Bekommernisse beroof, bedreig, belemmer... Ja bekommernisse
beroof jou van vreugde, bedreig jou gesondheid, en die ergste... Bekommernisse belemmer
jou ingang in die koninkryk van God.Ja, inderdaad kan dit jou uit die ewige
saligheid hou. In Lukas se weergawe van die GELYKENIS VAN
SAAIER noem Jesus drie soorte onkruid wat keer dat
die saad van die Woord vrug dra – bekommernisse, rykdom en plesiere. (Lukas
8:14) So bekommernisse is nie maar sommer net ‘n by sakie waaroor ons maar kan
spot nie...
Jesus hanteer die kwessie van bekommernisse in detail
in MATTEUS 6:19-33
(lees dit gerus in geheel deur om die hele vloei van Jesus se boodskap
te begryp)
Wat is bekommernisse?
Dis die
dinge wat veroorsaak dat angstigheid, vrees en paniek ons beetpak. ‘n Pynigende gevreet aan jou
binneste veral oor die toekoms. Dis mos juis toekoms vrese wat ons laat rondrol
en laat wakker lê. Wat ons aandag van God en sy koninkryk aftrek en ons fokus verskuif
na onsself. Net eers ‘n bietjie duidelikheid – wat hier ter sprake is nie die
normale besorgdheid en verantwoordelikheidsin wat normale menslike beplanning
en optrede voorafgaan nie. Om op ‘n nugter wyse te besef ek skryf oor ‘n week ‘n
wiskunde toets en te besef dis noodsaaklik dat ek betyds hard daarvoor begin
leer, is nie ‘n sondige bekommernis nie. Anders gestel, vry wees van
bekommernisse beteken nie traak-my-nie-agtigheid, luiheid en passiwiteit nie. Kommerlose
vertroue in God beteken tog nie ek sit
op die stoep en wag dat brood uit die hemel val nie. Jesus sê die Vader sorg vir die voëls, maar
natuurlik is hierdie einste voëls kliphard op soek na hulle saad en wurmpies...
Bekommernisse is daardie abnormale vrese en gedagtes wat veroorsaak dat jy nie
met vreugde as kind van God kan leef nie.
Bekommernisse is verkeerd!
Jesus sê STOP daarmee. Kyk na vers 25,31,34
“Daarom sê Ek vir julle, moet julle nie bekommer oor julle lewe,
oor wat julle sal eet, of oor wat julle sal drink, of oor julle liggaam, wat
julle sal aantrek nie. Is die lewe dan nie belangriker as kos en die liggaam as
klere nie?”
““Moet julle daarom nie bekommer en vra, ‘Wat sal
ons eet?’ of ‘Wat sal ons drink?’ of ‘Wat sal ons aantrek?’ nie.”
“Moet julle dus nie bekommer oor die dag van môre nie, want môre
sal hom oor homself bekommer. Elke dag het genoeg van sy eie kwaad.”
Stop met bekommernisse - dis verkeerd, dis wantroue in God se Vaderskap én dis boonop nuttelose dwaasheid.
“Wie van julle kan deur hom te
bekommer, een el by sy lewe voeg?” (27) Dit bring
my nêrens! Jy baat niks by al jou bekommernisse nie. Bekommerd wees is ‘n vermorsing van kosbare tyd en energie. Dis
‘n slegte advertensie vir Jesus en ‘n klad op die wese van Christenskap.
OORSAKE VAN VRETENDE BEKOMMERNISSE :
(Daar sou waarskynlik lank hieroor bespiegel kon word,
maar hier word net twee sake genoem wat duidelik uit Jesus se woorde na vore
kom.)
