense, onthou ons wat kinders van God is was maar eens op ’n tyd net so. Dis net deur die genade van Jesus dat ons nou anders is... Ja, my vriend dis net God se genade dat ek en jy nie (meer) ’n hoereerder, dief of dronkaard is nie! ‘n Kind van God is iemand wat nuutgemaak is deur die genade van God, moet dit nooit vergeet nie! Ontvangers van genade, behoort genadig en geduldig te wees met sondaars sonder om sonde goed te praat! (Kliek op JONA)

Hoop. Ons moet voluit gaan om goed, heilig en ordelik in hierdie wêreld te leef, maar dis nie al nie. Ons het ‘n hoop, ons moet uitsien na die heerlikheid wat wag! (2:13) Uitsien na 'n ewige toekoms, dis hoe ons kophou en moedhou te midde van goddelose toestande! Ons moet hoopvol uitsien na die gelukkige dag, die erfenis wat vir ons wag, die toekomstige wêreld Mag ons nooit vergeet, daar wag ’n erfenis vir God se kinders.... (Rom 8:17; 1 Petrus 1:3,4) Christenskap wat my nie laat uitsien na die verskyning van Jesus en die erfenis wat Hy ons gaan gee nie, is nie Nuwe Testamentiese Christenskap nie! As die goddeloosheid ons pla, en dit moet en sál ons pla, sal ons telkens weer opnuut met blydskap besef : “Wag net ‘n bietjie, die beste kom nog.” Ons mag nooit vergeet hierdie aarde is nie ons finale woonplek en eintlike vaderland nie. Ons mag nooit vergeet nie, Christene is pelgrims, op pad wees mense. Toets jou daaraan : hoe sien jy jouself, jou plaas, jou besittings? Het jou projekte, jou eie gesin, jou eie volk en jou eiendom nie dalk vir jou te belangrik geraak nie. 

Sien jy uit na die finale aanbreek van God se Koninkryk? Kan jy die “Onse Vader” opreg bid?

Hierdie tweeledige fokus moet in balans wees. Heilige betrokkenheid en wandel in hierdie lewe, hoopvolle verwagting op die toekomstige lewe. Heilig voluit lewe binne hierdie land en gemeenskap waar God ons geplaas het, maar terselfdertyd ons hoop vestig op die volmaakte bedeling wat sal aanbreek by die wederkoms van Jesus.

Ons mag nie eenkant wees nie, ons moet aktief betrokke wees met goeie werke, maar moenie vergeet nie daar wag ’n heerlike toekoms. My lewe hier is tydelik, my besittings word maar net vir my geleen, my eintlike burgerskap is in die hemel!

Hierdie balans van heiligheid nou en hoop op die eendag hou ons op koers, maar dis ook die basis van ons getuienis. Dis die tipe lewe wat raakgesien sal word deur onbekeerde mense, wat hulle sal aanspreek en hulle na die Here se genade sal laat soek. Die genade wat hulle ook daartoe kan bring om nuwe lewens te leef... AMEN

* Sien Titus 1:12






Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.