BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag, 15 September 2016

JAMMER, JESUS IS NIE ‘N TOORDOKTER NIE

- MAAR HY WIL IETS BAIE GROTER VIR JOU DOEN!



Waarom glo jy in Jesus? Wat verwag jy van Jesus? Wat wil jy hê moet Hy vir jou doen? So baie mense (op ‘n stadium miskien ons almal) sien Jesus as ‘n probleemoplosser. As ‘n tipe van ‘n wit toordokter wat kan muti uitdeel vir elke kwaal en kwelling. As daar huweliksprobleme, gesinsprobleme, ernstige finansiële probleme, gesondheidsprobleme of emosionele probleme ondervind word, dan vorm daar ‘n lang tou voor Jesus se spreekkamer...dan word daar skielik ernstig gebid en gebede gevra. En as hulle bid en daar gebeur nie iets nie, is daar groot teleurstelling en selfs woede. Dan verklaar hulle gou : “Nee wat, gebed werk nie. Nee wat, die Jesus besigheid is nie vir my nie!”

Jesus is nie ‘n toordokter wat vir ons bietjie muti gee vir elke pyn of probleem nie. Jesus is nie ‘n reënmaker nie. Jesus is nie ‘n wonderwerker wat die lewe vir ons gerieflik maak nie. Jesus bedryf nie ‘n gou-ryk-word-skema nie, Jesus verkoop nie polisse teen ongelukke en rampe van die lewe nie.

OM SONDAARS TE VERLOS!

Wat is Jesus groot doel? Kom ons kyk na die pragtige gedeelte in 1 Timoteus 1:12-17. Paulus sê dit baie eenvoudig en duidelik : ”Dit is ‘n betroubare woord en kan sonder voorbehoud aanvaar word: Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te verlos. Van hulle is ek die grootste.” (15) Wat ‘n kragtige waarheid, wat hoop gee vir ‘n sondaar!* Dit stem ooreen met die boodskap wat die engel aan Josef gebring het, nog voor Jesus se geboorte. “Sy sal ‘n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos." (Matteus 1:21) En in hierdie opsig is Hy wel tog ‘n probleemoplosser. Sonde is inderdaad ons grootste probleem. Dis die kern probleem, want ons sonde vervreem ons van God, sonde lei tot die dood, die ewige dood met ander woorde ewige skeiding tussen God en mens. Dis die beste nuus wat ons kan hoor – Jesus red van sonde. Paulus kon self daarvan getuig na sy ontmoeting met die lewende Jesus op pad na Damaskus. Paulus noem homself die “grootste van sondaars” – ja, hy het Jesus belaster, vervolg en beledig! (13) En tog het Jesus vir hom dit so te stel, oorlaai en oorweldig met genade. Paulus noem dit om vir ons te sê daar is hoop vir alle sondaars. “As Jesus so ‘n hardnekkige en rebelse sondaar soos ek kan red, kan hy ook vir jou red en jou genadig wees!” Wat ‘n geweldige hoopbringende troos!

Dis die tragedie, ons sien ander probleme raak, maar kyk die ware probleem mis. Die skuld van sonde wat ons die hel laat verdien, maar ook die mag van sonde wat ons soos slawe gevange hou. En onthou - onder sonde moet ons nie net ‘n lysie van oortredings verstaan nie, maar die groot kern sonde dat ons God nie volkome liefhet nie en ook nie ons medemens liefhet nie – dis die wortel van ons voortdurende rebellie teen God en ons voortdurende selfsug in ons menseverhoudings. Jesus is ‘n kragtige bevryder van sonde, dis wat Hy vir jou wil doen!

Het jy al so daaroor gedink, Jesus wil dalk nie nou jou huweliksprobleme oplos nie, Hy wil dalk jou eerder verlos van selfsug! Jesus stel dalk glad nie nou daarin belang om jou uit ‘n geldelike verknorsing uit te help nie, maar Hy wil jou verlos van gierigheid! Dis dalk nie nou vir Jesus belangrik om jou liggaam gesond te maak nie, maar om jou van ‘n verslawende gewoonte te verlos. En ja, ek weet die reëntyd kom nader en ons smag almal na oorvloedige reën (ek ook!), maar weet jy Jesus se eerste wens is nie om vir jou reën te stuur nie, maar om vir jou naasteliefde te leer en jou te verlos van haat en bitterheid. Die punt is, Jesus se eerste prioriteit is om jou van sonde te verlos, jou te vergewe en jou nuut te maak sodat jy deel kan kry aan die ewige lewe! Hy skenk dit vir ons deur geloof! (16) Hy roep jou op om Hom te vertrou as Verlosser van sonde! Jou sonde!

Jesus is nie ‘n probleemoplosser nie, maar die Redder van sonde. 

Hierdie heerlike bevrydende waarheid laat Paulus uitbars in ‘n lofprysing (doksologie).**Hy bring eer aan God as Koning wat sy koninkryk deur Jesus kom vestig! (17) Die groot vraag is nie of Jesus aan my lysie van probleme aandag gegee het nie, die vraag is, eer ek en jy God as Koning deur Hom, as die Heer en Heerser oor ons lewens? Ons kan God eers as Koning eer en dank as ons soos Paulus beleef het dat Jesus al my sondes vergewe het en my God se kind gemaak het.

KONING EN VADER

Maar wat dan nou van my huweliksprobleme, finansies, daaglikse sorge...? Wel as Jesus jou gered het van jou sonde en God se kind gemaak het, is God mos jou Vader, ja Hy is inderdaad ook ‘n versorgende Koning! Natuurlik weet ons Vader als wat ons nodig het en kan ons ons harte voor Hom uitstort en vra vir daaglikse brood wat mos al ons behoeftes insluit. Ook ons dringende behoefte aan reën! Natuurlik het ons die heerlike belofte in Matteus 6:33! “Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.” Maar let op wat is die prioriteit!

AANVAAR DIE GOEIE NUUS EN WEES DANKBAAR

Die evangelie, die boodskap dat Jesus gekom het om sondaars te red is goeie nuus, goeie nuus wat betroubaar is. Dit help egter niks as dit nie aanvaar word nie. Het jy dit al aanvaar? Het jy al die redding van sonde beleef? Dan sal jou hart net soos Paulus s’n oorloop van dankbaarheid (12) - ook in slegte omstandighede van siekte, geld tekorte of selfs droogte! AMEN

*Hierdie woorde van Paulus het die lig in die Engelse hervormer en martelaar, Thomas Bilney se hart laat opgaan. “This one sentence, through God’s instruction and inward working, which I did not then perceive, did so exhilarate my heart, being before wounded with the guilt of my sins, and being almost in despair, that even immediately I seemed unto myself inwardly to feel a marvellous comfort and quietness, insomuch that “my bruised bones leaped for joy” (Psalm 51) Bilney se beroemdste bekeerling was die groot prediker van die Engelse Reformasie, Hugh Latimer.

** Waarskynlik ‘n frase uit ‘n ou liturgie.




Donderdag, 08 September 2016

HEILIGE BYBELSE BALANS

- vrees en vertroue



In hoofstuk 1 van die Eerste Johannes brief hoor ons duidelik watter ernstige saak sonde is. (Kliek op GEMEENSKAP). Sonde en gemeenskap met God is twee onversoenbare dinge. Dis baie duidelik gestel, gemeenskap met God en ‘n lewe in duisternis is onderling uitsluitend! Dis of die een of die ander, saam kan dit nie bestaan nie. Aan die ander kant het Johannes die hele waarheid van vergifnis sterk gestel waar daar belydenis van sonde is. (1:9) Die vergifnis wat God skenk is volledig, ruim en oorvloedig!

TWEE REAKSIES, TWEE GEVARE

Waar mense hierdie waarhede hoor is daar dikwels twee uiterste reaksies wat altwee gevaarlik en verkeerd is.

Die een groep beklemtoon vergifnis en dink baie ligtelik oor sonde. Die gevoel is amper : “Ag, dis eenvoudig, dis my voorreg om sonde te doen en dis God se plig om my te vergewe. Waarom sou ek bekommerd wees oor sonde?” Dis juis hierdie groep wat nie sal skroom om Nagmaal te gebruik terwyl hulle doelbewus in onvrede, onvergewensgesindheid of onsedelikheid voortleef nie. Dis mense wat nog nooit die geweldigheid van God se heiligheid of die erns van sonde besef het nie. Dis baie gevaarlik om so ‘n houding te hê. Dis ‘n misbruik van genade! Die genade van God word as verskoning gebruik om losbandig te leef!

