BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 01 September 2016

GEBROKE GEMEENSKAP EN FLOU “FELLOWSHIP”

- kan op net een manier weer herstel word.


Johannes is passievol oortuig dat die boodskap wat hy en die ander apostels verkondig die waarheid is! Dis die boodskap van Jesus, die Seun van God wat ons met God versoen het. Waarom is hy so oortuig? Hyself en die ander apostels het nie net iewers van Jesus gehoor nie, maar hulle het Homself gehoor, gesien en aan Hom gevat. “Van die begin af was Hy daar. Ons het Hom self gehoor; ons het Hom met ons eie oë gesien; ja, ons het Hom gesien en met ons hande aan Hom geraak. Hy is die Woord, die Lewe.” (1 Jn 1:1) Dink maar aan wat gebeur het na Jesus se opstanding toe Hy hulle uitgenooi het om aan Hom te voel, sodat hulle kon besef Hy is nie maar net ‘n spook nie. (kliek op SPOKE EET NIE VIS NIE)

In die evangelie het ons die betroubare woord van ooggetuies. Dis eg, dis waar, dis lewensveranderend!

Waar Jesus se boodskap verkondig en geglo word kom daar GEMEENSKAP tot stand. Anders gesê, slegs deur die aanvaarding van Jesus se boodskap, van Jesus self kan mens deel in die besondere gemeenskapsverhouding met die Vader en die Seun en met ander mense wat ook dieselfde boodskap aanvaar. Gemeenskap is ‘n belangrike herhalende tema/begrip hier in 1 Johannes 1. (Vers 3,6,7)*

GEMAAK VIR GEMEENSKAP

Wat beteken gemeenskap/koinonia/fellowship? Dis ‘n innige betrokkenheid by mekaar, ‘n vreugdevolle saamwees, ‘n geestelike band, ‘n naby verhouding, ‘n diepe kommunikasie met God en met mekaar. God het die mens van die begin af gemaak om met die mens ‘n bewustelike gemeenskap te hê, in ‘n verhouding te staan. Ons is juis daarvoor ontwerp om dit so te stel. God het die mens as vennoot en gespreksgenoot gemaak. God het die mens as sy persoonlike verteenwoordiger aangestel op aarde. Voor die sondeval het God (so lei mens af) vir die mens kom “kuier”. Hierdie gemeenskap is deur die sondeval verbreek. Die sonde het die mens skaam gemaak, vol skuldgevoelens en vrees. Daarom kruip Adam en Eva weg vir God. Maar dis juis waarom Jesus gekom het, om hierdie gemeenskap te herstel. Jesus vat die vyandskap tussen ons en God weg. Elkeen wat aan Jesus behoort is nou ‘n kind van God (3:1) en deel in hierdie gemeenskap met God, maar ook met ander kinders van God!

Johannes skryf vir Christene wat reeds deel aan die gemeenskap. Sy doel is om te verseker dat hulle voortgaan om hierdie gemeenskap te beleef en te geniet. Dit maak hom bly as Christene die volle seëninge van die evangelie beleef. (vers 4) Hy wys dus op twee sake : Dit wat hierdie gemeenskap versteur en belemmer. Hoe die gemeenskap met God en mekaar herstel kan word.

WAT VERSTEUR GEMEENSKAP MET GOD EN MET MEKAAR?

Die antwoord is sonde! Of soos Johannes dit stel duisternis. Duisternis is die probleem, want God is lig en daar is geen duisternis in Hom nie! Sonde druis in teen die wese en karakter van God. God kan nooit nie sonde akkommodeer, goedpraat of maar net onder die mat invee nie. Jy mislei jouself as jy so dink. Jy kan nie met God nie ‘n “deal” probeer maak oor sonde nie! ‘n Lewe in duisternis is onversoenbaar met gemeenskap met God. (incompatible) ‘n Lewe in sonde duisternis, versteur gemeenskap met God en met mekaar. Om te sê dat ons gemeenskap met God ervaar, maar doelbewus in sonde te bly voortleef is om vals te wees en ‘n leuen te leef. Hoe dikwels gebeur dit nie. Ons maak asof als reg is, ons gebruik die regte terme, ons kom nog steeds kerk toe, ons lees nog steeds die Bybel, ons prewel nog sulke afgestompte gebedjies, maar daar is geen ware vreugde en gemeenskap met God nie en ook nie met mekaar nie. Ons het geen ware kontak met God nie en ons saamwees met mekaar is ook net vir die skyn en vals.

