BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 30 Oktober 2015

MODERAMEN VAN NAMIBIESE SINODE

het "selfstandig geoordeel om nie die Algemene Sinode se 2015-besluit te ondersteun nie."

Ek plaas die jongste skrywe vanaf die Namibiese moderamen hier onder:*

Van die moderamen, verkose voorgangers in die Namibiese kerkverband, aan die gemeentes van God in Namibië, wat in Christus Jesus geheilig is – geroepe heiliges: Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

Op 29 Oktober 2015 het ons in Windhoek vergader te midde van ernstige woelinge en dreigende skeuringe binne die NG-kerkverband dwarsdeur Suider-Afrika. Ons is daar deur Paulus se gebed vir die Romeine getroos en wil daarom ook hierdie troos aan julle deurgee daar waar julle is: Mag die God van volharding en bemoediging gee dat julle onder mekaar eensgesind sal wees, soos Christus Jesus dit wil hê, sodat julle eenparig, ja, uit een mond, aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, die lof sal bring. (Rom 15:5,6)

                Ons skryf na aanleiding van die omstrede besluite oor selfdegeslagverhoudinge en antwoord graag op vrae wat ons gehoor het.

1.      Wat is die status van die Algemene Sinode se besluit in Namibië? Hoekom het ons eers gehoor net een punt is nie van toepassing nie, maar later die hele besluit is nie van toepassing hier nie?
Die besluit is in sy geheel nie hier te lande van toepassing nie omdat die Algemene Sinode dit (op voorstel van twee Namibiese afgevaardigdes) so besluit het.
Ongelukkig het die Algemene Sinode aanvanklik ’n foutiewe formulering van die besluit vrygestel. Daarin is gesê dat net die punt wat handel oor die burgerlike verbintenisse tussen mense van dieselfde geslag nie op Namibië van toepassing is nie. Toe die Namibiërs in die land teruggekom het na die sinode, het ds. Hendrik van Zyl dadelik op die fout gewys en hom daarvoor beywer om die korrekte formulering te kry.
Ons vra verskoning vir hierdie geharwar!

2.      Hoekom lyk dit of die moderatuur se verklaring van 21 Oktober mense etiketteer en in kampe jaag?
Uit verskeie oorde het ons gehoor dat ’n deel van die moderatuur se verklaring van 21 Oktober ongelukkigheid tot gevolg gehad het. Veral die laaste vergelyking in par 2 van die moderatuur se verklaring, nl. “...en hoe hulle God ken en oor Hom dink (bv. ’n veroordelende God wat sondes straf teenoor ’n liefdevolle Vader wat in sy Seun, Jesus Christus, genadig en barmhartig is)”  het aanstoot gegee. (Kliek op FELDMUIS vir my reaksie op hierdie stelling)
Ons erken dat die moderatuur se verklaring vatbaar was vir misverstand en vra onvoorwaardelik verskoning hiervoor. (Dankie!) Die bedoeling van die verklaring was om lidmate op die kontinuum tussen die ekstreme van die debatslyn te erken en nie om ’n verdeling te bewerk nie.

3.      Die Algemene Sinode se besluit oor selfdegeslagverhoudings geld nie hier nie. Waar staan ons dan nou in Namibië?
Ons het, benewens die feit dat die besluit nie hier van toepassing is nie, selfstandig geoordeel om nie die Algemene Sinode se 2015-besluit te ondersteun nie. Ons kies tans om met die besluit wat die Namibiese sinode in 2006 geneem het, die 2007-besluit van die Algemene Sinode sowel as die 2013-besluit van die Algemene Sinode te volstaan.
Ons onderneem egter om die gesprek oor hierdie sensitiewe saak voort te sit met die oog op standpuntinname tydens die Sinodevergadering in Maart 2016.
Teen hierdie agtergrond versoek ons beleef dat julle in die gemeente in nederige afhanklikheid voor die Here met die gesprek moet voortgaan. Dit gaan krities belangrik wees vir julle afgevaardigdes na die sinode volgende jaar.
Ons wil graag 5 bronne voorstel wat julle in hierdie gesprek kan gebruik as riglyne:
·         Namibië se besluit oor homoseksualiteit van 2006 – ons plak dit hier onder in;
·         Die Algemene Sinode se 2007- en 2013-besluite – ook dit is hier onder ingeplak;
·         ’n Studiestuk oor selfdegeslagverhoudings wat deur dr. Chris van Wyk (van die Oos-Kaap) opgestel is. Dit word as aanhangsel by hierdie epos aangeheg.
·         Die storie van die NG Kerk se reis met selfdegeslagverhoudings wat op die internet beskikbaar is by http://atlas.bybelmedia.org.za.

Liewe Geloofsgenote, onthou: ons is ’n uitverkore geslag, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige nasie, ’n volk wat aan God behoort. Só tipeer Petrus die gelowiges in die diaspora (verstrooiing – 1 Pet. 2:9). Ons diepste anker lê daarin dat ons in Christus God se geliefde seuns en dogters is in wie Hy Hom verbly. Mag hierdie anker sterk genoeg wees om ons deur hierdie turbulente tyd in ons geskiedenis te dra!

Die genade van die Here Jesus Christus, die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees bly met julle almal!

Di Pine Pienaar, Johannes Maritz, Hendrik van Zyl, Evert Strydom, Gerhard Liebenberg, Clem Marais, drr. André Olivier, Fourie vd Berg.
Oudll Fouché Brand, Recht vd Westhuizen, Jacques Coetzer, Pieter vd Westhuizen, Fanie Badenhorst.
LEDE VAN DIE MODERAMEN TEENWOORDIG OP DIE VERGADERING VAN 29 OKTOBER 2015