Die ander groep beklemtoon slegs die erns van sonde en is dikwels onseker oor vergifnis. Hulle redeneer so : “O, ek val so dikwels en so maklik. Daar is vir my geen hoop nie. Ek voel onwaardig en vuil, ek durf seker nie Nagmaal gebruik nie. God se heiligheid wek by my die heeltyd ‘n gevoel van vrees en verwerping. Dit vul my met onsekerheid en moedeloosheid.” Dis ook ‘n verkeerde houding. In hierdie groep kry mens soms ook mense met ‘n oorsensitiewe gewete wat oor allerlei nietige en onbenullige dinge voortdurend skuldig voel. (Kliek op OORSENSITIEWE GEWETE)

Johannes spreek beide groepe aan in 1 Johannes 2:1. Vir die eerste groep sy hy duidelik : “Dit skrywe ek aan julle, my liewe kinders, dat julle nie moet sondig nie.” Die kind van God moet dit nie eers oorweeg om sonde te doen nie. Die moontlikheid moet nie eers by ons opkom nie. Sonde is ‘n vreemde verskynsel, dit pas hoegenaamd nie by God se kinders nie. Verder in sy brief stel hy dit nog sterker! Hy stel dit eintlik oordrewe, hiperbolies : “Iemand wat ‘n kind van God is, doen nie meer sonde nie, omdat die Gees van God in hom bly; en hy kan nie meer sondig nie, omdat hy uit God gebore is. Hiéraan is dit duidelik wie kinders van God en wie kinders van die duiwel is: iemand wat nie regverdig lewe nie en nie sy broer liefhet nie, behoort nie aan God nie.” (1 Joh 3:9,10) 

As iemand dus ‘n ligtelike, ongeërgde, slap houding teenoor sonde het, moet jy weet dat jy op ‘n baie gevaarlike terrein beweeg! Die eerste groep moet dus duidelik hoor, sonde is ‘n bitter ernstige saak. God is lig! Dis nooit iets waarmee ons kan speel nie! Sondevergifnis het immers Jesus se dood gekos!

Ons moet sonde vrees!

Johannes spreek ook die tweede groep aan en wil vir hulle hoop gee. “En as een van ons sondig -ons het Jesus Christus, die regverdige, as ons voorspraak by die Vader.” Johannes beveel ons ernstig om nie te sondig nie, maar indien dit wel gebeur (hy weet dit is iets wat kan gebeur), moet ons nie moed en hoop verloor nie, maar weet dat ons nog steeds Jesus as Voorspraak, as Advokaat het! Sonde is baie ernstig, dis iets wat ons hoegenaamd nie moet oorweeg nie, maar as dit wel gebeur, kan die kind van God die vertroue hê, daar is iemand wat vir my intree. My Advokaat, my Voorspraak, my Hoëpriester, Jesus! Hy stel my saak by God, daarom hoef ek nie te wanhoop as ek geval het nie. 

Hierdie waarheid van Jesus wat vir ons intree is ‘n duidelike Bybelse waarheid wat ook op ander plekke beklemtoon word. In Romeine 8:34 roep Paulus uit : “Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.” Weens Jesus se pleitrede staan ons onskuldig! En Hebreërs 7:24,25 wat sê : “Omdat Jesus vir ewig bly, beklee Hy ‘n priesterskap wat nie op ‘n ander oorgedra word nie. Daarom kan Hy ook dié wat deur Hom na God gaan, eens en vir altyd verlos: Hy lewe vir altyd om vir hulle by God in te tree.” 

Ons moet op Jesus vertrou en hoopvol wees!

WIE IS KIND VAN GOD?

As Johannes vir Jesus ons Voorspraak noem, raak hy die hart van Christenskap aan. ‘n Kind van God is iemand wat Jesus as Middelaar en Voorspraak het! Die vraag is nie in die eerste plek of my sonde min of baie is nie, die vraag is nie of my sonde darem minder ernstig is as ander mense s’n nie, die vraag is nie of ek nog wel Bybel lees of bid nie, die vraag is ook nie of ek goed voel oor myself nie. Al vraag wat tel is : “Is Jesus my Advokaat?” Kan jy dit met oortuiging sê? Sonder Jesus geen hoop, met Jesus ‘n vaste heerlike hoop! Later sê Johannes dit nog duideliker in ‘n baie skerp kontras. “Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie.” (1 Johannes 5:12)

BYBELSE BALANS

Johannes het ‘n pastorale hart wat omgee vir ander Christen gelowiges, wat omgee vir ons. En daarom wil hy help dat ons nie in een van bogenoemde uiterstes verval en so skade ly nie. Ons moenie ligtelik dink oor sonde nie, ons moet ook nie alle hoop verloor as ons wel in sonde geval het nie. Dis die gesonde heilige Bybelse balans! Hy sê in effek : “Maak erns met sonde, kies teen sonde, bely en laat staan dit!”, maar hy sê ook : “Moenie moed verloor nie, hou vas aan die Middelaarskap van Jesus!” Dis in wese ook die voorwaarde vir die gebruik van die Nagmaal. Besef die erns van sonde, bely dit en breek daarmee. Besef die voorreg om Jesus as Middelaar en Advokaat te hê! Hy pleit vir jou omdat Hy met sy eie bloed jou sondeskuld betaal het! 

Ons gebruik juis die Nagmaal, nie om ons goedheid en sondeloosheid daarmee te verklaar nie, maar om opnuut ons vaste vertroue in Jesus se Middelaarskap, ja, vir my persoonlik te bely! Ons gebruik veral die Nagmaal omdat Jesus self deur sy Gees juis daardeur Sy getrouheid en genoegsaamheid vir ons tasbaar bevestig!



Donderdag, 01 September 2016

GEBROKE GEMEENSKAP EN FLOU “FELLOWSHIP”

- kan op net een manier weer herstel word.


Johannes is passievol oortuig dat die boodskap wat hy en die ander apostels verkondig die waarheid is! Dis die boodskap van Jesus, die Seun van God wat ons met God versoen het. Waarom is hy so oortuig? Hyself en die ander apostels het nie net iewers van Jesus gehoor nie, maar hulle het Homself gehoor, gesien en aan Hom gevat. “Van die begin af was Hy daar. Ons het Hom self gehoor; ons het Hom met ons eie oë gesien; ja, ons het Hom gesien en met ons hande aan Hom geraak. Hy is die Woord, die Lewe.” (1 Jn 1:1) Dink maar aan wat gebeur het na Jesus se opstanding toe Hy hulle uitgenooi het om aan Hom te voel, sodat hulle kon besef Hy is nie maar net ‘n spook nie. (kliek op SPOKE EET NIE VIS NIE)

In die evangelie het ons die betroubare woord van ooggetuies. Dis eg, dis waar, dis lewensveranderend!

Waar Jesus se boodskap verkondig en geglo word kom daar GEMEENSKAP tot stand. Anders gesê, slegs deur die aanvaarding van Jesus se boodskap, van Jesus self kan mens deel in die besondere gemeenskapsverhouding met die Vader en die Seun en met ander mense wat ook dieselfde boodskap aanvaar. Gemeenskap is ‘n belangrike herhalende tema/begrip hier in 1 Johannes 1. (Vers 3,6,7)*

GEMAAK VIR GEMEENSKAP

Wat beteken gemeenskap/koinonia/fellowship? Dis ‘n innige betrokkenheid by mekaar, ‘n vreugdevolle saamwees, ‘n geestelike band, ‘n naby verhouding, ‘n diepe kommunikasie met God en met mekaar. God het die mens van die begin af gemaak om met die mens ‘n bewustelike gemeenskap te hê, in ‘n verhouding te staan. Ons is juis daarvoor ontwerp om dit so te stel. God het die mens as vennoot en gespreksgenoot gemaak. God het die mens as sy persoonlike verteenwoordiger aangestel op aarde. Voor die sondeval het God (so lei mens af) vir die mens kom “kuier”. Hierdie gemeenskap is deur die sondeval verbreek. Die sonde het die mens skaam gemaak, vol skuldgevoelens en vrees. Daarom kruip Adam en Eva weg vir God. Maar dis juis waarom Jesus gekom het, om hierdie gemeenskap te herstel. Jesus vat die vyandskap tussen ons en God weg. Elkeen wat aan Jesus behoort is nou ‘n kind van God (3:1) en deel in hierdie gemeenskap met God, maar ook met ander kinders van God!

Johannes skryf vir Christene wat reeds deel aan die gemeenskap. Sy doel is om te verseker dat hulle voortgaan om hierdie gemeenskap te beleef en te geniet. Dit maak hom bly as Christene die volle seëninge van die evangelie beleef. (vers 4) Hy wys dus op twee sake : Dit wat hierdie gemeenskap versteur en belemmer. Hoe die gemeenskap met God en mekaar herstel kan word.

WAT VERSTEUR GEMEENSKAP MET GOD EN MET MEKAAR?

Die antwoord is sonde! Of soos Johannes dit stel duisternis. Duisternis is die probleem, want God is lig en daar is geen duisternis in Hom nie! Sonde druis in teen die wese en karakter van God. God kan nooit nie sonde akkommodeer, goedpraat of maar net onder die mat invee nie. Jy mislei jouself as jy so dink. Jy kan nie met God nie ‘n “deal” probeer maak oor sonde nie! ‘n Lewe in duisternis is onversoenbaar met gemeenskap met God. (incompatible) ‘n Lewe in sonde duisternis, versteur gemeenskap met God en met mekaar. Om te sê dat ons gemeenskap met God ervaar, maar doelbewus in sonde te bly voortleef is om vals te wees en ‘n leuen te leef. Hoe dikwels gebeur dit nie. Ons maak asof als reg is, ons gebruik die regte terme, ons kom nog steeds kerk toe, ons lees nog steeds die Bybel, ons prewel nog sulke afgestompte gebedjies, maar daar is geen ware vreugde en gemeenskap met God nie en ook nie met mekaar nie. Ons het geen ware kontak met God nie en ons saamwees met mekaar is ook net vir die skyn en vals.

