BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Maandag 01 Junie 2015

VERSTAAN JOU OMSTANDIGHEDE REG

- en herwin so jou blydskap as kind van God!


Dis geen geheim nie. Ook God se kinders word dikwels blootgestel aan swaarkry, teleurstellings, ongelukke en allerhande siektes, kwale en ellendes in hierdie lewe. Ja, soms uiters pynlike en onverklaarbare smart... As ons hierdie dinge nie reg verstaan nie, kan dit veroorsaak dat ons ons blydskap verloor en in moedelose swartgalligheid verval. En onthou, Satan is altyd baie gou by om sy eie verdorwe interpretasie aan jou ellende te gee... Hy koggel jou en probeer twyfel saai: “Is dit nou hoe ‘n God van liefde sy kinders behandel...?” Of dalk nog erger : “Sien jy het altyd gedink jy behoort aan God, maar hierdie ellende wys dat jy nie syne is nie...” HEBREËRS 12:5-11* is uiters belangrik as ons as kinders van God die moeilike omstandighede waarin ons ons dikwels bevind reg wil verstaan.

GOD SE REGTIGE EIE KINDERS

Die skrywer bemoedig hierdie kinders van God wat swaarkry: “Wag ’n bietjie julle interpreteer julle swaarkry verkeerd. Julle maak verkeerde gevolgtrekkings! Julle moet hierdie swaarkry in die regte perspektief sien. As julle die doel van hierdie toetse, teenstand en teleurstellings reg verstaan gaan dit juis rede wees vir blydskap en nie vir moedeloosheid nie. Hierdie toetse, teenstand en teleurstellings is ’n bewys dat julle werklik God se kinders is en dat Hy julle werklik liefhet.”

Kom dink bietjie saam met my : As daar stout kinders in die straat verby my stap, dissiplineer of tugtig ek hulle nie. Hoekom nie? Dis nie mý kinders nie. As my eie kinders leiding, opvoeding of straf nodig het gee ek wel dringend aandag aan die saak. Hoekom? Dis MY kinders en ek stel intens belang in hulle welsyn en vorming! Die feit dat God ingryp in ons lewens, ook deur swaarkry en teleusrstellings, bewys dus dat ons sy eie egte kinders is!

Geliefde jy moet besef, die probleme wat jy as kind van God ervaar is ’n bewys dat Hy besig is met ’n opvoedingsproses in jou lewe. Dit beteken ook nie noodwendig dat jy iets verkeerd gedoen het nie. Dit gaan oor bevordering en ontwikkeling van jou geestelike volwassenheid. Dis ‘n leerproses.

TWEE MANIERE VAN OPVOEDING

Ons weet mos daar is basies twee maniere hoe ons as ouers (en God ook) kinders opvoed : deur woorde/inligting, maar ook deur dissipline of straf. Ons weet ook woorde is selde genoegsaam en ander stappe is nodig om ‘n kind te vorm en op te voed. Net so in God se geval met ons. Die Woord alleen is selde voldoende.... God is dus genoodsaak om tugtiging in ons lewens te gebruik.

Die tugtiging, die toetse, teenstand en teleurstellings wat Hy oor ons lewens toelaat, is dus nie ’n teken dat Hy ons afgeskryf het nie! Nee, juis die teenoorgestelde, dis ’n bewys dat Hy intens besig is met ons. Kom ek vra jou : Is jy ’n kind van God? Ervaar jy op hierdie oomblik een of ander toets, teenstand of diepe teleurstelling? Dank God Hy is op hierdie oomblik werksaam in jou lewe! Moenie mismoedig word nie, Hy het ’n baie spesifieke doel met jou. Hy weet presies wat Hy jou deur hierdie swaarkry wil leer. (Natuurlik, alle mense beleef swaarkry, nie net Christene nie. Die verskil lê in die effek - swaarkry dryf ’n kind van God al nader na die Here , terwyl ’n onbekeerde wat swaarkry dikwels al hoe meer verhard en verbitter word.)

DIE GROOT DOELWIT

Wat is God se doelwit met sy kinders hier op aarde? Vers 10 - “sodat ons in sy heiligheid mag deel!” Dis 'n mondvol! God wil hê jy moet net so heilig soos Hy word. Dis hoekom Hy jou gered het. Dis sy ideaal vir sy kinders. Sê nou maar ’n sekere man is ’n beroemde jagter. Hy wil hê sy seun moet ook so word. Nou leer hy hom... deur woorde, maar ook deur swaarkry in die harde werklikheid. Hy vat hom saam veld toe dat hy kan leer om vas te byt en deur te druk, hy laat hom toe om foute te maak, te voel hoe dit is om mis te skiet en teleurgesteld te word. ... Ja, die jagters sal weet, hy laat jou die hele dag agter ‘n gekweste bok aanloop... so leer jy op die harde manier, kosbare lesse en tel ondervinding op wat op geen ander manier verkry kan word nie. God wil hê jy moet heilig word soos Hy! Hy weet watter metodes om te gebruik.

Kom ons raak nou sommer prakties. Deel van God se heiligheid is byvoorbeeld geduld. Nou sê God vir ons in Sy Woord om geduldig te wees. Maar wie gehoorsaam dit dadelik. So wat doen God? Hy bring jou in ’n slegte situasie, waarin jy gedwing word om geduld te beoefen....en hy sal aanhou totdat jy geduld geleer het. (Daardie lang ry in die bank, kinders wat jou geduld beproef, familie omstandighede wat jou tot die uiterste beproef...)

