BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Dinsdag 04 September 2012

DIE PROBLEEM?

- nie my skoonma nie, maar my eie hart.

’n Klomp skoolseuns beland op ’n idilliese eiland, hulle is ordentlike outjies wat in ‘n kerkkoor sing, goeie opgevoede seuns....., maar uiteindelik ontaard hulle in wrede barbare wat mekaar probeer uitroei... Die nobelpryswenner, William Golding in sy “Lord of the Flies”  beskryf hierdie  groot waarheid baie treffend.  Die fout lê by die seuns se innerlike. Die mens se dilemma  is nie sy omgewing of sy omstandighede nie, dis sy eie hart, sy binneste! My probleem is nie my ouers, skoonma,  moeilike man of vrou, onderwysers of die lui werkers nie, maar my eie bose hart!

In Matteus 5:8 verklaar Jesus :

 “Salig/geseënd is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien.” 

Die opvallende in hierdie saligspreking  is dat die hart spesifiek genoem word. Nie net - “salig is die wat  rein is”  nie (dit sou mens dalk kon verwag) - maar “wat rein van hart is!”  Jesus sê spesifiek  - “rein van hart.” Dis die klem! Die hart is die simbool van die setel van die mens se innerlike - jou diepste bedoelings, gesindheid en motiewe. Jesus beklemtoon die hart, want vir die toegang tot die Koninkryk is dit die innerlike wat tel. Dis juis op hierdie punt waar Jesus skerp kritiek teen die Fariseërs gehad het.(vgl. sy striemende aanval in Matteus  23:26-28 ) 

Die mens is gesteld op die uiterlike, God stel veral belang in die hart. 

Alle valse godsdienste maak kenmerkend baie van die uiterlike en die sigbare. Solank ek die regte voorskrifte,  seremonies  en rituele volg is alles reg!  Maar hierdie  vashou aan die uiterlike raak ook baie mense in die kerk. Dit lyk of baie redeneer : “As die baba darem ‘n mooi dooprokkie aanhet,  as al die familie darem net by die aanneming kan wees, solank ons maar net ‘n stemmige begrafnis met ‘n kwistige huldeblyk het...dan is ons hemelse bestemming verseker...” Baie vind gemoedsrus in die feit dat “ons darem nie hierdie of daardie gruwelike sonde doen nie” Alles uiterlike maatstawwe!  Jesus stel dit egter baie duidelik : as mens te doen het met die ware God en as mens in sy Koninkryk wil ingaan is iets meer as uiterlike reinheid en rituele nodig. 

God, omdat Hy die lewende God is, kyk tot binne in die hart. Dit wat God in ons binnestes sien verskil hemelsbreed van dit wat mense op ons gesigte sien. Wat God van ons harte af weet, verskil nogal van dit wat mense op ‘n Sondagoggend in die kerk waarneem. Hoe ons vir mekaar lyk,  is iets heel anders as hoe ons vir God lyk. En dis volgens hierdie binneste wat Hy gaan oordeel. (Romeine 2:16)  Hierdie fokus van Jesus op die hart, m.a.w. op ons diepste gesindheid en bedoelings kry mens weer vorentoe  in die Bergrede wanneer Jesus Sy siening gee oor die 6de en 7de gebooie. (Moord en egbreuk is nie iets wat bloot uiterlike gebeure behels  nie, dis sonde wat eerstens in die hart begin en  gepleeg word, lank voor dit tot sigbare dade oorgaan)

As Jesus hier fokus op die hart kom dit neer op ’n ontsettende stuk ironie. Want sien, niks op aarde is juis so onrein as die mens se hart nie!  Jesus gee ‘n skrikwekkend eerlike beskrywing van die boosheid wat uit ‘n mensehart opborrel in Markus 7:18-23. (Lees) Dink maar bietjie aan alles wat sleg, siek, walglik en  wreed en is. Waar begin dit? Waar word dit  uitgedink en beplan?  Waar broei en gis dit voor dit tot uitbarsting kom? Dit kom uit die binneste van die mens. Niks op aarde is so vals en bedrieglik as die mens se hart nie. (Jeremia 17:9!)  Soos reeds gesê, die mens se wesentlike probleem is nie sy ouers, familie,  omgewing of omstandighede nie,  maar sy eie bose hart.  Hieruit kan ons ’n baie belangrike logiese gevolgtrekking maak : die oplossing van die ellende van die mens lê dus nie in ander omstandighede  nie, maar die verkryging van ’n nuwe rein hart!