Daar is so dikwels oppervlakkige pogings om groter betrokkenheid en gemeenskap in ‘n gemeente te bewerk... meer kuier, meer saambraai, meer funksies... Vurige pleidooie om onbetrokkenes tog net weer betrokke te kry... Dis als goed en wel, maar dikwels vergeet ons wat is die kernoorsaak van ‘n gebrek aan gemeenskap, naamlik sonde, duisternis... Sonde bring skeiding tussen God en mens, skeiding tussen mens en mens. Positief gestel, dis net as ons in die lig leef soos God in die lig is dat daar gemeenskap moontlik is. (vers 7) Om in die lig te lewe is om volgens God se standaarde van heiligheid en liefde te leef, om te doen soos Hy wil hê, om by sy opdragte in te val.

HOE WORD GEMEENSKAP MET GOD EN MEKAAR HERSTEL?

Daar is net een pad en dis die pad van belydenis. Om my sonde voor God te erken en met ware berou om vergifnis te vra. Moenie verskonings maak en verduidelikings probeer opdis nie. Noem sonde by die naam, erken as sonde dit wat God se Woord sonde noem. Vermy verkleinwoorde en versagtings... “Ag, ek kuier af en toe te veel” Nee, bely eerlik : “Here, ek is ‘n dronkaard!” 

Ontkenning van sonde sny jou af van vergifnis en daarom ook van gemeenskap. Belydenis van sonde bring vergifnis en reiniging en herstel weer gemeenskap! 

Glo die heerlike en kragtige belofte in vers 9 en maak gebruik van die voorreg om jou sonde eerlik te bely... Sonde bring skuld voor God, sonde maak ons onrein voor God, maar belydenis bring kwytskelding van skuld, belydenis maak ons weer skoon voor God. Belydenis bring bevryding van die skuld van sonde, maar ook van die mag van sonde. Ons sondeskuld wat ons vervreem van God word uitgewis, maar ons word ook bevry van die oorheersende mag van sonde! Dit alles is moontlik vanweë die bloed van Jesus, Jesus se volkome offer aan die kruis. Dis hierdie waarheid wat ons hoop gee, juis ook as ons geval het en dis waarom die Nagmaal vir ons so ‘n belangrike geleentheid is. Die Nagmaal waarborg hierdie waarhede weer op tasbare en sigbare wyse. AMEN


*1 Johannes 1:1 Van die begin af was Hy daar. Ons het Hom self gehoor; ons het Hom met ons eie oë gesien; ja, ons het Hom gesien en met ons hande aan Hom geraak. Hy is die Woord, die Lewe.

1Jo 1:2 Die Lewe het gekom; ons het Hom gesien en is getuie daarvan, en ons verkondig aan julle die Ewige Lewe wat by die Vader was en aan ons geopenbaar is.

1Jo 1:3 Hom wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan júlle, sodat julle aan ons gemeenskap deel kan hê. En die gemeenskap waaraan ons deel het, is dié met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus.

1Jo 1:4 Dit skryf ons sodat ons blydskap volkome kan wees.

1Jo 1:5 Dít is nou die boodskap wat ons by Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie.

1Jo 1:6 As ons beweer dat ons aan Hom deel het (gemeenskap OAV), en ons lewe in die duisternis, lieg ons en handel ons nie volgens die waarheid nie.

1Jo 1:7 Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde.

1Jo 1:8 As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie.

1Jo 1:9 Maar as ons ons sondes bely- Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.

1Jo 1:10 As ons beweer dat ons nie gesondig het nie, maak ons Hom tot leuenaar en is sy woord nie in ons nie.

Sondag, 28 Augustus 2016

DIT HOORT NIE SO NIE!

- ONTVANGERS VAN GENADE WAT GENADELOOS WORD.



Ons hoor en gebruik so dikwels die word GENADE. Maar verstaan ons wat is genade? Besef ons proefondervindelik hoe kosbaar dit is? Is ons regtig dankbaar daarvoor? En veral, wys ons houding teenoor ander mense dat ons genade waardeer?


JONA EN DIE HARTSEER IRONIE VAN GENADELOOSHEID

Kom (vergeet eers van die debat oor die vis) ons lees  in Jona 4 hoe Jona gereageer het nadat Nineve gehoor gegee het aan sy prediking en God die stad gespaar het :

Jona 4:1 Hieroor was Jona baie ontevrede en hy het baie kwaad geword.

2 Hy het tot die Here gebid en gesê: "Ag, Here, ek het dit geweet toe ek nog in my land was. Daarom het ek reg in die begin na Tarsis toe gevlug. Ek het geweet U is ‘n genadige en barmhartige God, lankmoedig en vol liefde. U sien maklik af van die straf wat U aangekondig het.

3 "Laat ek nou maar sterf, Here, want dit is vir my beter om te sterf as om te lewe."

4 Toe vra die Here vir hom: "Het jy rede om kwaad te word?"

5 Jona is toe uit die stad uit. Hy het oos van die stad gaan sit en vir hom ‘n skerm gebou. Hy het daaronder in die skaduwee gaan sit om te sien wat in die stad gebeur.

6 Toe laat die Here God ‘n komkommerplant opkom, en dit het bo-oor Jona gerank om skaduwee te gee vir sy kop en om hom van sy misnoeë te bevry. Jona was baie bly oor die komkommerplant.

7 Die volgende môre met dagbreek laat God toe ‘n wurm kom, en dit het aan die komkommerplant gevreet, sodat dit verdroog het.

8 Toe die son opkom, het God ‘n skroeiende sterk wind uit die ooste laat waai. Die son het vir Jona op sy kop gesteek, en hy het baie swak geword en gewens om maar liewer te sterf. Hy het gesê: "Dit is vir my beter om te sterf as om te lewe."

9 Toe vra God vir Jona: "Het jy rede om kwaad te word oor die komkommerplant?" en Jona antwoord: "Ek het rede genoeg: ek is besig om te sterf!"

10 Die Here het vir Jona gesê: "Jy is besorg oor die komkommerplant waarvoor jy nie gewerk het nie en wat jy nie versorg het nie. Dit het oornag opgekom en oornag is dit dood.

11 Maar Ek mag nie besorg wees oor die groot stad Nineve nie, ‘n stad waarin daar meer as honderd en twintig duisend mense is wat nie weet wat reg of verkeerd is nie, en ook nog baie diere?"

Sien in jou geestesoog ‘n dikbek Jona. Eintlik totaal depressief! Die rede is verbasend. Die mense van Nineve het hulle bekeer nadat hy gepreek het. Mens sou kon dink dat ‘n profeet tog dankbaar en opgewonde sou wees as mense ag slaan op sy boodskap. Maar nie Jona nie. Hy was kwaad dat Nineve se mense hulle bekeer het en dat God hulle genadig was en afgesien het van sy straf om hulle te verwoes. Waarom was Jona nie bly oor God se genade oor Nineve nie? Jona kon nie aanvaar dat God se genade ook Nineve, die vyand van sy volk Israel insluit nie! Dit het nie ingepas by sy persoonlike agenda en gevoelens nie!  Hier kom die ware rede uit waarom Jona aanvanklik weggevlug het van God se opdrag om na Nineve toe te gaan. Vers 2! Jy sien, Jona het geglo in God se genade, maar hy wou God voorskryf oor wie genade mag kry en wie nie. Die ironie is dat Jona self ‘n ontvanger van God se genade is (God het hom wonderbaarlik gered van ‘n gewisse verdrinkingsdood), maar hy gun nie genade vir ander mense nie. Klink dit nie dalk bekend in my en jou lewe nie?

Met die wonder van die komkommerplant wat vir Jona skadu gebied het en toe deur ‘n wurm laat verdroog is, het God vir Jona ‘n les probeer leer. God wys vir Jona hoe inkonsekwent hy dink. Hy is net besorg oor sy eie gerief, hy is kwaad oor ‘n enkele plant wat verdroog het. Maar hoekom mag God nie besorg wees oor 120 000 mense nie? En ook nog baie diere nie? (God is immers Skepper en Onderhouer van sy hele skepping!) Die boek Jona eindig met ‘n vraag, want ek en jy moet hierdie vraag beantwoord. Hoe dink ons oor genade? Hoekom is ons wat ontvangers is van genade, wat afhanklik is van genade so dikwels genadeloos?

VUUR OOR DIE SAMARITANE

In die Nuwe Testament kry ons nog ‘n voorbeeld van genadeloosheid by God se mense wat van beter behoort te geweet het. (Lees dit in Lukas 9:51-56) Jesus en sy dissipels reis deur ‘n Samaritaanse dorp op pad na Jerusalem. Die Samaritane wou nie vir Jesus ontvang en verblyf gee nie. Dit het heftige reaksie by Jakobus en Johannes ontlok. Vers 54! “Toe die twee dissipels, Jakobus en Johannes, dit sien, sê hulle: "Here, wil U hê ons moet vuur uit die hemel afroep om hulle te verteer?" Op die oog aflyk dit of Jakobus en Johannes wou opkom ter wille van Jesus se eer. Dit klink asof hulle vreeslik lojaal is teenoor Jesus. Miskien het hulle ‘n klop op die skouer van Jesus se kant af verwag. Maar nee! Jesus het hulle skerp berispe! Jesus laat Hom nie flous nie, Hy sien dwarsdeur hulle motiewe. Hulle optrede gaan nie regtig oor lojaliteit teenoor Jesus nie, maar hulle diepgewortelde veragting en haat vir die Samaritane. Hulle gedagtes was eerder : “A, hier is ons kans om wraak te neem op die ellendige Samaritane wat ons so irriteer en ons land besmet!”