Die Namibiese sinode se 2006-besluit oor homoseksualiteit:
1.   Die kerk besef en erken dat daar in die Bybel eksplisiete vermelding is van ‘n verskeidenheid van seksuele optredes wat afwyk van en in teenstelling is tot die oorspronklike bedoeling van God met seksualiteit. Praktyke en optredes soos buite-egtelike geslagsverkeer, bloedskande, verkragting, egbreuk/huweliksontrou, prostitusie en egskeidings word onomwonde in die Bybel vermeld. Vreemd genoeg word hierdie optredes nie elkeen op presies dieselfde wyse in die Bybel beoordeel en/of afgewys nie. Die twee seksuele optredes wat in die Bybel op die skerpste wyse veroordeel word, is prostitusie en homoseksuele gedrag.
2.   Dat die sondige natuur van die mens se verwording en verval uiteraard ook (‘n mens wil byna sê, veral) in dade en optredes van seksuele aard na vore kom, maak nie die goddelike gegewe van menslike seksualiteit as sodanig sondig nie. Eerder   besef die kerk dat dit wat die Bybel vir ons oor die aard en gevolge van sonde leer, met konsekwente erns ook op praktyke wat in teenstelling tot die bedoeling van God met seksualiteit gepleeg word, van toepassing is. Sonde vernietig die mens se lewenspotensiaal en lei tot die ewige geestelike dood. Om met die gawe van ons seksualiteit om te gaan en dit uit te leef op ander maniere as wat God self daarvoor gewil het, is soos wat dit trouens die geval is met die ondoelmatige uitlewing van enige ander gawe wat die Skepper aan die mens toevertrou het, sonde in die oë van die Here.
3.   Die opvallende is dat nêrens in die Bybel eksplisiet inhoudelik berig word omtrent spesifieke dade en optredes van homoseksuele geslagsgemeenskap nie. Daar word slegs op indirekte wyse na sodanige optredes verwys of oor die neiging daartoe gepraat en dan wel in ernstige veroordelende taal en bedoeling.
4.   Op grond en na aanleiding van deeglike eksegetiese ondersoek en begronding is dit op geen manier vir die kerk in haar lesing en interpretasie van die Bybel moontlik om homoseksuele dade en praktyke van geslagsgemeenskap te aanvaar en te regverdig as dit ook binne die oorspronklike bedoeling van God met menslike seksualiteit verstaan en gehandhaaf kan word nie. Dit strook volgens die Bybel nie met God se oorspronklike bedoeling vir menslike seksualiteit nie.
5.   Die kerk kan nie anders nie as om die bestaande werklikheid van mense met ‘n homoseksuele oriëntasie te erken nie. Sommige navorsing vanuit die menswetenskappe wys onder meer daarop dat ‘n mens se seksuele oriëntasie, hetsy heteroseksueel of homoseksueel, so wesenlik deel is van die mens se identiteit en selfbewussyn dat dit net so min kan verander, ontgroei of afgelê kan word as wat ‘n mens se ras of geslag deur psigiese prosedures kan verander. Net soos wat daar baie ander werklikhede in die skepping is wat ons nie kan verklaar nie, kan ons ook nie ten spyte van baie navorsing en studie, afdoende verklaar of  verstaan hoekom dit is dat sommige mense se konstitusie so is nie. Die kerk getuig dat die Bybel in geen taal praat of leer oor die onverstaanbare werklikheid van hierdie soort oriëntasie by ‘n klein persentasie mense nie. In die Bybel word slegs deurlopend verwys na en gepraat oor die neiging tot die praktyk van homoseksuele geslagsgemeenskap tussen merendeels mans en soms ook vroue. Ons besef en aanvaar dat mense met sodanige natuurlike oriëntasie nie bloot afwykende, immorele of sondige keuses maak om op so ‘n manier te wees nie.
6.   Deur die erkenning van die werklikheid van ‘n menslik-onverklaarbare  homoseksuele oriëntasie by sommige  mense aanvaar die kerk die verantwoordelikheid om hierdie mense met ‘n pastorale gesindheid van sensitiwiteit en begrip te aanvaar en respekvol te behandel as ewemense voor die aangesig van die lewende God wat hulle geskep het. Mag die Gees van Christus sy gemeente tog daarvan bewaar om in ‘n gesindheid en houding van onverdraagsaamheid en geestelike hoogmoed veroordelend en verkleinerend teenoor enige mens van God se liefde op enige wyse te dink of op te tree. Waar sodanige gedrag of houding in die verlede of tans nog deur lede van die kerk teenoor mense van homoseksuele oriëntasie uitgeleef is, het die kerk skromelik in haar roeping tot genadige liefdesdiens in die Naam van Christus gefaal.
7.   Die kerk aanvaar en eerbiedig ook in goeie trou mense met ‘n homoseksuele oriëntasie se opregte belydenis van hulle egte saligmakende geloof in God Drie-enig as ‘n geloof wat alleen berus op die genadige soenverdienste van Jesus Christus, ons Here.
8.   In sy etiese lering handhaaf die kerk dat die Bybel duidelik is oor die goddelike gegewe van menslike seksualiteit. Ons verstaan dat seksualiteit primêr deur God geskep en bedoel is om die menslike geslag  te laat voortplant en te vermeerder  binne die raamwerk en ruimte van gesinne gegrond op ‘n onverbreekbare egverbintenis en trouverbond tussen ‘n man en ‘n vrou wat mekaar liefhet. Dit is ook die ruimte waarbinne die mens vreugde vind in die belewing en beoefening van sy / haar seksualiteit, omdat die mens daarmee, ten spyte van die gebrokenheid en verval van die skepping, met die hulp van die Gees van Christus tog daarna streef om te probeer voldoen aan die  bedoeling en wil van God self. Immers deur die eeue heen het die kerk getuig dat die goddelik-bedoelde beoefening en uitlewing van die mens se seksualiteit in ‘n verhouding van trou, die een hoedanigheid van die mens is wat hom / haar op die mees lewensvervullende wyse in verhouding tot ‘n medemens bring. 
9.   Wanneer die kerk dus ‘n pastorale gesindheid en optrede van aanvaarding teenoor mense van homoseksuele oriëntasie handhaaf, kan die kerk nie anders nie as om hierdie mense te versoek om die verantwoordelikheid van die selibate lewe te aanvaar en hulle te weerhou van dade en praktyke van homoseksuele geslagsgemeenskap nie. Dit is nie die geval omdat die kerk daarmee in eie reg en terwille van selfhandhawing so kies nie, maar omdat die kerk gewoon nie anders kan nie as om te probeer om, sovêr dit binne haar begrip en vermoë is, getrou te bly aan haar verstaan van God se oorspronklike bedoeling met menslike seksualiteit soos die Bybel daaroor praat.
10. Daar is geen manier waarop die kerk lidmate van ‘n homoseksuele oriëntasie wat selibaat leef, wil verhinder of belemmer in die uitleef van hulle diens aan die Here nie.  Daarom aanvaar die Kerk dat hulle net so geskik en bekwaam is soos enige ander lidmaat om ampte in die gemeente te beklee.  Die lewe van selibaat wat die kerk van lidmate en medegelowiges van homoseksuele oriëntasie verwag, is dus nie bedoel om hulle te na te kom, te veroordeel of te verontreg nie.  Eerder word dit gebore uit ‘n eerlike en opregte poging om in ons menslike swakheid, niks anders te wil wees of na te streef as om Christus, ons Here, te ken en aan Hom gehoorsaam te wees uit dankbaarheid vir Sy onverdiende en onbegryplike genade in ons lewe nie.

Die Algemene Sinode se 2007-besluit oor homoseksualiteit:
1.   Die Bybel is ons uitgangspunt en in ons nadenke oor homoseksualiteit soek ons eerlik na maniere om die Bybelse waardes betekenisvol binne die konteks te interpreteer.
2.   Ons aanvaar die liefde van Christus as die enigste geldige grondhouding waarop verhoudinge binne die geloofsgemeenskap gebaseer word. Alle mense is geskep na die beeld van God, die verlossing in Christus is vir alle mense en die Gees is uitgestort op alle gelowiges. Daarom aanvaar ons die menswaardigheid van alle mense.
3.   Alle mense, ongeag hulle seksuele oriëntasie, is ingesluit in God se liefde en hulle word op grond van hulle doop en geloof as lidmate van die kerk van Christus aanvaar. Onder lidmaatskap word verstaan toegang tot die sakramente, toegang tot die ampte en onderworpenheid aan die kerklike tug.
4.   Die Algemene Sinode herbevestig die besluit van 2004 dat, volgens ons verstaan van die Bybel, slegs die verbintenis tussen een man en een vrou as ‘n huwelik beskou kan word.
5.   Die Algemene Sinode bevestig ook die besluit van 2004 dat sowel heteroseksuele as homoseksuele promiskuïteit ten sterkste veroordeel word.
6.   Die Algemene Sinode besluit dat, in die lig wat ons tans het, homoseksuele verbintenisse en huwelike nie as ‘n alternatief vir die huwelik aanvaar kan word nie.
7.   Die verlening van predikantsbevoegdheid is ‘n funksie van die Algemene Sinode. Die sinode besluit dat homoseksuele gelegitimeerdes wat ‘n selibate lewenstyl beoefen tot die predikantsamp toegelaat word.
8.   Die Algemene Sinode erken die diskresie van Kerkrade om die verskille oor homoseksualiteit in gemeentes in die gees van Christelike liefde te hanteer.
Die Algemene Sinode verklaar dat die besluit van 8 punte insake homoseksualiteit as 'n eenheid aan die Algemene Sinode gestel is en dat hierdie besluit as 'n eenheid gelees en verstaan moet word.

Die Algemene Sinode se 2013-besluit oor homoseksualiteit:
Die Algemene Sinode
1 bevestig dat die besluit van 2007 oor homoseksualiteit geneem is na ʼn deeglike eksegetiese en teologiese studie;
2 gee opdrag aan die ASM om in voortsetting van die 2007 verslag oor homoseksualiteit ʼn studie te doen oor die status van selfdegeslagverhoudings in die lig van die Skrif en Gereformeerde tradisie;
3 besluit dat homoseksuele en heteroseksuele studente wat hulle voorberei vir die bediening in die NG Kerk, aan dieselfde Christelik-etiese standaarde moet voldoen met die oog op legitimasie;

4 verbind hom ook in die hantering van die saak aan die waardes van die Seisoen van Menswaardigheid.