Verkeerde waardesisteem. Die
inleiding tot hierdie gedeelte is baie belangrik en vorm eintlik die basis van
als. “Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak nie, daar waar
mot en roes verniel, en waar diewe inbreek en steel.” (19) “..skatte op aarde…” Ons moet nou baie versigtig wees vir
verkeerde afleidings. Jesus verbied ons nie om te spaar of te werk nie. (Dis
juis dinge wat die Woord aanmoedig) Dit gaan nie oor ‘n spesifieke afsnypunt
van wat te veel geld of bates sou kon wees nie. (Rykdom is ‘n uiters relatiewe begrip...) Dit
gaan oor ‘n lewenshouding wat die hele lewe beoordeel
en evalueer i.t.v wat ek besit. Die siening dat hoe meer jy het, hoe meer suksesvol is jy... Dis opsigself nie verkeerd om ryk te wees nie,
maar dis beslis verkeerd en DWAAS om nie ryk te wees by God nie. (Vergelyk die gelykenis van die ryk dwaas in Lukas 12. Sy probleem was nie die vol skure opsigself nie, maar die feit dat hy God nie geken en gedien het nie.) Dit gaan oor ‘n verkeerde fokus – ‘n oog wat
verkeerd na die lewe kyk. Hierdie waardesisteem wat alles meet in terme van
aardse besit is onversoenbaar met 'n verhouding met die lewende God.
'n Fokus op geld, maak egte Christenskap onmoontlik!
Jesus leer duidelik : “Niemand kan twee base dien nie. Want
hy sal óf die een haat en die ander een liefhê, óf hy sal aan die een lojaal
wees en die ander een verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie.” (24!)
En die groot ironie- ‘n Verknegting , ‘n slaaf wees van Mammon lei
tot juis bekommernisse... ek meet my lewens waarde i.t.v besittings, ek moet
dus altyd kompeteer met ander... ek "stress" myself dood om net by te hou en om indruk te maak! Die groot siekte van “Keep up with the Jones...” “As hulle dit het moet ek dit ook kry...” Jy
kan nie daardie nuwe motor se paaiemente op die lange duur bekostig nie, maar
ek moet probeer byhou by my welaf vriende en so kweek ek vir myself
bekommernisse en bring myself in die moeilikheid! Ek meet my eie waarde en ander se waarde aan
sigbare dinge. Ek het ‘n valse definisie van sukses... As my lewe draai om
aardse bates gaan ek altyd in ‘n bekommerde toestand wees want hierdie goed wat
my kwansuis moet gelukkig maak, word oud, stukkend en soos ons almal al
agtergekom het, gesteel. Hierdie dinge waarop ek my lewensvreugde bou, word voortdurend
bedreig deur peste en slytasie, vandale en diewe. ‘n Gejaag na sigbare dinge is ‘n resep vir die
kweek van bekommernisse.
Kleingeloof. “As God die gras van die veld, wat
vandag daar staan en môre in 'n oond gegooi word, so klee, hoeveel te meer nie
vir julle nie, kleingelowiges?” Dis opvallend dat
Jesus die woord “kleingelowiges” in vers 30 gebruik. Nie “ongelowiges” nie. Hy
praat hier met sy dissipels – hulle glo immers in Hom. Die gevaar is dat ons as sy
dissipels ons geloof beperk. Ek beperk
my geloof tot my geestelike welsyn/redding, maar as dit by my gewone aardse
lewensbestaan kom, dan vertrou ek God nie regtig nie. Ek vertrou die Here om my
sonde te vergewe en my die ewige lewe te gee, maar as dit oor my daaglikse lewe
gaan, wantrou ek God se liefde of vermoë om vir my te sorg en my te beskerm. (Dis natuurlik direk in stryd met wat Jesus
geleer het in die Onse Vader gebed – sy dissipels mag juis bid vir alledaagse behoeftes
– daaglikse brood!) Hierdie beperkte onvolledige geloof en gebrekkige
vertroue is die oorsaak van ongetemde bekommernisse wat ons lewens opvreet.
Anders gestel – gewoonlik is bekommernisse ‘n simptoom van ‘n gebrekkige
ongesonde geloof! Ons mag nie maar vrede maak met ‘n gedurige bekommernis nie –
dis nie God se wil nie.
OPLOSSING : KRY SKATTE IN DIE
HEMEL!