Beide Jona en die twee dissipels is voorbeelde van begenadigde mense wat min genade oorgehad het vir ander mense. Hulle was ontvangers van genade, maar onwillig en suinig om dit aan ander uit te deel.

BLIND VIR GOD SE PLAN EN BEDOELING

Waar kom hierdie hardheid vandaan? Ons vergeet God se genade wanneer ander beginsels en nie God se eer en God se koninkryk die deurslag gee in ons denke en optrede nie. Jona het ‘n diepgewortelde haat vir die vyande van Israel, die Nineviete gehad. Sy eie hoogmoedige nasionalistiese gevoelens was vir hom belangriker as God se eer. Hy staar homself blind teen sy eie vooroordele en kan nie God se plan raaksien nie. God se plan is juis dat alle nasies hulle moet bekeer en Hom moet eer. Die dissipels sit met dieselfde probleem. Hulle kyk ook vas teen hulle eie negatiewe gevoelens oor die Samaritane dat hulle weereens nie God se plan raaksien nie. Hulle dink aards volgens hulle sondige natuur. Hulle lewens is nie onder beheer van die Heilige Gees nie. Maar wat gebeur na Pinkster, na die uitstorting van die Gees? Dis interessant, in Handelinge 8 lees ons hoe Filippus die evangelie aan die Samaritane verkondig het en hoe baie tot bekering gekom het. Die apostels (en ons kan seker aanneem Jakobus en Johannes was ook by) het ook aan hierdie evangelieverkondiging deelgeneem. “So het die apostels dan kragtig getuienis gelewer en die woord van die Here verkondig. Hulle het na Jerusalem toe teruggegaan en onderweg die evangelie in baie dorpe van die Samaritane verkondig.” (Handelinge 8:25) Dis baie moontlik dat van die Samaritane in hierdie dorpie wat ongasvry teen Jesus opgetree het ook nou die evangelie gehoor het en tot bekering gekom het.

WAT SKUIL IN JOU HART?

Ek wil glo dat jy ook ‘n ontvanger van genade is! Dat jy weet dat deur die geloof in Jesus al jou skuld uitgedelg is en dat jy sonder vrees voor God se troon kan staan. Maar sê my : Waarom is daar mense teenoor wie jy verbitter is? Waarom is daar mense vir wie jy afskryf (dalk jou eie man of vrou?) en sê: “Ag hulle sal nooit tot bekering kom nie. Ek gaan nie vir hulle bid nie, ek gaan hulle nie besoek en uitnooi kerk toe nie...” Waarom verlustig jy jou dalk in die leed van ander mense : “Lekker laat julle voel, julle wil mos nie hoor nie! Hoe voel die Westerse Christene oor die derduisende  Moslem (en nie-Moslem) Siriese vlugtelinge?  Toets onsself: Kyk ons na mense soos God hulle sien? Kry ons nog mense innig jammer soos Jesus omdat hulle soos skape sonder herder is? Sien ons die potensiaal in dat sondaars hulle kan bekeer, genade kan ontvang en God so geëer kan word? Gun jy God se genade vir jou grootste vyand? Sal jy bly wees as God jou vyande seën en die blydskap van vergifnis aan hulle skenk? Watter wrok, vooroordeel of diep verskuilde bitterheid maak jou ondankbaar en ongevoelig vir die genade van God oor ander sondaars? Ja, ons steek hierdie verkeerde motiewe weg onder kastige vroomheid en godsdienstige frases, maar as ons eerlik is sal ons erken dit gaan nie regtig oor God se eer nie, maar oor ons eie kleinlikhede. Of ons persoonlike agendas van wraak en selfsug. Bekeer jou daarvan want genadeloosheid pas glad nie by ontvangers van genade nie! Meer nog, dit wys dalk dat jyself nog nie die heerlikheid van genade besef het nie. En watter hoop het ek en jy as dit nie vir genade was nie?



Moenie God se soewereine genade en onmeetlike almag deur jou eie vooroordele probeer beperk nie. Onthou Hy kan uit klippe kinders van Abram verwek! (noord van Swakopmund)

Donderdag, 18 Augustus 2016

KYK NA DIE GROTER PRENTJIE

van God se planne en besef dis nie nou die tyd om eie belang voorop te stel en jou teen jou eie bekommernisse vas te staar nie!



JEREMIA SE BOODSKAP


Ons weet almal van die profeet Jeremia se stryd vir die waarheid. Hy het nie gepreek dit wat die mense wou hoor nie, maar dit wat God wou sê. Die waarheid! Dit het hom in konfrontasie gebring met almal: die koning, die priesters, die valse profete en die volk. Hy het almal se sonde en ongeregtigheid aangespreek en blootgelê. Die valse profete het die volk se sondes toegesmeer en gesê :”Vrede, vrede”, terwyl daar geen vrede is nie. (Jeremia 6:14) Hierteenoor het Jeremia voorspel dat God, Juda sal straf en het hy die val van Jerusalem voorspel. Vanweë sy ongewilde boodskap moes arme Jeremia dit ontgeld, hy is o.a. in ‘n put gegooi. Na Jerusalem se inname deur Nebukadnesar gaan Jeremia se bediening voort. Die goewerneur Gedalja is deur die Babiloniërs as goewerneur oor die agtergeblewe Jode aangestel. Gedalja word vermoor en omdat die Jode nou die wraak van Nebukadnesar vrees besluit hulle om na Egipte te vlug. Hulle vra vir Jeremia wat God se wil is en tog verwerp hulle sy boodskap wat hy van die Here ontvang het - presies wat mense vandag nog doen. (sien Jeremia 42:3,43:1-3) Jeremia word gedwing om saam te trek na Egipte.

EN WAT VAN BARUG?*

Ons het miskien maklik meegevoel met arme Jeremia, maar vergeet gewoonlik van Barug. Jeremia het gebruik gemaak van ‘n persoonlike sekretaris, Barug. Dit was geen gerieflike en veilige beroep nie. Saam met Jeremia moes hy die kritiek en verwerping verduur; soveel so dat die volk eintlik vir Barug die skuld gegee het toe Jeremia vir hulle ‘n boodskap gegee het oor hulle beplande vertrek na Egipte. (43:3) Hy is dan ook saam met Jeremia na Egipte toe geneem soos ons lees in 43:6.

Ons kry hier in hoofstuk 45 ‘n profesie wat op Barug persoonlik betrekking het :

Jeremia 45:1 ‘n Woord van die profeet Jeremia aan Baruk seun van Nerija, toe Baruk opgeteken het wat Jeremia vir hom gedikteer het. Dit was in die vierde regeringsjaar van koning Jojakim van Juda, seun van Josia.

2 So sê die Here die God van Israel oor jou, Baruk:

3 Jy sê dit is klaar met jou, die Here het nog meer lyding by jou smart gevoeg, jy is al uitgeput van kla, jy kry nie rus nie?

4 Die Here sê ek moet vir jou sê: So sê die Here: Wat Ek gebou het, slaan Ek plat; wat Ek geplant het, ruk Ek uit. Dit het gebeur met ‘n hele land.

5 En jy soek roem vir jouself? Moet dit nie soek nie! Ek gaan ‘n ramp oor alle mense bring, sê die Here. Tog sal Ek jou jou lewe laat behou waar jy ook gaan, al sal jy net met jou lewe daarvan afkom.