*Die feit dat ek hierdie volle verklaring so plaas beteken nie noodwendig dat ek als persoonlik daarin onderskryf nie. Dit is wel positief in die sin dat die moderamen duidelik nie die AS 2015 se besluit oor selfdegeslag verhoudings onderskryf nie! Dit beteken volgens my beskeie interpretasie dat praktiserende homseksuele predikante nie in Namibië bevestig mag word nie! Hierdie saak se ontwikkeling in Namibië laat mens natuurlik met baie vrae, soos oor die rol en die integriteit van die Algemene Sinode. Byvoorbeeld, wat is die standaard van notulering van so 'n belangrike kerkvergadering soos die AS, hoe kan die AS dan nou verskillende legitimasie vereistes voorstaan binne dieselfde kerkverband? 'n Mens wonder ook oor hoekom sommige moderatuurslede van die Namibiese sinode die AS besluit in die openbaar so naarstigtelik verdedig het?

Dinsdag 27 Oktober 2015

PIONIERSPARK PRAAT OOK

"’n Sinode kan nie die sonde van homoseksuele dade vryspreek om mense so te red van die straf en oordeel van God nie, alleen Jesus Christus kan ons vryspreek langs die weg van geloof en bekering."

Nog 'n Namibiese gemeente het sterk standpunt ingeneem teenoor die Algemene Sinode van die NG Kerk se besluit oor selfdegeslagverhoudings! Dankie Pionierspark!

Maandag 26 Oktober 2015

GOOD NEWS FROM GERMANY/GOEIE NUUS UIT DUITSLAND

In the wake of so much bad news e.g. the capitulation of churches to the humanistic gay agenda, it is really encouraging to hear about a German pastor Olaf Latzel who fearlessly  preaches the Gospel! Let us pray for him...

To see video, click OLAF LATZEL

Met al die slegte nuus van die afgelope tyd oor 'n kerk wat nie meer erns met die Bybel maak nie, is die prediking van Pastoor Olaf Latzel van Duitsland soos 'n vars briesie van bemoediging. Latzel neem duidelik standpunt in teen selfdegeslaghuwelike en gesamentlike aanbidding met Moslems. Hiervoor moet hy selfs vervolging en verguising verduur. Hy is al deur politici voor stok gekry en 70 van sy mede pastore het deelgeneem aan 'n betoging teen hom. Kom ons bid vir hom en elke ware verkondiger van die Woord...



Vrydag 23 Oktober 2015

MOET EROS REGEER?

SEKS IS NIE ALLES NIE!

"Ons leef in ‘n tyd waarin Eros haar reg en heerskappy oor ons lewens met ‘n byna gewelddadige volgehoudenheid oor ons lewens wil uitoefen."

Ds.Eugene Viljoen skryf treffend oor hierdie sake. Hier is stof wat stem tot diep nadenke en selfondersoek :


Seksualiteit en selfverloëning

Inleiding

Ons leef in ‘n tyd en samelewing waar seksualiteit deur talle mense beskou word as ‘n gebruiksartikel. Dit is iets wat nie alleen geniet kán word nie, maar selfs deur almal wat wil geniet móét word. Elkeen het blykbaar die reg daarop. Seksualiteit word bekyk vanuit die perspektief as ‘n basiese lewensdrang of -lus. Soos wat ‘n mens ‘n basiese drang na voedsel, beskerming en veiligheid het vir sy oorlewing, só is seksualiteit ‘n basiese lewensdrang waaraan met genot en vryheid uiting gegee móét word. Die manier waarop die liggaamlike omgang tussen man en vrou dan ook heel kort as “seks” beskryf word, is tiperend van hierdie verbruikersmentaliteit. Die woord wil heel kort verwoord dat ‘n natuurlike drang uitgeleef word. Van liggaamlike eenwording tussen ‘n man en vrou in ‘n huweliksverhouding waar uitdrukking gegee word aan hulle wedersydse liefde, kom min tereg in so ‘n besondere kaal woord. Seksualiteit word versmal tot ‘n drang en ‘n daad.

Donderdag 22 Oktober 2015

VERGIFNIS BY DIE VUUR

DAAR IS VERRAAD GEPLEEG, MAAR OOK VOLLE VERGIFNIS EN HERSTEL ONTVANG!

Stukkende mense, stukkende huwelike, stukkende gesinne... pynlik sondegebroke mensdom, dis die werklikheid. Dis wat ons elke dag sien, beleef en self aan ons lywe voel... Maar, dis vir hierdie stukkende wêreld wat Jesus hoop bring. Wat is die hoop? Volledige vergifnis en herstel! 

PETRUS

Die heerlike feit van volledige vergifnis en herstel word vir ons dramaties en hartroerend uitgebeeld in die lewe van Petrus. (Lees gerus Johannes 18:15-18,25-27; 21:1-18) Petrus die rots. Ons ken die geskiedenis van hierdie “rots” - hy het Jesus drie maal openlik verloën. Die rots het gewankel, die pilaar het geval, die staatmaker het gevou. Petrus was een van daardie ongelukkige mense wat openlik gesondig en in die skande beland het. Sy sonde kon nie verberg word nie, almal het daarvan geweet. ‘n Mens kan jou indink die skande, vernedering, hartseer, selfverwyt en beskuldigende kyke wat hy moes deurgaan. “ja, jou grootbek....” (Op hierdie stadium het hy waarskynlik reeds persoonlik vergifnis ontvang, want hy het bitterlik gehuil na die haan se derde kraai...) 

Nou hier na ete - kom Jesus met hierdie vraag in die openbaar: “Het jy my waarlik lief, meer as hulle hier? “meer as hulle” - verwys na die ander dissipels wat teenwoordig was. Hoekom so voor almal? Dit maak baie sin want juis Petrus was ten opsigte van die ander die een wat die sterkste homself uitgespreek het. Terwyl die ander stil was het hy gespog : “ek sal my lewe vir u aflê!” (13:37,38) Petrus was die voorbarige, die sterke, dis juis hy wat tot aksie oorgegaan het en Malchus se oor afgekap het. Maar daarna het dinge tragies skeefgeloop. Petrus se selfvertroue en sy vleeslike dapperheid het hom in daardie krisisnag in die steek gelaat. Menslik gesproke het hy sy potensiaal as toekomstige leier onder die apostels onherroeplike skade aangedoen. 

NIE AFGESKRYF NIE!

Ja, menslik gesproke, maar Jesus het hom nie afgeskryf nie! Want Jesus bring volledige (in hierdie geval ook openbare) vergifnis. Mooi verduidelikings en verskonings sou niks vir hierdie gevalle dissipel kon doen nie. Gesien die omstandighede dat Petrus as leierfiguur sy aansien onder die ander dissipels verloor het weens sy lafhartigheid, was iets meer as net private vergifnis nodig. Jesus moes hom in die openbaar herstel. 

Langs ‘n houtskoolvuur* het Petrus verraad gepleeg en langs ‘n houtskoolvuur het hy volle vergifnis en herstel ontvang. 

Hier voor almal vra Jesus ‘n diepte ondersoekende vraag, wat Petrus waarskynlik tot in die diepte van sy siel sou geruk het. Probeer jou indink - hier voor almal word hy by die naam uitgesonder, en dit terwyl almal van sy pynlike mislukking bewus was. “Jy, Simon, seun van Jona, het jy my lief, meer....” Petrus se antwoord is veelseggend. Vroeër was hy nie skaam om homself ‘n trappie hoër as sy mede dissipels te stel nie. Maar nou is dit opvallend - hy probeer glad nie eers die vraag antwoord deur ‘n vergelyking met die ander te maak nie. Hy werp hom maar net op Jesus se kennis van sy hart. Sy gebroke, berouvolle hart. Petrus sê in effek, “Here ten spyte van my bittere mislukking, weet U dat ek U liefhet.” Jesus aanvaar sy antwoord. Die bewys daarvan kry ons in die opdrag “ laat my lammers wei” Dit eindig egter nie hier nie - Jesus herhaal die selfde vraag nog twee keer. Drie keer moet Petrus ten aanhore van almal hierdie pynigende vraag hoor. “Het my lief?” Die derde keer lees ons (17) het Petrus bedroef geword. Miskien het hy openlik gehuil ons weet nie. Sy hart was gebreek. Net soos hy Jesus drie keer verloën het verlang Jesus nou drie keer hierdie opregte belydenis van hom. Die derde keer antwoord die bedroefde Petrus : “U weet alles....” Ek kan dit so voor my oë sien hoe ‘n betraande Petrus dit uitroep : “Here, U weet alles, U weet dat ek U liefhet” Gebroke , geen spoor meer van selfgeregtigheid en voorbarigheid nie! Petrus het niks meer oor om mee te spog nie. Ook Jesus herhaal sy opdrag : “Laat my skape wei.”