Daar is so dikwels oppervlakkige pogings om groter betrokkenheid en gemeenskap in ‘n gemeente te bewerk... meer kuier, meer saambraai, meer funksies... Vurige pleidooie om onbetrokkenes tog net weer betrokke te kry... Dis als goed en wel, maar dikwels vergeet ons wat is die kernoorsaak van ‘n gebrek aan gemeenskap, naamlik sonde, duisternis... Sonde bring skeiding tussen God en mens, skeiding tussen mens en mens. Positief gestel, dis net as ons in die lig leef soos God in die lig is dat daar gemeenskap moontlik is. (vers 7) Om in die lig te lewe is om volgens God se standaarde van heiligheid en liefde te leef, om te doen soos Hy wil hê, om by sy opdragte in te val.

HOE WORD GEMEENSKAP MET GOD EN MEKAAR HERSTEL?

Daar is net een pad en dis die pad van belydenis. Om my sonde voor God te erken en met ware berou om vergifnis te vra. Moenie verskonings maak en verduidelikings probeer opdis nie. Noem sonde by die naam, erken as sonde dit wat God se Woord sonde noem. Vermy verkleinwoorde en versagtings... “Ag, ek kuier af en toe te veel” Nee, bely eerlik : “Here, ek is ‘n dronkaard!” 

Ontkenning van sonde sny jou af van vergifnis en daarom ook van gemeenskap. Belydenis van sonde bring vergifnis en reiniging en herstel weer gemeenskap! 

Glo die heerlike en kragtige belofte in vers 9 en maak gebruik van die voorreg om jou sonde eerlik te bely... Sonde bring skuld voor God, sonde maak ons onrein voor God, maar belydenis bring kwytskelding van skuld, belydenis maak ons weer skoon voor God. Belydenis bring bevryding van die skuld van sonde, maar ook van die mag van sonde. Ons sondeskuld wat ons vervreem van God word uitgewis, maar ons word ook bevry van die oorheersende mag van sonde! Dit alles is moontlik vanweë die bloed van Jesus, Jesus se volkome offer aan die kruis. Dis hierdie waarheid wat ons hoop gee, juis ook as ons geval het en dis waarom die Nagmaal vir ons so ‘n belangrike geleentheid is. Die Nagmaal waarborg hierdie waarhede weer op tasbare en sigbare wyse. AMEN


*1 Johannes 1:1 Van die begin af was Hy daar. Ons het Hom self gehoor; ons het Hom met ons eie oë gesien; ja, ons het Hom gesien en met ons hande aan Hom geraak. Hy is die Woord, die Lewe.

1Jo 1:2 Die Lewe het gekom; ons het Hom gesien en is getuie daarvan, en ons verkondig aan julle die Ewige Lewe wat by die Vader was en aan ons geopenbaar is.

1Jo 1:3 Hom wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan júlle, sodat julle aan ons gemeenskap deel kan hê. En die gemeenskap waaraan ons deel het, is dié met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus.

1Jo 1:4 Dit skryf ons sodat ons blydskap volkome kan wees.

1Jo 1:5 Dít is nou die boodskap wat ons by Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie.

1Jo 1:6 As ons beweer dat ons aan Hom deel het (gemeenskap OAV), en ons lewe in die duisternis, lieg ons en handel ons nie volgens die waarheid nie.

1Jo 1:7 Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde.

1Jo 1:8 As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie.

1Jo 1:9 Maar as ons ons sondes bely- Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.

1Jo 1:10 As ons beweer dat ons nie gesondig het nie, maak ons Hom tot leuenaar en is sy woord nie in ons nie.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.