Uit hierdie gedeelte en vanuit Barug se rol in die algemeen blyk dit baie duidelik dat sy taak veeleisend en gevaarlik was. Op ‘n stadium het alles blykbaar vir hom te veel geword, sy werk was hard (Onthou daar was nie eens ordentlike penne nie, wat nog van tikmasjiene en rekenaars!), die druk te groot, die teenstand te fel, hy is blootgestel aan voortdurende smaad. Maar meer nog en dis waarskynlik waaroor dit hier gaan : die profesieë van oordeel oor Juda sou hom wat Barug is ook raak. God se oordeel sou sy eie toekomsplanne en ambisies in gedrang bring. Die boodskap wat hyself help formuleer het, het intense BEKOMMERNIS by hom veroorsaak! Die inhoud van die profesieë het daarop neergekom dat die hele land verwoes sou word, mens en dier sou uitgeroei word. Die einste boodskappe van oordeel wat Barug so getrou neergeskryf het sou hom self ook nadelig tref. Wat gaan word van sy toekoms? Hierdie situasie en omstandighede het Barug laat kla en sug (45:3) “die Here voeg lyding by my smart, ek is uitgeput van die kla” (NAB)

‘N BAIE PERSOONLIKE BOODSKAP 

God reageer op Barug se selfbejammering en ongelukkigheid, deurdat die Hy deur Jeremia ‘n spesiale persoonlike boodskap aan hom rig. In hierdie boodskap word Barug berispe sowel as getroos:

  • Barug word aangespreek en tereggewys: Barug se persoonlike lot het vir hom baie erg gelyk. "Kyk wat gaan my alles tref!"  Die Here gee nou vir hom ‘n groter perspektief. (4) God wil miskien sê : “Besef jy wat hou dit alles vir myself in? Die oordele behels dat ek my eie volk tugtig.” Dis die einste volk aan wie Hy soveel aandag en liefde bestee het. (vgl. Jesaja 5) Hierdie oordele is geen ligtelike saak vir God nie. Hy verwoes Sy eie eiendom. Moontlik is die bedoeling van God hier : “Wat gaan dit jou aan? Dis my eiendom wat ter sprake is! Barug jy het nie regtig rede om so hartseer en ongelukkig te wees nie!” Dan gaan die Here voort in vers 5. Dis die kerngedagte my betref en wat ek glo tot elke kind van God sal spreek. “En sou jy vir jou groot dinge soek? Soek dit nie” (OAV) “En jy soek roem vir jouself? Moet dit nie soek nie?” (NAB) Mens sou dit ook so kon stel : “Hoe durf jy persoonlike voordeel vir jouself opeis?** 
Barug daar is ‘n groter saak, die saak van God. In die lig van hierdie groter saak durf jy nie bekommerd oor jou persoonlike ambisies, ideale en gerief te wees nie! Kry begrip vir die groter geheel, moenie teen jou ooglede vaskyk nie. Dink aan die volgende prentjie : ‘n Groot woonstelgebou is aan die brand. Honderde mense moet gered word! Lewens word bedreig. Daar is miljoene rande skade. Maar nou kom kerm iemand by die brandweermanne oor sy hamster wat weggeraak het. Ons is so dikwels onsensitief vir die betekenis en omvang van die ewigheidsdrama wat afspeel. In die lig van die aantasting God se eer, in die lig van Sy groot raadsplanne, die oordele wat wag - wat tel my en jou persoonlik belange, wat is ons klein opofferinkies en verliese? Sien die groter prentjie raak. 

Laat ons ophou om in onsself gekeer te wees met ons ou klein probleempies. 

Moenie so arrogant wees om spesiale behandeling te verwag nie! God gaan die wereld oordeel, God stuur ons nou om die evangelie te verkondig.... Moenie net aan jouself dink nie, terwyl die wêreld voortsnel na ‘’n einde nie!

  • Barug kry ‘n heerlike belofte. “jou lewe laat behou” Te midde van al die oordele sou sy lewe gespaar word. Ja, selfs al gaan dit oor die groter saak van God se eer, vergeet God nie Sy kinders nie. Lewe is tog die belangrikste, dis tog eintlik wat tel.*** Ja , God se mense word nie gevrywaar van ellende nie, maar ten opsigte van dit wat regtig tel sal ons geseënd wees. Uit Nuwe Testamentiese perspektief weet ons dat lewe ten diepste na die ewige lewe by God verwys. Ja, selfs waar die kinders van God hulle aardse lewens verloor sal hulle (ewige) lewe behou. Jesus sê tog duidelik “Wie sy lewe bo my liefhet, verloor dit, en wie sy lewe in hierdie wêreld nie bo my liefhet nie (haat), sal dit vir die ewige lewe behou” (Johannes 12:25)
Samevattend

  • Sien die groter geheel raak. Kry ‘n wyer visie as jou eie geestelike lewe, jou eie loopbaan, eie gerief. Raak eerder bewus van die nood van die kerk, die uitbreiding van die Koninkryk van God, jou taak in die liggaam van Christus, die groot dag wat nader kom. Moenie dat klein persoonlike sake jou aandag van hierdie enorm belangrike dinge aftrek nie.
  • Ons eie belange en idees bots dikwels met die belange van die Koninkryk van God. Daar is ‘n groter prentjie, daar is ‘n groter plan, my ambisies moet plek maak vir daardie groter plan. (My keuse oor woonplek, beroep is ondergeskik aan God se plan en wil.) In hierdie saak was Jesus gedurende Sy aardse lewe die absolute voorbeeld, Hy het alle persoonlike belange prysgegee om die die werk van en saak van Sy Vader te dien - dit het Hom tot by die kruis gelei...
  • Om in te val by God se plan kos ‘n prys, tog is dit nie ‘n uitsiglose doodloopstraat nie. Ons kan weet ook in situasies wat ons alles moet verloor, kyk God met Vaderlike sorg en liefde na ons. Ons bly ewige wenners! Die omvattende saak van Sy koninkryk kom eerste en tog beloon Hy Sy kinders uitermate. Jesus se woorde in Matteus 19:29 het heerlike belofteryke konsekwensies vir elkeen wat die groter saak van God se koninkryk eerste stel – “En elkeen wat ter wille van my Naam afgesien het van huise of broers of susters of vader of moeder of kinders of grond, sal honderd maal soveel ontvang en die ewige lewe as erfenis kry.” AMEN
Motiveringsprekers en lifecoaches leer ons dat God ons sal help om ons planne, ambisies en belange te bevorder; die Woord leer ons moet inval by God se raadsplanne en koninkryk en God sal vir ons sorg volgens sy besluite.



*NAB – Baruk

** so in ‘n Franse vertaling : "Et toi, tu oses réclamer un avantage personnel?"

*** God het ‘n soortgelyke belofte aan Ebed- Meleg , die Kusietiese kneg gemaak wat verantwoordelik was dat Jeremia uit die put getrek is ( Sien Jeremia 38; 39:15-18)




Donderdag, 11 Augustus 2016

“ONSKULDIGE PLESIER”

- DIE TAKTIEK VAN BILEAM



God se liefde vir sy kinders is oneindig groot. (Kliek op FEITE) Die bewys : Hy het ons losgekoop uit sondeslawerny met ’n baie hoë prys - die bloed van sy eie Seun, Jesus. Daarom weet dit : God se kinders is sy oogappels, uitverkorenes! Jy vra : “Regtig? Ek het nog soveel foute, ek val so maklik?” Ja, as jy alleenlik op Jesus Christus vertrou is jy ’n geliefde uitverkorene...! Juis daarom is ons ’n teiken van Satan - hy wil ons kwaad aandoen, laat struikel, vernietig. Al Satan se helse woede is gefokus op God se kinders. Omdat hy God haat, haat hy elke kind van God en soos ’n brullende leeu soek hy wie hy kan verslind. Satan bedreig God se kinders : Hy het dit in die Ou Testament gedoen en hy het dit in die tyd van die Nuwe Testament gedoen en hy doen dit nog steeds. Hy wil ons dislojaal maak teenoor God, hy wil ons verlei om God se liefde te vertrap en te minag!



Nou hoe gaan hy te werk? Tydens die Uittog uit Egipte het die Israeliete deur Moab getrek. In Numeri 22-24 lees mens die merkwaardige verhaal hoe die heidense Moabitiese koning Balak, ’n towenaar/waarsêer met die naam van Bileam gehuur het om God se volk Israel te vervloek! Hy wou ’n vloek ("spell") op hulle plaas! Niks anders nie as ’n aanslag van Satan teen God se volk! Maar wat gebeur toe? Lees maar self - Balak se plan misluk, want God dwing toe vir Bileam om Israel te seën in plaas van te vervloek! (In die proses het God selfs ‘n pratende donkie gebruik!) God is almagtig! God is sterker as die Satan en sy handlangers. 



Hierdie geskiedenis jubel dit uit : God is getrou en almagtig; Hy beskerm en bewaar sy mense!


~ God is getrou aan sy beloftes. Hy het beloof Hy sal hulle na die land Kanaän lei, en Hy hou sy beloftes! Hoekom? Numeri 23:19 -“ God is nie ’n mens dat Hy sou lieg nie.”

~ God is almagtig- Hy beskerm sy volk teen bose magte! Dit word so pragtig gestel in Numeri 23:23 “Geen toordery rig iets uit teen Jakob nie, geen waarsêery iets teen Israel nie.” Dis presies wat die NT ook vir ons leer- Jesus sê vir sy skape wat na sy stem luister :”Niemand kan julle uit my hand ruk nie!” (Johannes 10:28) Dis ’n heerlike vertroosting. So dikwels leef party Christene in vrees vir geheime organisasies, Sataniste, vloeke en wie weet wat alles! Die groot gevaar is eerder dat ons aandag afgelei word deur allerhande grillerige stories van die werklike bedreiging. Wat is die werklike bedreiging wat ons elkeen bedreig?

