BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 14 Maart 2014

DIE ONDING VAN OTM GEBEDE

- watter soort gebede word deur God verhoor?

Verlede Sondag het ons gekyk na die allesoortreffende belangrikheid van gebed. (kliek op KRAGTELOSE KERK) Ware gebed, gebed wat kontak maak met God! Gebed is praktiese geloof, geloof in aksie. Gebed is ‘n uitdrukking van ons afhanklikheid van God. Gebed is die kragdraad wat ons verbind met God as kragbron. Sonder hierdie verbintenis kan ons lampe nie skyn nie.

Gebed is so belangrik en tog is baie mense teleurgesteld in gebed. “Ek het ernstig gebid, maar dit werk nie! Nee, wat gebed help nie vir my nie, kyk wat het gebeur...”
Daar kan baie redes wees vir hierdie teleurstellings, maar een van die belangrikste is dat soveel mense gebed as ‘n OTM kaart sien. Ek druk die kaart in die outomatiese tellermasjien van die bank en tik in wat ék wil hê en siedaar! - die masjien spoeg presies die regte bedrag uit volgens my begeertes en my behoeftes. Dit is presies wat SELFGESENTREERDE GEBED is. (Sulke gebed draai om ék en myself en my behoeftes) En selfgesentreerde gebed is nie ware gebed nie. Ware gebed is GODGESENTREERD. (Dit fokus op God se wil en God se eer)

Selfgesentreerde gebed is gedoem tot mislukking, omdat God Homself nie laat misbruik nie. God is nie ons stuurjonge nie! Godgesentreerde gebed sal altyd verhoor word, want dis binne God se wil.

Ons kry ‘n aangrypende voorbeeld van Godgesentreerde gebed in Daniël 9. (lees dit gerus self van vers 1 tot 20) Dis baie belangrik om dit te bestudeer, juis omdat daar soveel wanopvattings en misverstande oor gebed is. Kom ons kyk na ‘n paar elemente van ware gebed:



~ Ware gebed is geanker in die Skrif en maak erns met God se wil. “In sy eerste regeringsjaar het ek, Daniël, uit die Skrifte vasgestel dat volgens die woord van die Here wat tot die profeet Jeremia gekom het, Jerusalem sewentig volle jare ‘n puinhoop sou wees.” (2) Daniël, wat self ‘n banneling in die verre Babel is, het uit die profesie van Jeremia vasgestel dat God na 70 jaar van ballingskap weer Jerusalem herstel. Nou rig hy ‘n hartstogtelike pleidooi tot God om sy beloftes waar te maak en die verwoeste stad en heiligdom weer op te rig. Gebed gaan nie daaroor om vir God nuwe inligting te gee nie (Hy weet mos als), maar om ons vertroue uit te spreek dat Hy sy beloftes sal hou! “Ek het wagte op jou mure uitgesit, Jerusalem, hulle sal dag en nag roep. Julle wat die Here aan sy beloftes moet herinner, julle moenie stilbly nie.” (Jesaja 62:6) Gebed beteken nie ek kry ‘n “brainwave” van iets wat my goed sal pas en nou vra ek daarvoor nie... Gebed is onderwerping aan God se wil, soos Jesus se gebed in Getsemane! Gebed pas in by God se Raadsplanne!

~ Ware gebed is om met bewondering en aanbidding in die teenwoordigheid van God te kom. “Ek het tot die Here my God gebid en bely: "Ag, Here, groot en ontsagwekkende God, U handhaaf u verbond en u trou teenoor dié wat vir U liefhet en u gebooie gehoorsaam.” (4) Hoe dikwels besef ons nie eers hoe groot en heilig God is nie, maar ons val sommer weg met ‘n klomp selfsugtige versoeke. Voor ons kan bid moet ons hart en gedagtes ingestel word op God, op sy grootheid, sy heiligheid, sy almag. Ons kom voor die Almagtige op sy troon. Ons is natuurlik meer bevoorreg as Daniël, ons kan deur ons Hoëpriester Jesus enige tyd met vrymoedigheid na die troon van genade gaan. (Hebreërs 4:14-16)

~ Ware gebed behels verootmoediging en belydenis. “Ons het gesondig, ons het oortree, ons het verkeerde dinge gedoen, ons was opstandig en het nie gelewe volgens u gebooie en u bepalings nie.” (5) “Terwyl ek nog praat en bid en my sonde en die sonde van my volk Israel bely en by die Here my God pleit vir sy heilige berg, “ (20) As ons in die teenwoordigheid van God kom, kan ons nie anders as om ons eie sonde en die sonde van ons mense raak te sien en bitterlik bedroef te word nie. (Vgl. Jesaja 6) Ja, al is ek reeds ‘n kind van God, dan gryp ek weer die volkome vergifnis vas in Jesus Christus. In ware gebed werp ek myself weer op die genade van God! “Luister tog, my God! Hoor ons tog! Sien tog ons verlatenheid raak, en dié van die stad waaroor u Naam uitgeroep is. Ons pleit by U om ontferming, nie omdat ons regverdig is nie, maar op grond van u groot barmhartigheid.” (18) Ek kom staan weer voor God alleenlik op die verdienste en meriete van Jesus Christus.

~ Ware gebed is onselfsugtig. Daniel se gebedsworsteling gaan nie oor sy eie behoeftes nie. “Ter wille van Uself, hoor tog my gebed en smeking, en verskyn tog tot redding van u verwoeste heiligdom.” (17) Hy bid nie vir ‘n gerieflike lewe nie. Dis die toestand van Jerusalem en die verwoeste heiligdom wat hom aan die hart gryp en op sy knieë dwing. In ons taal – die gebroke sondige toestand van die kerk: die afvalligheid, die gebrek aan kennis, entoesiasme, toewyding en opoffering, die louheid. Dis hierdie dinge wat ons laat uitroep tot God vir genade.

~ Ware gebed is ten diepste gefokus op God se eer. Waarom pleit Daniël so hartstogtelik? “Ter wille van Uself...” (17,19) Ter wille van God se eer. Die verwoeste stad en tempel bring oneer aan God se Naam, die heidene spot daaroor. Daarom pleit en smeek Hy dat God verandering sal bring!

In ware gebed speel ons eie behoeftes ‘n ondergeskikte rol. God se eer, God se belange kom eerste. Toets dit maar aan die ONSE VADER gebed wat Jesus vir sy dissipels geleer het. God se naam, God se koninkryk, God se wil kom eerste... Die natuurlike mens is dus nie in staat tot ware gebed nie, want van nature is die mens slegs op sy eie belange ingestel. Dit onderstreep weer die belangrikheid van die WEDERGEBOORTE. Ek moet van binne af nuutgemaak word voordat ek waarlik en opreg kan bid.

Kom na Jesus, laat Hy jou verander en vul met sy Heilige Gees, dan is jy gereed om te begin bid. Dan leer die Heilige Gees ons om te bid volgens God se wil.


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.