Petrus se bediening word herstel!

Let op die bediening word nie in ‘n titel gegee nie maar in praktiese opdragte : “laat wei, pas op.” Inderdaad het hy hierdie bediening getrou uitgevoer soos mens kan aflei uit sy opdragte aan ander herders. ( 1 Petrus 5:1-4) Net terloops - die skape wat Petrus moes oppas was nie sy skape nie , maar Jesus s’n “....my skape...” Die kerk is nie een van ons s’n nie, maar Jesus se eiendom wat Hy met sy bloed gekoop het! Onthou dit maar…

1.Hierdie gedeelte bring hoop vir gevalle kinders van God wat berou het. Sonde beteken nie die einde van jou kindskap of bruikbaarheid nie! Hier is hoop vir daardie dissipels wat deur sonde in die bittere skande voor God en mense gebring is. Hoop vir jou en my in ons grootste mislukking, skande of ellende! Wat is die hoop? Die volledig herstellende genade en vergifnis van Jesus Christus. Totale kwytskelding! Die ontroue Petrus kry sy “job” terug! Petrus se skandelike sonde is radikaal deur Jesus self vergewe en die bewys daarvan vind ons in sy vrugbare arbeid en sy getrouheid tot die dood. ‘n Ontroue dissipel word vergewe en bly uiteindelik getrou. Watter ongelooflike troos! Wie van ons kan nie met Petrus identifiseer nie? Wie van ons is nie diep bewus van die talle kere wat ons ons Here in die steek gelaat het nie. Watter troos om te weet dat ware dissipelskap nie altyd ‘n super suksesverhaal is nie. Dis ‘n genadeverhaal!

2.“Het jy my lief?” Hierdie vraag bly steeds die primêre vraag wat Jesus aan sy volgelinge stel. Hy vra dit nou vir jou! Getrouheid en lojaliteit aan Jesus word nie in die eerste plek gemeet aan ‘n intellektuele onderskrywing van ‘n stel geloofsartikels nie. Petrus het deurgaans die regte feite oor Jesus geglo, maar wat Jesus wou dat hy in die openbaar moes bely is sy liefde vir sy Verlosser! Die inhoud sowel as die motivering van ware toewyding is liefde vir Jesus self. Waar dit ontbreek is daar geen ware verhouding met die Verlosser nie, slegs miskien uiterlike godsdiens. 

Kom ons hoor elkeen hierdie vraag - “Het jy my lief?” uit Jesus se mond en ons antwoord met ons lewens daarop. 

*ανθρακια Hierdie woord word net twee keer in die Nuwe Testament gebruik. Deur hierdie stukkie detail wil Johannes waarskynlik seker maak (op ‘n subtiele manier) dat ons die twee gebeure met mekaar in verband bring.



Woensdag 21 Oktober 2015

VRAE AAN DIE "FELDMUIS"

Die Feldmuis van Namibië is 'n baie skerp muis wat mens soms ook laat skaterlag, maar nou het die einste muis aan my siel geknaag...

Wat onstel my so? Ek haal aan:


[Die probleem lê dieper...

Die uiteenlopende standpunte wat lidmate en kerkrade oor selfdegeslagverhoudinge huldig, is ’n simptoom van ’n dieperliggende verskil tussen gelowiges. Ten diepste verskil gelowiges se verstaan van die gesag van die Bybel (bv. letterlik soos dit daar staan teenoor inagneming van tyd en omstandighede van ontstaan), hulle siening oor wat sonde is (bv. ’n lys van verkeerde dinge teenoor ’n persoonlike verhouding met God wat verbreek is) en hoe hulle God ken en oor Hom dink (bv.’n veroordelende God wat sondes straf teenoor ’n liefdevolle Vader wat in sy Seun, Jesus Christus, genadig en barmhartig is)]


GEVAARLIK EN ONSKRIFTUURLIK

Hier word myns insiens 'n baie gevaarlike teenstelling(s)* gemaak en sommer ook 'n ongelukkige beskuldiging rondgeslinger. Die indruk word geskep dat mense (soos ek) wat op duidelike Bybelse gronde teen die goedpraat van selfdegslagverhoudings gekant is, beskuldig word dat ons kwansuis (slegs) glo in 'n veroordelende God wat sondes straf. (en by implikasie nie aan 'n liefdevolle God nie) Die pro selfdegeslagmense is diegene wat dan nou glo in 'n liefdevolle Vader. Dis natuurlik 'n valse teenstelling en tipiese strooipop argument.

Dis ook om dit sagkens te stel, nie 'n baie nugtere omgang met die Bybelse gegewens nie!

Met my hele hart glo ek in 'n liefdevolle Vader wat my genadig is in Jesus Christus! Dis my as sondaar se enigste hoop. As ek sing, "Leeg met my sondelas hou ek U verdienste vas", is dit my persoonlike belydenis en my enigste troos. Ek glo in radikale vergifnis en ek verkondig radikale vergifnis! (Kliek op VERGIFNIS BY DIE VUUR)

Maar ek glo inderdaad ook in 'n God wat sondes straf. Trouens, Hy haat sonde so dat Hy selfs sy eie Seun gestraf het, toe Hy belaai was met my sonde en as sondaar in my plek behandel is. (Jesaja 53:5,6; 2 Korintiërs 5:21)

Ja, as ek in Jesus glo word ek inderdaad nie meer gestraf nie, maar ontvang ek die ewige lewe as geskenk. Maar dit beteken nie dat God nou skielik sonde goedpraat of Sy Heiligheid prysgee nie.

As dankbare kind van God moet ek nou teen die sonde stry! Romeine 6:1,2 is mos duidelik! "Wat moet ons nou hiervan sê? Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem? Beslis nie. Hoe kan ons wat dood is vir die sonde, nog daarin voortlewe?" God se genade in Jesus, maak nie sonde nou skielik OK nie!

Binne die konteks van 'n gelowige se lewe is sonde steeds 'n saak waarteen ons moet stry en waarvan ons moet wegvlug! Selfs ten bloede toe! En daarom herinner die Hebreërskrywer ook juis vir Nuwe Testamentiese Christene dat "ons God 'n verterende vuur" is!  (Hebr 12:29) Ook op baie nader plekke in die Nuwe Testament word God se heiligheid en wraak oor sonde duidelik uitgespel en word ook gelowiges daarop attent gemaak. (deur byvoorbeeld parallele te trek tussen gelowiges en oud Israel, wat verlos is uit Egipte, maar weens die toorn van God nooit die beloofde land bereik het nie) Dink maar aan 1 Korintiërs 10 en die hele brief, Judas! En wat van die sterk taal waarmee die sewe gemeeentes in Openbaring tereggewys word? Nou onlangs tref die sterk woorde van veroordeling van die Here van die kerk my in Openbaring 2:23 my..."En haar (die valse profetes Isebel) kinders sal ek sekerlik doodmaak..." Feldmuis moet dalk vir ons verduidelik wat hierdie Skrifgedeeltes beteken!

HEIDELBERGSE KATEGISMUS

Ek wonder ook wat Feldmuis van die Heidelbergse Kategismus in die verband sê, wat gelowiges waarsku om te volhard in goeie werke? Hierdie waarskuwings sou mos geen sin maak as God nie meer oor sondes omgee en dit straf nie?