VERLEIDING TOT KOMPROMIE

Jy sien Satan gee nie so maklik moed op nie. As sy vloeke  en towerspreuke nie werk nie, maak hy ’n ander plan. Wat is dit? Wat is die werklike gevaar vir die kind van God? Die werklike bedreiging is die taktiek van Bileam : Kompromie met sonde deur oënskynlik onskuldige pret en plesier! Bileam se vloeke kon niks teen Israel uitrig nie, maar op ’n ander manier het hy Israel geweldig skade berokken. Hoe? Hy het aan die Moabiete die raad gegee* om die Israeliete na hulle feeste te nooi. (Moses verwys hierna in Numeri 31:16 as hy verklaar : “en deur toedoen van Bileam was juis húlle (die Moabitiese vroue) die oorsaak dat die Israeliete by Peor ontrou was aan die Here en daar ‘n ramp oor die volk van die Here gekom het!” Vergelyk met Numeri 25:1-4**) En wat gebeur? Israel val daarvoor, hulle val in die strik van afgodery en seksuele sonde. Hulle sondig en God self rig toe verwoesting onder hulle aan. God bring ’n ramp oor die Israeliete en 24 000 sterf! (Numeri 25:9) 

Baie belangrik om dit raak te sien : Die Satan kon nie deur ’n bose towenaar skade aanrig nie, maar toe Israel kompromie maak met sonde, toe word God self hulle vyand en hulle word swaar gestraf! Let wel – God, nie die duiwel nie, maak sy volk dood!

VERMAAK EN FEESTE

Die grootste bedreiging vir God se kinders is nie vloeke nie, nie openlike vervolginge of geweld, dreigemente van Sataniste, geheime organisasies, hekse of towenaars nie, maar kompromie met sonde! Dis die taktiek van Bileam - subtiele kompromie. Hoe gebeur dit? Die wêreld nooi ons na hulle vermaak, feeste en karnavalle uit! Die wêreld dreig ons nie en sê julle mag nie Bybel lees of kerk toe gaan of bid nie. (So ’n taktiek sou nie werk nie) Nee, die wêreld nooi ons uit – “Kom deel in ons onskuldige pret! Ag, kom kyk maar na ons TV sepies waar wellus en losbandigheid en gierigheid verheerlik word, kom hou saam partytjie waar ons saam dronk kan word, kom deel in ons plesiertjies, kom JOOL en karnaval saam, dis mos vir ‘n goeie doel”- maar dis juis dan wanneer ons in dronkenskap, losbandigheid en allerhande ander sonde verval. Ook Dawid het al die gevaar van die goddelose se feeste ingesien : “Hou my gedagtes weg van verkeerde dinge, dat ek nie in sonde verval saam met manne wat onreg doen nie, en dat ek nie deelneem aan hulle feeste nie.” (Psalm 141:4) 

Hierdie taktiek, die taktiek van Bileam naamlik kompromie met losbandigheid was ook in die Nuwe Testament ’n bedreiging. Die gemeente van Pergamum word hieroor voor stok gekry in Openbaring. “Maar Ek het ‘n paar dinge teen julle. Julle het mense daar wat die leer van Bileam aanhang. Hy het vir Balak geleer om die volk Israel van My afvallig te maak, sodat hulle afgodsoffervleis geëet en onsedelikheid bedrywe het.” Sien Openbaring 2:14 (Hier kry ons dus ‘n duidelike verwysing na die tragiese gebeure in Numeri) Destyds kon die bywoning van heidense feeste baie maklik lei tot kompromie met onsedelikheid en afgodery. Daar was byvoorbeeld aan die begin van die Lente ’n drie dae lange Dionisiusfees wat met ’n hewige gedrinkery en onsedelikheid gepaardgegaan het! Klink bekend!?

God duld nie kompromie met sonde nie. Daarom waarsku Hy die gemeente van Pergamum om hulle te bekeer! As hulle hulle nie sou bekeer nie, sal Hy hulle self bestry met die swaard van sy mond! (Openbaring 2:16) Kan jy sien, net soos destyds tydens die woestyntog, word God sy eie mense se vyand as hulle kompromieë met sonde maak. 

Die taktiek van Bileam is vandag nog steeds die grootste bedreiging vir die kerk van Jesus. Die werklike gevaar vir die kind van God is nie Sataniste of kommuniste nie, nie die ANC, ISIS en Islam nie, nee dis kompromie met sonde. Hoekom? Kompromie met sonde bring God se oordele oor sy eie mense, sy eie kerk! (In ons dag het dit al so ver gegaan, sommige van hierdie feeste word deur die kerk self gereël. Kliek op ARRESTEER JESUS )

Wees dus waaksaam! Wees versigtig vir die feeste, flieks en karnavalle van die wêreld. Moenie naïef wees nie! Waak en bid! Vlug weg van alle kwaad (2 Timoteus 2:22) en dien die Here met ’n heilige lewenswandel saam met ander kinders van God wat Hom ook in heiligheid dien. Dan het ons niks te vrees nie!

TROOS EN WAARSKUWING

Die geskiedenis van Bileam bring groot vertroosting, maar ook ’n dringende waarskuwing :

~ Vertroosting : Moenie beangs raak oor Satan nie - geweld van bose magte kan Satan nie God se kinders van hulle verlossing beroof nie!!

~ Waarskuwing : Moenie God uittart deur kompromie met sonde nie. Dit bring sy oordele oor ons. Wees versigtig vir die feeste van die wêreld! 

Kind van God vlug van alle sonde en glo dan die heerlike waarheid van Judas vers 24,25 wat sê :

Aan Hom wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle onbevlek en met vreugde sy heerlikheid te laat aanskou, aan die enigste God, ons Verlosser deur Jesus Christus ons Here, aan Hom behoort die heerlikheid en die majesteit, die krag en die mag, van alle ewigheid af, ook nou en tot in alle ewigheid! Amen.”

NASKRIF : En terloops, moet asseblief nie so liggelowig wees nie, alle feeste en funksies wat met SKRIFLESING EN GEBED geopen word is nie noodwendig Christelik nie, gaan kyk maar wat gebeur by die biertent en die dans kort darna...Kliek op BYGELOOF



* Du Rand, Die A-Z van Openbaring, p174

**NUMERI 25:1-4

“Terwyl Israel in Sittim was, het van die Israelitiese mans met Moabitiese vrouens gemeenskap gehad.

Dit het gebeur toe die mans deur die Moabitiese vrouens uitgenooi is na die offers ter ere van hulle gode. Die mans het aan die offermaaltye deelgeneem en die gode van die vrouens aanbid.

So het die Israeliete vir Baäl-Peor aangehang. Die toorn van die Here het teen Israel ontvlam en Hy het vir Moses gesê: "Vat hierdie manne se leiers en hang hulle in die openbaar voor die heiligdom op. Dan sal my toorn nie langer teen Israel woed nie."

Vrydag, 05 Augustus 2016

FEITE OOR DIE LIEFDE

van God. 



God is liefde! Almal weet dit. Dit staan geskrywe op baie kansels en ook “bumper stickers”. Maar as dit kom by God se liefde vir my persoonlik, is daar baie vrae en verkeerde opvattings. Baie verterende vrese en vertwyfelinge. En o, soveel ondankbaarheid! Glo ek regtig in God se liefde? Hoe weet ek dat God my persoonlik liefhet? Kan ek steeds seker wees dat God my liefhet as dinge sleg gaan – in tye van nood, van siekte, van verlies van geliefdes... wat het dán geword van God se liefde? Kom ons kyk net eenvoudig wat sê die Woord oor God se liefde...

GOD SE LIEFDE KAN NIE VERDIEN WORD NIE, DIS REEDS VOLLEDIG AAN DIE KRUIS BEWYS. 

Paulus skryf vir mense wat deur geloof in Jesus vrede gevind het by God (Rom 5:1) en hy herinner hulle aan die groot liefde van God. (Rom 5:8) “Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.” Die kruis is die vaste feit van God se liefde! Stop om die liefde van God te probeer verdien. As jy aan Jesus behoort, weet dat God nie nog liewer vir jou kan word as wat Hy reeds is nie! God se liefde vir jou kan nie groter of meer word nie. Daar bestaan geen groter liefde as dat mens jou lewe vir iemand gee nie en dis presies wat Jesus vir jou gedoen het! “Hiérin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes." (1 Joh 4:9,10) Jesus sê in Joh 17:23 dat die Vader ons net so liefhet soos wat Hy sy Seun Jesus liefhet... onbegryplik heerlik! Hoe dink jy oor God se liefde? Wat ons oor sy liefde dink is baie bepalend of ek bloot godsdienstig is en of ek waarlik Christen is...

Godsdienstigheid is ‘n reeks uitputtende pogings en pligvervullings om God se liefde (en aanvaarding) te probeer verdien; Christenskap is ‘n opofferende dankbaarheidslewe omdat ek besef het God het reeds oneindige liefde aan my bewys!



DIE LIEFDE VAN GOD MOET LEER KEN EN GEGLO WORD.

Nie alle mense beleef bewustelik God se liefde nie. Eers as ek God se Woord oor sy Seun glo en as ek Jesus as my Here aanvaar, word die liefde van God ‘n realistiese ervaringswerklikheid in my lewe. Romeine 5:5 sê: “God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.” Dink aan emmers vol liefde, sluise wat oopgetrek word in jou siel...Dis ‘n bonatuurlike wonderwerk. Wdergeboorte!  Dan beleef ek die praktiese verskil wat God se liefde maak. Dan is dit nie meer net mooi praatjies en teorie nie. Dit maak ‘n verskil aan hoe ek die lewe en die dood sien. Hoe meer ek hierdie liefde leer ken en daarop reageer, hoe meer verdwyn my vrees! “En ons ken die liefde wat God vir ons het, en ons glo daarin. God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom. Hiérin het die liefde sy doel volkome met ons bereik: ons het niks te vrees vir die oordeelsdag nie, want in hierdie wêreld lewe ons reeds deur die liefde net soos Jesus. Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie. (1 Joh 4 :16-18)

ONS KAN GOD SE LIEFDE NIE VERDIEN NIE, MAAR WEL DAAROP REAGEER!