Begin by die kern van die probleem. Verskuif jou fokus en pas jou prioriteite aan. Hoe? Maak
skatte in die hemel bymekaar! “Maar maak vir julle skatte in die
hemel bymekaar, daar waar mot en roes nie verniel nie, en waar diewe nie
inbreek en steel nie.” (20) Wat presies beteken
dit? “Maar soek eers
die koninkryk van God en sy •geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle
bygevoeg word.” (33) ‘n Fokus op God se koninkryk
en daarom ‘n bereidheid om volgens sy wil te leef. Kyk anders na die lewe. Ja
ons is nog steeds op aarde en moet eet, drink en aantrek – en God weet dit ook,
maar God se kinders het ‘n wyer visie as Elon Musk en Bill Gates – ons hart en
gedagtes moet oorheers word deur God en sy koninkryk. Ons prioriteite, belangstellings
en vreugdes sal verskil van die wêreld wat geld,
plesier, geluk en roem najaag.
Ons moet hierdie gedeelte verstaan in die hele
konteks van die
Bergrede. Die Bergrede leer ons dat ware geluk slegs gevind
word in die koninkryk van God. Om te weet ek behoort aan die koninkryk. Die
Bergrede onderstreep die radikale verskille tussen God se kinders (burgers van
sy koninkryk) en die mense wat hom nie ken nie. ‘n Lewe wat fokus op die
koninkryk is ‘n lewe in afhanklikheid van God en Jesus – ek is afhanklik van
Hom vir my geluk – nou en eendag, ek vertrou Hom vir al my behoeftes van siel
en liggaam! Kyk weer na die wonderlike belofte in vers 33. Wat is die kern van
God se wil? Om in Jesus te glo en sy opdragte te gehoorsaam. (Gaan lees die
hele BERGREDE en kyk wat beveel Jesus.) En as ek waarlik in Jesus glo is God
mos my eie Vader. Die Vader wat vir die voëls en die blomme sorg. Die Vader wat
nog soveel te meer vir sy kinders wat gewas is in die bloed van Jesus sal voed,
klee en bewaar. Ons word uitgedaag om God as Vader te vertrou. Hy is die
volmaakte Vader en Hy weet presies wat ons nodig het. “
Julle hemelse
Vader weet tog wat julle alles nodig het.” (32)
Nou wat moet ek doen as bekommernisse my skielik oorval?
(Dit gebeur mos met ons almal) Vertrou
die Vader! Maar presies hoe? Dis nie net
Jesus wat oor bekommernisse praat nie, Paulus doen dit ook en hy is baie
prakties. Filippense 4:6. "Moet oor niks bekommerd wees nie, maar maak in alles julle versoeke deur gebed en smeking met danksegging aan God bekend." Vertroue op my Vader beteken dat ek eerlik my hart
voor Hom sal uitstort! Dat ek my bekommernisse vir Hom sal gee en dat ek nie
sal vergeet om Hom as goeie Vader te dank nie. Onthou die danksegging! Dis ‘n baie belangrike praktiese
punt... anders gaan my gebede net my herinner aan al my bekommernisse en my
meer angstig en depressief maak.
Bekommernisse kom oor ons almal se pad. Kinders
van God mag net nie dat dit ons lewens oorheers nie. Ons moet daarteen kies.
Ons kies om anders na die wêreld te kyk, ons kies om ander waardes en vreugdes
te hê, ons kies om ons Hemelse Vader te vertrou op alle vlakke van die lewe.
As
jou lewensvisie en fokus is om aardse bates bymekaar te maak – het jy rede om
bekommerd te wees, baie bekommerd... Maar as God se koninkryk jou fokus is en
God se wil jou begeerte is - MAG JY NIE EN HOEF JY NIE BEKOMMERD WEES NIE, want
jy het ‘n hemelse Vader wat NOU en EENDAG volmaak vir jou sorg! Luister na die volledige BOODSKAP
Kliek ook op KAN GOD REGTIG SORG?