HK 86 Vraag: Waarom moet ons nog goeie werke doen, terwyl ons tog sonder enige verdienste van ons kant alleen uit genade deur Christus uit ons ellende verlos is? Antwoord: Omdat Christus ons, nadat Hy ons met sy bloed gekoop het, ook deur sy Heilige Gees tot sy ewebeeld vernuwe sodat ons met ons hele lewe bewys (a) dat ons God dankbaar is vir sy weldade en Hy deur ons geprys (b) word: Verder, sodat ons vir onsself uit die vrugte van ons geloof sekerheid kan kry. (c), en ons deur ons godvresende lewe ons naaste ook vir Christus kan wen (d). (a) Rom 6:13; 12:1, 2; 1 Pet 2:5, 9; 1 Kor 6:20. (b) Matt 5:16; 1 Pet 2:12. (c) 2 Pet 1:10; Matt 7:17 Gal 5:6, 22. (d) 1 Pet 3:1, 2; Rom 14:19.

87 Vraag: Kan die mense dan nie salig word wat in hulle goddelose, ondankbare lewe volhard en hulle nie tot God bekeer nie? Antwoord: Nee, glad nie. Want die Skrif sê dat geen onkuise, afgodedienaar, egbreker, dief, gierigaard, dronkaard, lasteraar, rower en sulkes die koninkryk van God sal beërwe nie (a). (a) 1 Kor 6:9, 10; Ef 5:5, 6;1 Joh 3:14. 

Ek wil nie graag met iemand 'n geveg gevoer in die kuberruimte nie. Maar Feldmuis se menings is in die openbare domein en daarom mag ek nie daaroor stilbly nie. (ek hoop my opmerkings word in die lig hiervan verstaan) Ek val ook nie hier 'n persoon/persone aan nie, maar 'n standpunt!

Terloops, Feldmuis laat weet ons dat die hele besluit oor selfdegeslagverhoudings NIE op Namibië van toepassing is nie. Dis aan die eenkant goeie nuus, maar laat mens met nog meer vrae as antwoorde. Waarom word dit nou eers so lank na die gebeure eksplisiet gesê? Hoekom is dit nie duidelik gestel in die pastorale brief wat ons 'n ruk gelede ontvang het nie? Hoe kan een kerkverband nou verskillende vereistes vir legitimasie (of dan beroeping) stel? Want dit sou beteken dat praktiserende homoseksuele  predikante/proponente nie in Namibië beroep mag word nie, maar wel in Suid-Afrika. Help my as ek verkeerd is. Kan ons dan hoegenaamd nog deel wees van die Algemene Sinode? As Namibië se regering hulle standpunte sou verander, gaan die kerk in Namibië dan weer inval by de AS besluite? Wat is die regte rede waarom Namibië dan uitgesluit word van die AS besluit? Het ons meer respek vir die staat as die Woord? Baie vrae... help asseblief as iemand die antwoorde ken...

*Die ander teenstellings is net so aanvegbaar, ek behandel net een.

Vir die Bybelse balans tussen God se straf en liefde, kliek op LIEFDE VIR 'N HOER!

LOUIS TRICHARDT KAP SINODE SONDE

VERKLARING DEUR DIE UITGEBREIDE RINGSKOMMISSIE* VAN DIE RING VAN LOUIS TRICHARDT: 19 OKTOBER 2015



DIE SONDE VAN DIE AS: DIE INSTELLING VAN NUWE MENSLIKE VERBINTENISSE BUITE DIE HUWELIK VIR GESLAGTELIKE VERKEER.

VERKLARING

1.Die Uitgebreide Ringskommissie van die Ring van Louis Trichardt het op die  vyftiende Oktober 2015 die besluite van die Algemene Sinode oor homoseksualiteit en die moontlike aanvaarding van die Belharbelydenis deur streekssinodes verwerp.

2.Die kommissie roep die kerkrade, gemeentes en lidmate van die ring op om hierdie besluite van die Algemene Sinode (voortaan AS) te verwerp.

3.Die kommissie beveel die besluit wat die kerkraad van die gemeente Louis Trichardt aan die kommissie voorgelê het, by kerkrade aan as die standpunt wat teenoor die AS se besluit ingeneem moet word.

4.Die kommissie gee sy ringsgemeentes kennis dat die kommissie dit oorweeg om by die Ring aan te beveel om, indien die Noordelike Sinode deur die instelling van die Sinodale Diensraad, nie die innerlike teenstrydigheid van die besluit van die AS aanspreek en opklaar nie, gemeentes te vra om hulle fondse van die sinode te weerhou.

5. Die AS se standpunt dat kerkrade nou mag besluit dat wat vir een sonde is vir ʼn ander gehoorsaamheid aan die Here is, is kerkregtelik teen die taak en bedoeling van die AS om die gemeenskaplike belang van die NG Kerk te dien. Die uitgebreide ringskommissie van die Ring van Louis Trichardt wys kerkrade en gemeentes daarop dat die AS met hierdie reëling in effek die sinodale verband van die NG Kerk verbreek het. Die AS het sy taak as vergadering versaak: om die gemeenskaplike belang van die NG te dien. 

6.Dit is hierdie kommissie se oortuiging dat hierdie sonde van die AS elke lidmaat en kerklike vergadering voor die uitdaging stel om hierdie gebroke verband te herwin en te handhaaf. Die kommissie het besluit dat die weg waarin hy die Ring sal lei is om sy sinodale karakter te behou teen hierdie verdelende besluit van die AS. Die eerste handeling
om ons verband te behou, is om die AS se besluite te verwerp.

7.Die kommissie wys kerkrade en lidmate daarop dat die AS se sondige besluit lidmate en kerklike vergaderinge in die posisie plaas om aan God meer gehoorsaam te wees as aan die AS se besluite. (Handelinge 4:19 en 20)
Dit is nie ʼn moeilike keuse waarvoor ons geplaas is nie. Veral nie teenoor die AS wat openlik erken dat die AS sy lidmate oor die 40 jaar mislei het deur die sonde van apartheid as gehoorsaamheid aan God vir sy lidmate geregverdig het. Die AS is maar net weer besig om die nuwe staatbestel Bybels te heilig en te regverdig as God se nuwe bestel vir sy kerk, op dieselfde wyse as wat die AS apartheid met die Bybel probeer regverdig het.

8.Daarom bly die Ring by sy standpunt dat die enigste geloofsoortuiging waaraan gelowiges gebind kan wees is dat homoseksuele verbintenisse sonde is.

* Die Uitgebreide Ringskommissie van die Ring van Louis Trichardt bestaan uit elke gemeente se ringsafgevaardigdes om spoedeisende sake namens al die ringsgemeentes tussen Ringsittings te hanteer.


Sondag 18 Oktober 2015

GAY DEBAT - ESSENSIE

Prof Jan van der Watt wys wat regtig op die spel is in die gay debat.

Dit gaan eintlik oor net een kernsaak : BUIG ONS VOOR GOD SE WOORD OF NIE?


[Prof van der Watt is 'n uiters knap akademikus, wat voorheen by Tukkies klas gegee het. Tydens die Universiteit van Pretoria se 100 jarige bestaansviering is hy benoem as een van die 100 mees invloedryke akademiese denkers van die universiteit! Ek het ook NUWE TESTAMENT by hom gehad.]

Kliek op die "clip" hieronder.





As jy meer wil weet... Daar is persone wat met slim verduidelikings oor die Griekse woorde veral malakoi en arsenokotai wat byvoorbeeld in 1 Kor 6:9-11 gebruik word die duidelike Bybelse NEE vir homoseksuele gedrag in 'n JA wil verander.  Prof van der Watt verduidelik baie mooi wat hierdie woorde beteken. Kliek op VAN DER WATT (dis 'n skakel na die derde video in die reeks)

TSUMEB BESLUIT OOK

Hier is die besluit van die kerkraad  van die NGK TSUMEB wat geneem is in reaksie op die Algemene Sinode se besluite rondom homoseksualiteit wat soveel onmin veroorsaak.