God se liefde vir sy kinders is ‘n vaste feit. Wat staan ons te doen as ons dit glo? Ons moet dankbaar wees, bly wees, liefde aan mekaar bewys, heilig wees! “Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook. En die wêreld ken ons nie, omdat dit Hom nie ken nie.
Geliefdes, ons is nou reeds kinders van God. Dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie, maar ons weet dat, wanneer Jesus kom, ons soos Hy sal wees. Ons sal Hom sien soos Hy werklik is.
Elkeen wat hierdie verwagting in verband met Hom koester, hou homself rein soos Jesus rein is.” (1 Joh 3:1-3) Ons word gemotiveer deur liefde en nie deur vrees nie. Waarom bid jy, waarom kom jy kerk toe, waarom gee jy dankoffers, is jy by die katkisasieklas? Is dit ‘n geval van, “Ag, ek moet nou seker maar weer ‘n slag kerk toe kom, want netnou hou die Here nie meer van my nie” of “O, ek wil Hom aanbid wat sy lewe vir my gegee het en my vir ewig verlos het van satan, sonde, dood, en hel” Weereens - As ek God se kind geword het, kan Hy my nie meer liefhet as wat Hy my reeds het nie. Ek kan en moet Hom wel meer liefhê! Hoe wys ons dat God se liefde vir ons ‘n werklikheid geword het, hoe wys ons dankbaarheid? Ons maak erns met Jesus se opdragte. (Joh 14:5) Sy opdragte gaan veral daaroor dat ons wederliefde en vergifnis aan ander sal gee. “Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes. Geliefdes, as dit is hoe God sy liefde aan ons bewys het, behoort ons mekaar ook lief te hê. (1 Joh 4:10,11) Die gebrek aan dankbaarheid, toewyding of aan vergifnis aan ander is dalk ‘n duidelike bewys dat jy tot op hede God se liefde en vergifnis verwerp het. Glo jy regtig persoonlik aan die gekruisigde Jesus as die hoogtepunt van God se liefde vir jouself? Toets jouself! Is jy regtig dankbaar as dit vir jou ‘n stryd is om kerk toe te kom, as jy skaam is om oor Jesus te praat, as jy te lui is om te bid, as jy doelbewus met ‘n onsedelike verhouding voortgaan...?

AS GOD TUGTIGING EN TOETSE OOR MY PAD BRING BETEKEN DIT NIE HY HET MY NOU MINDER LIEF NIE. 

Enige goeie pa dissiplineer en tugtig sy kinders. As jy waarlik ‘n kind van God is sal jy dit ook beleef. Dis nie lekker nie, maar dis nodig. MOEILIKE TYE beteken nie God is nou minder lief vir my nie. Inteendeel dit wys juis God se liefde vir jou, self ook as jy afgedwaal het skryf Hy jou nie af nie, maar lei Hy jou deur tugtiging terug na Hom. 

“Julle het ook vergeet van die aanmoediging wat tot julle as kinders van God gerig word: "My kind, moet dit nie gering ag as die Here jou tug nie en moenie mismoedig word as Hy jou teregwys nie, want die Here tug hom wat Hy liefhet, Hy straf elkeen wat Hy as kind aanneem."
Verdra die tug as opvoeding, want God behandel julle as sy kinders. Is daar miskien ‘n kind wat nie deur sy vader getug word nie?
As julle nie getug word soos al die ander nie, dan is julle nie werklik sy kinders nie.
Verder, ons het ons aardse vaders gehad wat ons getug het, en ons het vir hulle eerbied gehad. Sal ons ons nie nog des te meer aan die hemelse Vader onderwerp en lewe nie?
Ons vaders het ons wel ‘n kort tydjie na hulle goeddunke getug, maar Hy tug ons tot ons beswil sodat ons in sy heiligheid mag deel.
Wanneer ons getug word, lyk die tug op daardie oomblik nie na iets om oor bly te wees nie, maar om oor te huil. Later lewer dit egter vir dié wat daardeur gevorm is, ‘n goeie vrug: vrede omdat hulle gehoorsaam is aan die wil van God.”
(Hebr 12:5-11)

DIE LIEFDE VAN GOD VIR SY KINDERS IS ONVERGANKLIK. 

God se liefde kan nie vergaan of ophou of opraak nie. Dit verloor nooit sy glans nie! Niks kan ons skei van God se liefde nie. Geen mens, mag of omstandigheid kan God se liefde wat aan die kruis bewys is van ons wegvat nie. “Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? Daar staan immers geskrywe: "Dit is oor U dat die dood ons dag vir dag bedreig, dat ons soos slagskape behandel word." Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.” (Rom 8:35-39) Daar is seker geen kragtiger stelling in die Bybel as hierdie uitspraak van Paulus nie! Dit was vir hom ‘n praktiese werklikheid en nie net mooi praatjies nie. Toe Paulus en Silas stukkend geslaan was, hulle voete vas in ‘n blok in ‘n tronk in Filippi het hulle hierdie liefde so oorweldigend groot beleef dat hulle kon uitbars in lofsang!

Die liefde van God maak ons hiperoorwinnaars BINNE slegte omstandighede! 

Maak tyd om die liefde van God te oordink en begin Hom dank.... Wys met jou lewe dat jy glo in die liefde van God, die liefde soos bewys by die kruis!




Woensdag, 03 Augustus 2016

Clinton of Trump - Amerikaanse dilemma

- stem jy vir ‘n leuenaar of swendelaar?



Verbysterend! Hoe kon die wêreld se grootste demokrasie en magtigste moondheid in so ‘n penarie beland? Kon daar in die grote Amerika geen beter kandidate gevind word nie? ‘n Morele dilemma van tussen die duiwel en die diep blou see. In die Amerikaanse presidentsverkiesing in November gaan kiesers moet besluit tussen Hillary Clinton (wat openlik gelieg het oor haar geklassifiseerde e-posse) en Donald Trump (‘n onbeskofte grootbek swendelaar) 


Uit ‘n Christelike oogpunt is die ontstellendste aspek dat Donald Trump deur baie sogenaamde evangeliese Christene gesteun word. So het Liberty University se president Jerry Falwell Jr vir Trump opgehemel as “one of the greatest visionaries of our time” en ‘n wonderlike Christen broeder “who reminds me of my dad.” Hoe moet dit verklaar word? En wat sê dit van die integriteit en teologie van die Amerikaanse evangeliese Christendom? Wat gaan die gevolge wees?

Die evangeliese Christene vorm ‘n belangrike kiesersblok binne die Republikeinse party in Amerika. Trump wat ‘n meester is in flikflooiery, manteldraaiery em manipulasie het baie van hulle maklik aan die hoek gekry. Trump self is egter op geen manier naastenby ‘n evangeliese Christen nie. Om die waarheid te sê, hy is nie eers ‘n gereelde nominale kerkganger nie. Daar is slegs ‘n baie dun lagie Christelike vernis om sy verwronge siel. Michael Horton ‘n gesaghebbende Gereformeerde teoloog vir wie ek baie respek het, sê die volgende oor Trump se kerklike verbintenis : “Let me suggest that the slender thread connecting Trump to the church is his occasional holiday appearances at Marble Collegiate Church, made famous by its pastor for 52 years, Norman Vincent Peale. Blending pop-psychology and spirituality, Peale’s The Power of Positive Thinking (1952) remained on The New York Times bestsellers list for 186 weeks. Nicknamed “God’s Salesman,” Peale was criticized for trivializing Christianity. Reinhold Niebuhr said that he “corrupts the gospel,” and that he helps people “feel good, while they are evading the real issues of life.”

Daar het jy dit! Daarom is dit ook nie snaaks nie dat een van die hedendaagse verkondigers van ‘n goedkoop goedvoel valse evangelie, Joel Osteen vir Trump “a friend of our ministry” en “a good man.” noem. Tipies Trump het hy weer getweet : “Being associated with Joel is my great honor—he’s a fantastic man!”

Een rede waarom baie “evangelicals” waarskynlik maar hulle ore toedruk en vir Trump aanhang is die toenemende gevoel dat konserwatiewes besig is om die sogenaamde “kulturele oorlog” in Amerika te verloor. Dit het onteenseglik duidelik geword met die Hoogeregshofbesluit ten gunste van gay huwelike. Nou is baie mense op soek na ‘n sterk persoon wat leiding kan neem en hulle dink (verkeerdelik) dat Trump met sy groot mond so ‘n persoon is. Trump self is hoegenaamd nie bekend vir konserwatiewe morele waardes nie! Die werklike rede waarom die evangeliese groep so maklik mislei word is die hartseer feit dat die evangelie boodskap nou al vir jare lank vervlak word tot ‘n soort van ‘n gebruikers Christenskap. Dit leer : Jesus moet my help om ryk, mooi, gesond en suksesvol te wees! Daarom kry jy iets soos skoonheidskoninginne wat daarop aanspraak maak dat hulle Christene is! Hierdie valse evangelie het die massas so verblind, dat selfs toe Trump verklaar het dat hy nog nooit nodig gehad het om God om vergifnis te vra nie, baie van die sogenaamde “evangelicals” nog steeds nie lont geruik het nie! Dit terwyl vergifnis die kernwaarheid in die Bybelse boodskap van verlossing is.