ONS REAKSIE

Wat moet ons reaksie wees in tye van tugtiging? Verdra! (7) Moenie in opstand kom teen die Here nie, laat Hy maar die pad met jou loop! Onderwerp jou aan sy tugtiging (9) “Here wat moet ek nou leer?” Sê : “Here ek buig voor U, verander my!”

Nou ja, hierdie tugtiging wat ons tans beleef is nie lekker nie. Dit laat ons huil! Jy kners op jou tande as die Here jou in daardie lang ry laat staan, jy wil huil oor jou moeilike familie of eggenoot, uitputtende werksomstandighede, vernederings, verontregting en baie ander dinge wat druk en skaaf. Jy is platgeslaan deur 'n ramp...  Voorwaar dit is nie lekker nie. Die Bybel is so realisties. Hy sê dit in vers 11. (Lees) Later het hierdie tugtiging egter heerlike positiewe gevolge. Vrede. ’n Diep innerlike blydskap omdat jy nou al meer in lyn leef met God se wil. Omdat jy ‘n dieper vlak van geestelike insig en volwassenheid bereik het.

ONTHOU NET : DIE HEMELSE VADER WAT ONS OPVOED IS ‘N LIEFDEVOLLE VADER! HY DOEN NIKS WAT NIE NODIG IS NIE EN OOK NIKS WAT ONS NIE SAL KAN HANTEER NIE.

Kind van God as jy regtig God se kind is kan jy maar tugtiging (opvoeding) te wagte wees. Jy gáán toetse, teenstand en teleurstellings beleef. Dis deel van die Christelike wedloop. Maar onthou dis daar met ’n heerlike doel : God wil jou heilig maak! Vir God is jou heiligmaking ’n prioriteit. Want ware heiligheid lei tot ewige ware blydskap!

Waak teen vier wanopvattings (vier valse stellings) :

1. ’n Kind van God se lewe is altyd lekker en sonder probleme. Nee! Nee, dis ‘n eensydige en valse beeld. Oral in die Nuwe Testament word God se kinders gewaarsku dat hulle stryd, beproewings en verdrukking te wagte kan wees. Baie Christene ken egter nie die Woord nie, en is nie voorbereid op moeilikheid nie.

2. As ek hard genoeg bid sal die Here my omstandighede verander. Nee! Hy wil JOU verander. Paulus se gebed dat die Here die doring in sy vlees moet wegneem is die klassieke voorbeeld. God het nie hierdie gebed beantwoord nie, maar hom wel verseker “My genade is vir jou genoeg...” (2 Korintiërs 12:8,9)

3. God se ideaal vir ons hier op aarde is rykdom, gerief en gesondheid. Nee! Verandering na Jesus se beeld is vir God eerste prioriteit. God wil ons vorm dat ons soos Jesus sal word. Ek moet optree soos Jesus in daardie moeilike huislike of werksomstandighede sou opgetree het! (Romeine 8:28-30) Hy wil ons geestelik herstel om in te pas by sy Koninkryk . 

4. As dit swaar gaan is dit omdat die Here my minder liefhet. Nee, juis is dit ’n bewys dat Hy vasberade is om jou nie te los nie, maar te verander. En Hy doen dit omdat Hy vir jou lief is en vir jou ewige welsyn omgee. Selfs al tugtig en dissiplineer Hy ons is dit uit liefde. Onthou weereens, die Hemelse Vader wat ons tugtig is ‘n volmaak liefdevolle Vader en nie ‘n wrede kindermishandelaar nie. 


PASOP VIR VERKEERDE GEVOLGTREKKINGS OMTRENT JOU HUIDIGE MOEILIKE TYE EN OMSTANDIGHEDE! Satan probeer jou mislei, moenie na sy influisteringe luister nie, maar kyk wat sê die WOORD.

*(Hebreërs 12:5)Julle het ook vergeet van die aanmoediging wat tot julle as kinders van God gerig word: "My kind, moet dit nie gering ag as die Here jou tug nie en moenie mismoedig word as Hy jou teregwys nie,

(6) want die Here tug hom wat Hy liefhet, Hy straf elkeen wat Hy as kind aanneem."

(7) Verdra die tug as opvoeding, want God behandel julle as sy kinders. Is daar miskien ‘n kind wat nie deur sy vader getug word nie?

(8)As julle nie getug word soos al die ander nie, dan is julle nie werklik sy kinders nie.

(9) Verder, ons het ons aardse vaders gehad wat ons getug het, en ons het vir hulle eerbied gehad. Sal ons ons nie nog des te meer aan die hemelse Vader onderwerp en lewe nie?

(10)Ons vaders het ons wel ‘n kort tydjie na hulle goeddunke getug, maar Hy tug ons tot ons beswil sodat ons in sy heiligheid mag deel.

(11) Wanneer ons getug word, lyk die tug op daardie oomblik nie na iets om oor bly te wees nie, maar om oor te huil. Later lewer dit egter vir dié wat daardeur gevorm is, ‘n goeie vrug: vrede omdat hulle gehoorsaam is aan die wil van God.

(12) Versterk daarom die slap hande en die lam knieë

(13) en loop die reguit pad. Dan sal wat lam is, nie uit lit raak nie, maar gesond word.


[Hoogwater, Walvisbaai strandmeer.]



Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.