VERKLARING  RAKENDE DIE BESLUITE VAN DIE ALGEMENE SINODE OOR SELFDEGESLAGVERHOUDINGS

1.     Ons die kerkraad van die NG Kerk Tsumeb distansieer onsself in die sterkste moontlike taal van die Algemene Sinode van 2015 se besluite oor selfdegeslagverhoudings.

2.     Ons verwerp die gesag en besluite van die Algemene Sinode in soverre dit bots met die Woord van God, want ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan mense.

3.     Ons betreur die teologiese verwarring en morele verval in die NG Kerk en haar teologiese fakulteite wat die groeibodem is van onbybelse besluite en praktyke soos hierdie.

4.     Ons doen ‘n baie ernstige beroep op die Ring van die Noorde en die Namibiese Sinode om ‘n ondubbelsinnige Bybelse standpunt in te neem rakende die hele kwessie van selfdegeslagverhoudings.

5.     Ons herbevestig ons standpunt oor selfdegeslagverhoudings soos wat ons dit reeds in ons ope brief aan die Namibiese afgevaardigdes na die Algemene Sinode geformuleer het. (Sien Bylaag A)







Bylaag A

OPE BRIEF AAN NAMIBIESE AFGEVAARDIGDES NA DIE ALGEMENE SINODE VAN DIE NGK 2015.
1.Die Kerkraad van die NG Kerk Tsumeb is bewus daarvan dat die omstrede kwessie van selfdegeslagverhoudings by die komende sitting van die Algemene Sinode onder bespreking sal kom. Ons het veral ook met verbystering en skok kennis geneem van Beskrywingspunt B15 wat volgens ons radikaal van alle Skrifnorme afwyk en nie eens op ‘n sinodale agenda hoort nie. Indien genoemde beskrywingspunt aanvaar sou word, voorsien ons skrikwekkende gevolge vir die kerk.
2.Die kerkraad wil dit graag onder die aandag van ons Namibiese afgevaardigdes bring dat hierdie aangeleentheid vir ons ‘n saak van baie groot erns is. Daarom wil ons die onderstaande as nederige getuienis lewer oor hoe ons die saak van homoseksualiteit in die lig van die Skrif (probeer) verstaan:

WAT LEER DIE BYBEL OOR HOMOSEKSUALITEIT EN ONS OPTREDE TEENOOR DIESULKES?

Kom ons kyk na ‘n paar duidelike Bybelse merkers wat ons koers behoort te bepaal in die hantering van en ons houding teenoor homoseksualiteit en almal wat daardeur geraak word:

Die kind van God moet alle mense liefhê. God verwag duidelik van ons om ons naaste, wat alle soorte sondaars insluit lief te hê soos ons self. Dis sommer ‘n baie radikale liefde, dit sluit ook ons vyande in. Dis tog duidelik dat ons ons voorvaderaanbidder of Hindoe of Moslem bure moet liefhê en met ordentlikheid behandel, al verwerp ons hulle afgodery en valse godsdiens as ‘n gruwel. Hoe anders gaan ons aan hulle die evangelie van God se genade en vergifnis oordra? Presies dieselfde geld ook vir ons homoseksuele naaste. Vriendskap en liefde hoef mos nie noodwendig goedkeuring van hulle dade te beteken nie? Laat ons dit onomwonde duidelik stel, daar is geen plek in die kerk van Jesus Christus vir kwetsende taal of “gaybashing” nie! (Haatspraak teen gays soos veral in Amerika bedryf byvoorbeeld deur die Westboro Baptist Church is 'n tragedie en doen die beeld van die evangelie oneindig baie skade aan.)

Homoseksuele dade opsigself laat nie mense hel toe gaan nie, net so min as wat heteroseksuele dade vir my ‘n plek in die hemel verseker. “Gaan gays hel toe?” is ‘n vraag met ‘n valse vertrekpunt. Mense gaan nie hel toe oor een of ander spesifieke sonde nie, maar omdat hulle die enigste weg tot God, Jesus Christus verwerp. Mense word ook nie gered deur een of anders sonde nie te doen nie, maar omdat hulle Jesus as hulle Middelaar en Hoëpriester ken. Hierdie is ‘n noodsaaklike klem om ‘n gesonde perspektief te vind. So maklik kan iemand skouers optrek en hooghartig sê : “Gelukkig is ek nie ‘n homo nie, gelukkig is ek nie ‘n dronklap nie...” Dis nie die saak nie, die vraag is altyd primêr : “Het jy die Seun van God?” Wie Hom nie het nie, het nie die lewe nie... (1 Johannes 5:12) Maar juis HY nooi sondaars, ja alle sondaars om by Hom rus te vind. (Matteus 11:28) Dit sal die vertrekpunt moet wees in ons getuienis teenoor ons homoseksuele naaste, soos trouens ook teenoor alle ander mense!

Homoseksuele aangetrokkenheid (oriëntasie) is deel van die gebrokenheid van ‘n gevalle mensdom en ‘n skepping wat deur sonde geskend en gevolglik aan verganklikheid onderworpe is. Romeine 8 is hieroor baie duidelik. In hierdie skepping werk nie als soos dit moet nie. Ons het te make met ‘n stukkende mensheid en ‘n versteurde verganklike skepping weens God se straf op die sonde van die mens. Die direkte oorsake van homoseksualiteit kan moontlik baie kompleks wees: dalk geneties(?), gesinsomstandighede, molestering, groepsdruk, verkeerde keuses vroeg in jou lewe, die aantrekkingskrag van ‘n alternatiewe leefstyl... Beteken dit nou dat ons homoseksuele gedrag as normaal of reg moet tipeer? Die feit dat ’n bepaalde gedrag moontlik fisies-genetiese oorsake sou kon hê, maak dit nog nie reg nie. Sommige mense is geneties meer geneig tot verslawing – dit maak alkohol of dwelmmisbruik nog nie reg nie. Sommige mense mag fisies meer geneig wees tot onaktiwiteit – dit verhef luiheid nie tot ‘n deug nie. ‘n Lae drumpel van frustrasie of ‘n siekte toestand soos diabetes mag bydra tot woede uitbarstings – dit beteken nie dat ons padwoede en geweld mag goedpraat nie. Sommige se natuurlike seksuele drange weens (hoë?) hormoonvlakke is sterker as ander s’n en mag ‘n bydraende faktor wees in owerspel, pornografie verslawing of poligamie. Dit beteken tog nie, dat ons hierdie dinge nie meer sonde mag noem nie. Gemolesteerde kinders word dikwels self molesteerders, maar moet ons nou pedofilie probeer regverdig? Vetsug is ‘n gekompliseerde toestand waarin genetiese, omgewings en emosionele faktore beslis ‘n rol speel. Dit beteken nie dat mens nie daarteen kan veg en dit oorwin nie! Die punt is, alle mense ly op een of ander wyse onder die sonde gebrokenheid in hierdie wêreld. Maar deur die genade van God in Jesus kan ons ten spyte van hierdie gebrokenheid teen sonde kies en ons positief beywer vir ‘n heilige lewe volgens God se wil.

Homoseksuele gedrag en dade is nie alleenlik sonde nie, maar ook ‘n besondere simptoom van die wesentlike sonde om God se heerskappy en heerlikheid te ontken. Die feit dat daar komplekse oorsake en baie faktore betrokke mag wees, verander niks aan hierdie feit nie. Drie redes kan daarvoor aangevoer word: 

  - Die Bybel sê dis sonde. Alle pogings om met slim jakkalsdraaie Bybelse gegewens iets anders te laat sê, as wat dit sê, misluk. Die betrokke tekste is oorbekend... ‘n Homoseksuele verbintenis is sondig en kan nooit ‘n huwelik genoem of kerklik gesanksioneer word nie.

  - Die Bybel maak dit duidelik dat God se wil vir die uitlewing van die mens se seksualiteit, die instelling van die huwelik is. Dis ‘n lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou. In die lig hiervan is buitehuwelikse en voorhuwelikse seks (saamblyery), egskeiding, owerspel, homoseksuele gedrag en alle vorme van seksuele losbandigheid sonde... al word dit met watter mooi name of edelmoedige motiewe gekamoefleer!