Wat is ’n rein hart? Skoon. Sonder smet en bedrog. ’n Hart waarvan God hou. ’n Hart wat onverdeeld op God gerig is. 'n Hart wat God waarlik liefhet en daarom ook sy medemens.  ‘n Opregte hart! (Vgl. Jakobus 4:8b.)

“...want hulle sal God sien.” 

Hier is ‘n heerlike en omvattende belofte. Die belofte is dat die wat rein van hart is God sal sien. Dis ‘n groot saak. Om God te sien, om God se teenwoordigheid te beleef, om God te geniet en te bewonder! Dis waarvoor ons hier op aarde is! Dis die sin en vreugde van die mens se bestaan! Wie dit mis, mis alles!  Die saligsprekinge gaan oor die Koninkryk,  so die reines van hart sal God in sy Koninkryk sien. Hulle (en net hulle) sal nou reeds, maar ook vir ewig in sy teenwoordigheid woon. Diegene met onrein harte sal nooit in God se heiligdom toegelaat word nie.  Onrein harte is die grootste struikelblok om God te “sien”. Dis ‘n onrein hart wat verhinder dat ek God se teenwoordigheid beleef, dit verhoed my om God se nabywees te ervaar. Dit belemmer en versteur gebedsgemeenskap met God. (ja, daardie teen die dak vasbid) Onrein harte kelder ons gebede. (Jesaja 59:1,2) Wie ‘n onrein hart het, leef nou sonder God en sal vir ewig sonder Hom wees.  Hoeveel mense is dalk nie in hierdie situasie nie? Hulle is wel uiterlik deel van die kerk, maar hulle sien God nie, hulle beleef Hom glad nie. Daar is geen bewuste gemeenskap met Hom nie! Die rede : ’n onrein hart. Daarom beleef hulle godsdiens as ‘n koue dooie plig.  Onreines sal tot in alle ewigheid afgesny wees van God;  hieroor is Openbaring 21:27 baie duidelik:

“Niks onreins en niemand wat iets losbandigs en vals doen, sal ooit daarin kan kom nie...”


DAWID

Dit bring ons dan by die laaste groot vraag : hoe kry ek ’n rein hart? Hier kan koning Dawid ons nogal help. Dawid was iemand wat met die onreinheid van sy hart geworstel het. Sy sonde met Batseba het die toestand van sy hart pynlik aan die lig laat kom. Dawid het gelukkig ook die oplossing vir sy bose hart raak gesien. Hy wend hom in verootmoediging tot God en pleit berouvol: “skep vir my ’n rein hart, o God!” (Psalm 51:12) God alleen kan ’n onrein hart skoon maak. Die manier hoe Hy dit doen is deur die bonatuurlike werk van die Heilige Gees, wat die mens bring  tot egte geloof in Jesus Christus! 

Jesus se bloed is die enigste wasmiddel vir ‘n smerige hart!

Dit beteken ek kan net ‘n skoon hart ontvang as ek vertrou op Jesus as die Gekruisigde, wat die straf vir my onrein hart in my plek gedra het! Hy skenk my vergifnis, maar ook ‘n nuwe hart met nuwe rein begeertes en beginsels!

Net ‘n laaste opmerking van troos vir God se kinders. Dis in ‘n sin juis die gereinigde kinders van God wat die meeste bewus is (en algaande meer bewus raak) van hulle eie onrein hartstoestand. Dis juis eers as ek ‘n rein hart ontvang het, dat ek bewus word van en ontsteld word oor die oorblywende sonde in my lewe. Die verlange na ‘n rein hart en die versugting tot God vir ‘n heilige lewe, sal  voortdurend by die kind van God aanwesig wees. ‘n Voortgaande verlange na ‘n rein hart, is dus seker een van die duidelikste kenmerke van ‘n rein hart!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.