Dit lyk nie op hierdie stadium of Trump meer ‘n kans het om die presidentsverkiesing te wen nie. Hy het doodeenvoudig net te ver gegaan in sy bitsige beledigings en wilde bewerings. Daar is al hoe meer vrae rondom basiese bevoegdheid en geskiktheid vir 'n posisie wat soveel verantwoordelikheid vereis... Soveel so dat leidende Republikeine aangekondig het dat hulle eerder vir die ongewilde Hillary gaan stem. Die grootste tragedie gaan egter nie wees dat Trump die presidentskap op ‘n skinkbord aan die liberale Clinton gaan besorg nie. Die hartseerste gevolg van hierdie blinde ondersteuning vir Trump gaan wees dat die wêreld vir jare nog die “evangelicals” met Trump en sy bende gaan assosieer. Dit is ‘n groot skade en klad op die Naam van ons Here Jesus Christus. Hoe meer Christene hulle dus nou reeds duidelik van Trump distansieer hoe beter... Meer nog, laat ons sonder vrees getuig van die ware evangelie van Jesus, die krag van God waardeur sondaars gered en vernuwe word!

En die verkiesing? Gelukkig hoef en wil ek nie in die VSA stem nie... Hierdie moreel korrupte nasie sal die president kry wat hulle verdien...

Donderdag, 28 Julie 2016

HALFPAD HELP NIKS!

- bekommerd wees is nog nie veilig wees nie.

In Genesis 19 kry ons ‘n dramatiese reddingsverhaal. Redding teen die agtergrond van oordeel en verwoesting. Nogal ‘n spannende en aksiebelaaide reddingspoging. En weer gaan dit oor geloof. Geloof wat lei tot bekering en gehoorsaamheid.

Lot woon in Sodom. Dis ‘n probleem, want God het vas besluit om die goddelose Sodom en Gomorra met vuur te verdelg. Maar nou kom God in sy groot genade na Lot en sy familie en waarsku hulle oor die komende oordeel. (terloops dit was ‘n verhoring van Abram se vurige voorbidding. Vgl. Gen 18) Die boodskap van die engele is nie ‘n lekker boodskap nie, maar dis ‘n boodskap van redding en hoop. Om gered te word sou Lot en sy familie al hulle vriende en besittings moes agterlaat en vlug vir hulle lewe! Die opdrag was duidelik – vers 12! "Wie van jou mense is nog hier? Skoonseuns of seuns of dogters of wie jy ook al in die stad het, vat hulle uit die plek uit!”

God bied uitkoms, ‘n reddingsplan om die oordeel vry te spring, maar dit moes geglo en gehoorsaam word!

Die keuse was voor Lot en sy familie (insluitende sy skoonseuns) is om die boodskap te glo of nie. As hulle dit geglo het, sou hulle moes reageer in gehoorsaamheid en vlug. Lot se skoonseuns het hulle glad nie aan die boodskap gesteur nie. Vers 14. “Lot het toe vir sy aanstaande skoonseuns gaan sê: "Kom uit hierdie plek uit, want die Here gaan hierdie stad verdelg," maar hulle het gedink Lot maak ‘n grap.”Aan Lot en sy mense word die erns word weereens beklemtoon : “Vlug vir jou lewe!” Vers 17. Duidelik word dit beklemtoon – “moenie omkyk nie” Lot en sy vrou en digters vlug, maar helaas almal is nie gered nie. Lot se vrou kyk om... So naby , maar tog so ver... Vers 26 “Lot se vrou het omgekyk en sy het in ‘n soutpilaar verander.”

Sy word ‘n simbool van diegene wat die evangelie net halfpad aanvaar. En halfpad help niks. Dis tipies van mense wat net tydelike verbygaande geestelike indrukke het. Hulle woon miskien ‘n kamp by en die boodskappe tref hulle. Hulle raak bekommerd en bid saam met iemand, maar hulle kom nooit regtig by Jesus uit nie. Dis miskien iemand wat deur ‘n groot gesondheids of finansiële krisis gaan. Hy besef net die Here kan my help. Hy bid en kry verligting, maar daar is nooit ware bekering nie. As die krisis verby is, gaan hy weer aan met sy ou lewe. Dis ‘n jongmens in die finale jaar katkisasie klas wat ywerig sê : “Ja, ek wil ook die Here volg”, miskien onder druk van sy maats of ouers, maar gou-gou kom mens agter dit was net ‘n halfhartige besluit... Dit was halfpad en dit lei tot niks...

Hierdie verhaal illustreer die drie verskillende houdings wat mense het teenoor die dreigende oordeel van die hel, sowel as die heerlike genade aanbod van God. Daar is diegene wat die evangelie heeltemal verwerp en totaal ongevoelig is. (Lot se skoonseuns) Dan is daar diegene wat die evangelie aanvaar en dit lei tot bekering. (Lot en sy dogters) Maar daar is ook ‘n tragiese middelgroep, wat lyk asof hulle bekommerd is oor hulle geestelike lewe, wat lyk asof hulle wil glo, maar al hulle geestelike indrukke en belewenisse is maar net tydelik van aard. Hulle kom nooit tot redding nie. (Lot se vrou)

Die drie houdings van die mens teenoor die dreigende oordeel en die reddingsevangelie kan verduidelik word met die prentjie van ‘n man in ‘n lekkende boot wat besig is om te sink... Kry vir jou drie prentjies in jou kop:

In die eerste prentjie is ‘n man wat slaap. Die water stroom deur ‘n groot gat in die bodem en die boot is besig om te sink. Hy is onbewus van die dreigende gevaar en snork rustig voort, sonder enige vrees of bekommernis. So baie mense bevind hulleself in hierdie posisie. Hulle verkeer in ‘n diep geestelike slaap. Hulle is glad nie besorg oor hulle ewige toekoms nie, nee wat als is reg, ons is mos goeie mense, kerkmense...

In die tweede prentjie word die man in die lekkende bootjie wakker. Met ‘n skok besef hy dat hy besig is om te sink en ‘n wrede verdrinkingsdood in die gesig staar. Hy is benoud en beangs, Hy skreeu en roep om hulp. Desperaat probeer hy ‘n plan maak en water uit die boot skep... In ‘n sekere sin is hierdie man in ‘n beter posisie as in die vorige prentjie. Hy het wakker geword, hy besef sy gevaarlike posisie... maar hy is nog nie veilig nie. Hy is nog nie gered nie. Sy eie pogings,hoe goed ook al bedoel kan hom ook nie red nie... Daar is ‘n groep mense wat geestelik gesproke in dieselfde posisie verkeer Hulle het geestelik ontwaak, hulle raak bewus van hulle sonde, bewus van ‘n ewige oordeel, hulle is soekend na antwoorde, hulle begin meer gereeld kerk toe kom en Bybel lees, krampagtig probeer hulle verbeterings aanbring aan hulleself (water uitskep) maar hulle is nog nie gered nie. Die groot gevaar is dat hulle kan vrede maak met hulle gevaarlike posisie. Dit gebeur dikwels dat mense vir ‘n tyd bekommerd raak en na die Here soek, maar algaande skud hulle die bekommernis af en gaan maar voort met hul ou lewe totdat dit vir ewig te laat is.


Die derde prentjie is goeie nuus. Die beangste man in die sinkende boot het ‘n reddingsgordel gevind en dit aangetrek Hy is nou veilig! Jesus is die enigste reddingsgordel wat ons kan red van die waters en vloede van God se oordeel. Jesus red ons van die wraak en toorn van God. “Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. Aangesien ons nou vrygespreek is op grond van sy versoeningsdood, staan dit soveel vaster dat ons deur Hom ook van die straf van God gered sal word.” (Rom 5:8,9)
Is jy al veilig? Is Jesus deur die geloof al jou reddingsgordel? As jy nog net bekommerd is, is jy nog nie veilig nie! 

God het dit baie duidelik gemaak dat Hy weer hierdie goddelose wêreld gaan oordeel en verdelg. Anders gesê : Die verwoesting van Sodom en Gomorra is maar net ‘n voorsmaak van die eintlike oordeel wat op pad is. Hierdie aarde gaan verwoes word en al die goddeloses sal saam met die duiwel en sy engele in die poel van vuur gewerp word. Maar soos in die tyd van Lot is daar die goeie nuus, die evangelie van verlossing! 


Die evangelie van Jesus, sy offer aan die kruis sy opstanding! Glo jy hierdie boodskap en het jou geloof al tot ware en voortdurende bekering gelei? Is jy veilig by Jesus of het jy net met ‘n halwe hart geglo soos Lot se vrou? 

Halfpad help niks! Jy is eers veilig as jy by Jesus skuiling gevind het! Jy is eers veilig met die REDDINGSGORDEL aan!