  - Romeine 1:18ev gee vir ons ‘n besondere perspektief oor die saak van homoseksualiteit. Dis onmiskenbaar opvallend dat die onnatuurlike verbintenisse tussen lede van dieselfde geslag hier vir besondere aandag uitgesonder word. Ja, al die ander sondes word ook verderaan genoem, maar homoseksuele verbintenisse kry beslis prominensie. Hoekom? Dit lyk asof Paulus sê dat die misplaaste eerbetoon van die mens om homself as skepsel te eer in plaas van die Skepper, daartoe aanleiding gee dat God die mens as straf oorgee aan ‘n verwronge misplaaste liefde – ‘n gerigtheid teen die natuur in op die (self) eie geslag in plaas van die teenoorgestelde geslag! Asof God wil sê : “Julle in julle rebelsheid draai alles verkeerd om, nou sal julle die konsekwensies daarvan op ‘n soortgelyke manier in julle diepste menswees, in julle seksualiteit ervaar.” Die verskynsel van homoseksualiteit is opsigself God se oordeel oor die rebelse menslike ras wat nagelaat het om Hom as God te vereer!

Homoseksuele moet opgeroep word tot geloof en bekering soos alle ander sondaars. Dit sluit aan wat reg aan die begin gesê is. Sondaars moet nie weg gewens of gehaat word nie, maar met liefde en erns tot bekering geroep word. (As die kerk nou homoseksuele verbintenisse gaan goedpraat of selfs wil, ontneem ons hulle in ‘n sin die voorreg van bekering.)

Homoseksuele hoef nie te wanhoop nie, daar is ook vir hulle soos vir alle sondaars wat hulle tot Jesus bekeer, vergifnis en verlossing. Die Woord is duidelik hieroor in Korintiërs 6:9-11. “Of weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie. En so was party van julle juis ook. Maar julle het julle sonde laat afwas, julle is geheilig, julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God.”

Die implikasie is mos baie duidelik God is in staat om alle tipe sondaars te red, ook homoseksuele. Hulle WAS so...

Dis moontlik dat ‘n kind van God nog steeds ‘n stryd hê teen ‘n homoseksuele aangetrokkenheid.  Die duidelike onderskeid tussen vryspraak en heiligmaking moet altyd vasgehou word. Vryspraak (regverdiging) is ‘n eenmalige kwytskelding van skuld wat die sondaar onmiddellik en volledig ontvang as hy hom op Christus se soenverdienste werp. Heiligmaking is ‘n lewenslange stryd van die kind van God teen sonde en versoeking en sal eers finaal iets van die verlede wees, wanneer die kind van God verheerlik word by die wederkoms. Enige kind van God kan deur enige sonde (ook sondes van ‘n homoseksuele aard) versoek word en selfs ook val, maar moet opstaan en die stryd weer voortsit!

Die kerk van Jesus het ‘n besondere liefdesplig om haar lidmate wat in ‘n stryd teen sonde en twyfel gewikkel is by te staan; dit sluit mense in wat met homoseksuele versoekings worstel. In die stryd teen sonde en versoeking moet ons mekaar help, aanmoedig en mekaar se laste dra. ”Broers, as iemand in die een of ander sonde val, moet julle wat julle deur die Gees laat lei, so iemand in ‘n gees van sagmoedigheid reghelp. En pas op: jy kan self ook in versoeking kom. Dra mekaar se laste, en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus. As iemand hom verbeel hy is iets en hy is niks, bedrieg hy homself." (Galasiërs 6:1-3)

Die kerk van Jesus kan ‘n selibate leefstyl aan gebrokenes op hierdie terrein voorhou as ‘n heerlike manier om Christus se liefde te ervaar en toewyding aan Hom aan die wêreld te demonstreer! Dit blyk dat nie alle homoseksuele wat gered word, so herstel van selfde geslag aangetrokkenheid dat hulle ‘n huwelik kan sluit nie! Dit beteken nie dat hulle tweedeklas Christene hoef te wees nie. Die ongetroude staat is nie iets negatief volgens die Bybel nie. Dit kan die geleentheid skep vir ‘n standaard van diens en toewyding wat vir getroudes nie altyd moontlik is nie!

Die kerk van Jesus het ook ‘n plig om die heiligheid van die kerk tot eer van God te beskerm. Die Bybel aanvaar dit as vanselfsprekend dat ook die lidmate van die kerk steeds onvolmaakte mense is en in sonde kan val. Waar daar onberoulik in sonde volhard word, het die kerk egter ‘n liefdesplig om te vermaan en indien nodig verder te gaan deur afsnyding. Die motief bly die redding van die sondaar en die eer van God. As die kerk weens papbroekigheid, die soeke na mense eer, wêreldgelykvormigheid en die vrees vir vervolging (soos deur die goddelose media) terugdeins van hierdie plig, word die heil van die sondaar en die eer van God nie gedien nie! Op die ou end wen die kerk buitendien geen aansien deur ‘n pamperlang beleid nie, maar word nog meer ‘n voorwerp van bespotting omdat ons te bang is om die Woord waarin ons beweer ons glo, uit te voer!

‘n Lamsakkige kerk dwing geen respek af nie! So ‘n kerk verloor sy Bybelgetroue lidmate, terwyl sy in elk geval nooit genoeg aan die eise van die gay agenda kan voldoen nie! ONS MOET DIE WAARHEID MET LIEFDE VERKONDIG! So sal God verheerlik en sondaars gered word!

3.Ten slotte wil ons as kerkraad baie ernstig by ons Namibiese afgevaardigdes pleit om ‘n duidelik Bybelse standpunt in te neem, terwyl ons julle die wysheid en seën van die Here toewens.

Die Kerkraad
NG Kerk Tsumeb



Saterdag 17 Oktober 2015

VOLKSWAGEN EN DIE NGK

Iemand in die bankwese help my om die gevolge van die Algemene Sinode se skokbesluit beter in perspektief te sien. Die NGK "brand" (handelsmerk as jy wil) het ontsaglik skade gely net soos wat die geval nou onlangs met Volkswagen was... Al die mooi verduidelikings help weinig om die openbare persepsie te verander. Onthou die gewone publiek verstaan weinig van strukture soos Streek Sinodes en Algemene Sinode, die besluit word gekoppel aan die NGK in geheel. Ook die feit dat kerkrade self diskresie het om oor die toepassing van die besluite te beslis, verander maar baie min aan hierdie openbare beeld van 'n kerk wat dinge goed verklaar het wat die Bybel as verkeerd beskou.



Ek wonder of diegene wat so geveg het vir die aanvaarding van hierdie onbybelse besluite 'n idee het van die onherroeplike skade wat aangerig is...? Wat dink ons medegelowiges in ander kerke van ons? Wat is die persepsie van ons geagte president dr. Hage Geingob van hierdie pro gay kerk in 'n land wat selfdegeslagverbintenisse verbied? Ons as kerk sukkel nog steeds om die negatiewe etiket van apartheid af te skud en nou het ons 'n 'n gay etiket self om ons nek gehang. Volkswagen se skandes het en gaan hulle miljarde kos en vertroue in hulle produk en integriteit is 'n griewende slag toegedien... Hoe bereken mens die skade aan 'n kerk...?

Ek kan maar net treur saam met Jeremia :

"My oë teer weg in trane, my ingewande is in beroering, my lewer is op die grond uitgeskud vanweë die verbreking van die dogter van my volk..." (Klaagliedere 2:11)

Oordryf ek dalk? Nee! Iemand uit Suid-Afrika skryf vir my...

"...na laaste Vrydag se besluit het ek in trane uitgebars….In die kerk wat my voorgestel het aan Jesus, waar ek tot wedergeboorte gekom het en waar ek Die Woord van GOD innig leer liefkry het…was dit moeilik om te sien hoe die ouens die OUTORITEIT van die WOORD inruil vir mense en ander politiese aanvaarding."

En sommer persoonlik van my kant af: Kan iemand slim uit die sinodale geledere vir my vertel hoe ek my eie kinders weer positief kan kry oor ons NGK?

