BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Dinsdag 20 Maart 2012

BEHOUD VAN 'N BEDREIGDE SPESIE

- dit gaan nie net oor renosters nie!

Ja, soos alle natuurliefhebbers is ek besorg oor die omvang van renosterstropery in Suid-Afrika... Dis egter nie net renosters wat tans ’n bedreigde spesie is nie. Ek is veral bekommerd oor die aanslag teen Bybelgetroue kinders van God en Bybelse waarhede in die kerk. Hierdie felle aanslag kom van binne sowel as buite die kerk.

Van watter aanslag en bedreiging praat ons? Die ontkenning van basiese Bybelse waarhede (die liggaamlik historiese opstanding van Jesus, die bestaan van ’n duiwel ens.), die aanslag op die Christelike huwelik en gesin (oor sake soos saambly, egskeiding en homoseksuele gedrag word daar met al minder Bybelse helderheid en beslistheid gepraat), die verkondiging van ’n mensgesentreerde voorspoedsevangelie (die klem val op gesondheid, welvaart en.... goeie seks).... Christene wat nie saam met hierdie stroom wil saamgaan nie word uitgekryt as fundamentalisties en onverdraagsaam. Hierdie valshede en vyandigheid kom soos golwe aangerol op ons. Jy tel dit op in die Afrikaanse koerante en tydskrifte waar daar in briewe kolomme en artikels gal gebraak word teen Christene en die waarheid. Op die internet word daar op die mees platvoerse manier openlik gespot met God en sy Woord. Maar ongelukkig word teologiese fakulteite, kansels en selfs kerklike tydskrifte ook dikwels ingespan om oorlog te voer teen God se kinders en ons kosbare geloof. * Die vyande van die waarheid is nie net openlike ateïsme nie, maar meer subtiele dwalinge soos post-modernistiese teologiese strome, sommige leringe in die “Emerging Church” en die “Spreek Lewe teologie” van die “Word Faith Movement”.... maar laat ek nie verder op die slegte nuus uitbrei nie.

Die goeie nuus is, dat dit nie die eerste keer (en laaste) is dat die kerk van Jesus met die brullende leeu en sy bedreigings te doen kry nie. Die goeie nuus is verder dat God in sy Woord vir ons die duidelike aanwysings gee om nie net te oorleef nie, maar met blydskap te triomfeer!

In Handelinge hoofstuk 4 word vir ons vertel hoe die jong Christelike gemeente in Jerusalem met ’n hewige aanslag te doen gekry het. Onthou, die kerk was nog in sy kinderskoene. En toe slaan Satan met volle woede toe... Ons lees hoe twee leiersfigure, Petrus en Johannes deur die Joodse Raad gedreig en verbied is om verder in die Naam van Jesus te preek. Sou die kerk die bedreiging kon oorleef? Wat sou die gelowiges se reaksie wees in hierdie onsekere omstandighede? Kom ons kyk na Handelinge 4:23-31 (Lees en bid hierdie gebed)

Die antwoord is duidelik : Hulle het hulle tot God gewend! Menslike plannetjies sou hier nie help nie! Debatte, studiestukke en sinodes het hulle plek, maar ’n bonatuurlike ingrype van God was nou nodig!

Die oplossing vir die bedreigde Bybelgelowige is, om as ons aan die einde van ons menslike pogings gekom het, weer opnuut erns te maak met God en spesifiek om in die gebed tot Hom te nader. Terug na die Bron! Toe die donker wolke van vernietiging hierdie jong gemeentetjie bedreig het, het hulle nie baie gepraat nie, maar begin BID! Dit was nie net die leiers nie, die hele gemeente was hierby betrokke! Vers 24 “hulle almal saam tot God gebid”

 
IN TYE VAN BEDREIGING EN BENOUDHEID MOET ONS BID

Die inhoud van hierdie gebed is baie veelseggend :

~ Hulle bely hulle geloof in die almag van God! (24) As ons tot God bid moet ons glo dat Hy bestaan as die Almagtige en dat Hy instaat is om ons te antwoord en dat Hy ’n verskil kan maak. (Vgl. Hebr 11:6) Al verander als, God is nog steeds die Lewende Almagtige God! In hulle gebed erken hulle God se almag en soewereiniteit. Als wat gebeur, ja ook die teenstand is maar net die uitwerking van God se besluite en beskikking! (27&28)

~ Hulle hou vas aan God se Woord en maak dit van toepassing op hulle situasie. (25-28) Die Skrifgedeelte wat hulle hier in hulle gebed aanhaal is Psalm 2. Dit bevat die versekering en belofte dat God alle teenstand sal uitwis teen sy Koninkryk! In ons gebede moet ons God herinner aan sy beloftes! (Vgl. Jesaja 62:6) Ons moet die Woord bid! Byvoorbeeld : “Here, U het mos self gesê, dat U die doodsbeendere weer lewend sal maak” of “Here Jesus, U het beloof dat die poorte van die hel U kerk nie sal oorweldig nie” God se Woord bly ewig waar!

~ Hulle bid vir die geleentheid en genade om die Woord met vrymoedigheid te verkondig. (29,30) Dis ’n positiewe gebed dat die Here ’n verskil sal maak deur die verkondiging van die Woord! Hulle vra nie vir verligting in hulle omstandighede nie, hulle bid nie vir “vliegtuigkaartjies” om te kan vlug vir die gevaar nie. Hulle bou nie ’n klooster om in te gaan wegkruip nie! Nee, dis eerder : “Here, gee ons ’n kans om deur U Woord ’n verskil te maak!” In die gebed stel hulle hulself tot beskikking van die Here!

En wat was die gevolg? God besoek en bekragtig hulle weer opnuut deur die Heilige Gees! (31) Hulle gebed word verhoor en te midde van die dreigemente verkondig hulle met vrymoedigheid die Woord! Kyk hoe laat die skrywer die klem op die “Woord” val... (Vers 29 en 30) Die res van die boek Handelinge is in ’n sin ’n bewys dat God hierdie gebed verhoor het, want die Woord versprei onstuitbaar tot binne in die keiserlike hoofstad, Rome! Ja, inderdaad was Paulus later ’n gevangene in Rome, maar Handelinge eindig op triomfantelike toon as daar verklaar word : “Hy het die Koninkryk van God verkondig en die mense alles oor die Here Jesus Christus geleer. Dit het hy gedoen met die grootste vrymoedigheid en sonder enige verhindering.” (Handelinge 26:31) Ja, na die gelowiges se gebed was daar steeds baie vervolging, swaarkry, probleme, misverstande, maar niks kon die voortgang van die Woord stuit nie! Geen omstandighede kon keer dat mense gered en tot God se Koninkryk toegevoeg word nie!

Bid, hou vas aan die Woord en verkondig die Woord - so gee God aan sy kerk die oorwinning in tye van benoudheid en bedreiging!

Skep moed bedreigde kinders van God! Bid en dan bou God self sy Koninkryk deur die bekragtiging van die Heilige Gees wat ons instaat stel tot die bediening van die bevrydende Woord!

God self sal sy kerk behou, bekragtig en bevorder!
* Twee onlangse publikasies wat hieroor handel is “Opgestaan” deur Ferdie Mulder en “Die Trojaanse Perd in die NG Kerk” deur Besorgde Lidmate en Leraars. Ek kan myself nie ongekwalifiseerd vereenselwig met al die nuanses in lg. boek nie, maar beide publikasies is uiters waardevol om oë te open vir die aanslag teen die Christelike geloof in Suider Afrika.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.