Broer, ek en baie ander treur saam!





Vrydag 16 Oktober 2015

GOD SE LIEFDE VIR 'N HOER!

- Die oorwinnende mag van God se liefde soos beskryf deur die profeet Hosea.



‘n Hoer word gekies as bruid, die bruid word weer ‘n hoer, maar haar man gaan haal haar en vat haar terug. Eintlik meer, hy koop haar terug! Ons vind in die boek Hosea die mees dramatiese demonstrasie van die oorwinnende mag van God se liefde. Hierdie profeteboek is taamlik ingewikkeld, maar die basiese boodskap is tog baie duidelik : God in sy ruim liefde skryf sy mense nie af as hulle ontrou geword het nie, maar roep hulle terug, oorreed hulle terug en lei hulle tot bekering! God oorweldig mense met liefde! God bring hierdie boodskap nie net in woorde nie. Die profeet Hosea se persoonlike lewe moes dit op aangrypende wyse demonstreer. Hosea se optrede moes ‘n spieëlbeeld wees van God se verbysterende groot liefde ten spyte van afgryslike groot ontrouheid.



Die profeet Hosea kry opdrag om met ‘n prostituut met buite egtelike kinders te gaan trou. Wat ‘n groot skande en vernedering! Haar naam was Gomer. (Hosea 1:3) Sy het egter weer ontrou geword en weggeloop en die huwelik geskend. En nou kom die merkwaardige opdrag in 3:1. “Gaan knoop weer ‘n liefdesverhouding aan...” Dit gaan om dieselfde Gomer, al word haar naam nie genoem nie.* 


“Die Here het vir my gesê: Gaan knoop weer ‘n liefdesverhouding aan met ‘n vrou wat vir ander mans lief is en egbreuk pleeg, net soos die Israeliete vir wie Ek, die Here, lief het, ander gode aanhang en lief is vir rosyntjiekoeke.

Ek het toe vir my ‘n vrou gekry vir vyftien stukke silwer en honderd kilogram gars.

Ek het vir haar gesê: "Jy moet ‘n lang tyd tot my beskikking wees. Jy mag met niemand hoereer of trou nie, ek sal dit ook nie doen nie."

Net so sal die Israeliete ‘n lang tyd moet klaarkom sonder ‘n koning en amptenare, sonder offers en klippilare, sonder efodbeeld en afgodsbeeldjies.

Daarna sal die Israeliete hulle bekeer. Hulle sal vra na die wil van die Here hulle God, en hulle sal hulle koning Dawid aanhang. Hulle sal vol eerbied terugkom na die Here toe en na die oorvloed toe wat Hy in die toekoms sal skenk.” (Hosea 3:1-5)

Beide Gomer en Hosea se optrede dra ‘n duidelike boodskap:

  • Gomer se ondankbare ontrouheid is ‘n beeld van Israel se ontrouheid deurdat hulle ander gode gedien het. Die rosyntjiekoeke waarna verwys word, het ‘n belangrike rol in die Baäl kultus gespeel. Dit het ‘n simbool geword van die Baäl kultus, 'n sogenaamde vrugbaarheidskultus met sy soete genietinge van sondige wellus en uitspattigheid. Dis ter wille van hierdie genietinge van die Baal vrugbaarheidsgodsdiens dat die Israeliete God verlaat het. Ja, mense verlaat die gebod van God ter wille van sondegenot!
  • Hosea se vergewende liefde is ‘n aangrypende beeld van God se onmeetbare liefde vir sy afgedwaalde en rebelse kinders. Hosea moes vir Gomer gaan terugkoop teen ‘n hoë prys. Waarskynlik het haar hoerery haar in ellende en slawerny laat beland. Hosea se liefde deins vir niks terug nie! God se liefde gaan tot die uiterste toe om ons harte terug te wen vir Hom! Die boodskap vir ons as kerk van Jesus is mos baie duidelik : God het ons teen ‘n ontsagwekkende hoë prys losgekoop uit die mag van Satan, die BLOED VAN SY SEUN JESUS! Die kruisboodskap is ‘n boodskap van God se verlossende liefde, wat ons tot terugkeer en inkeer roep!

Die NG Kerk se Algemene Sinode het ongetwyfeld soos ‘n hoer opgetree deur vir goddelose humanisme en tydsgees te kies teen God se Woord. Maar moet ons nou summier sê dat God die kerk in geheel afgeskryf het? Die boodskap van Hosea is dat God mense nie sommer so vinnig afskryf nie, maar eerder probeer oorreed met sy liefde, ‘n liefde wat ons tot bekering oproep.

Ons moet nou net pasop in hierdie tyd om nie net alleenlik op die Algemene Sinode te fokus nie. Wat van ons? As gemeente, maar ook as enkelinge? Daar is gruwelike sondes in ons midde. Sondes wat ons vertroetel en voor verskonings soek. Hoeveel van ons leef rustig in hardnekkige bewuste sondes voort? Alle sondes is vir God ‘n gruwel, nie net homoseksuele dade nie! Kyk weer na 1 Kor. 6:9-11. 

“Of weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie.
En so was party van julle juis ook. Maar julle het julle sonde laat afwas, julle is geheilig, julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God.”

Daar is geen twyfel dat homoseksuele dade sonde is nie, maar AL die dinge in die lys is baie ernstig... en dis dinge wat algemeen onder ons voorkom! Hier in ons eie gemeente is saamblyery, gieriges, dronkaards... Ons weet dit mos! Gaan ons berou hê daaroor, of gaan ons aanhou om dit goed te praat? Ons is tereg ontsteld oor die bose besluit van die Algemene Sinode, maar is ons ook net so ontsteld oor die boosheid hier onder ons?**

God se liefde is ondenkbaar groot. God se liefde sluit natuurlik ook tugtiging in. Sy liefde maak dat Hy ons laat swaarkry! Ons kry ‘n treffende voorbeeld Hosea 2:12,13. “Ek gaan haar laat boet vir al die kere dat sy die Baäls gedien het en vir hulle geoffer het, vir al die kere dat sy haar uitgedos het met ringe en versiersels en agter haar minnaars aangeloop het en My vergeet het, sê die Here.Tog sal Ek weer begin om haar die hof te maak. Ek sal haar na die woestyn toe bring en mooi dinge vir haar sê.” 

Sy strawwe kan soms erg wees. En die leiers van sy volk word uitgesonder... "Israeliete, luister na die woord van die Here, want Hy kla die inwoners van die land aan: Omdat trou, liefde en toewyding aan die wil van God in die land ontbreek, het vervloeking, valsheid, moord, diefstal en egbreuk hand oor hand toegeneem en is die vergieting van onskuldige bloed aan die orde van die dag. Dit is waarom die land verdor en al die inwoners van dors versmag saam met die wilde diere en die voëls, en waarom selfs die visse vrek.
Niemand word ligtelik aangekla en tot verantwoording geroep nie, maar Ek gaan jóú mense aankla, Priester!
Jy gaan vandag nog tot ‘n val kom en die profeet gaan vannag nog saam met jou tot ‘n val kom en Ek gaan selfs jou moeder om die lewe bring." (4:1-5) 

God se oordele is skrikwekkend, maar sy motief bly liefde! Sy liefde roep die NG Kerk terug, ons gemeente, vir my en jou persoonlik!

Gaan ons antwoord, gaan ons ons bekeer? Mag die oorweldigende mag van God se liefde ons harte vermurwe en oorreed tot ware berou en bekering!

*Van Leeuwen, p83

** Vergelyk Heidelbergse Kategismus 

87 Vraag: Kan die mense dan nie salig word wat in hulle goddelose, ondankbare lewe volhard en hulle nie tot God bekeer nie? Antwoord: Nee, glad nie. Want die Skrif sê dat geen onkuise, afgodedienaar, egbreker, dief, gierigaard, dronkaard, lasteraar, rower en sulkes die koninkryk van God sal beërwe nie (a). (a) 1 Kor 6:9, 10; Ef 5:5, 6;1 Joh 3:14.